Voetesleep om pad oor te dra lei tot sterftes

‘n Bus het op sy sy beland op die Moloto-pad (13 November 2019) (Foto: Twitter)

ʼn Vertraging deur die Gautengse departement van vervoer om die Gautengse deel van die Molotopad oor te dra na die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) vir opgraderings, het bygedra tot die dodetal op dié gevaarlike pad.

Só sê Janho Engelbrecht, die DA se woordvoerder vir paaie en vervoer in Gauteng, ná ʼn ongeluk Woensdagoggend die lewens van twee mense geëis het. Minstens 39 persone is in die ongeluk beseer toe ʼn Putco-bus omstreeks 04:50 omgeslaan het. Die bestuurder van die bus het na bewering beheer verloor oor die bus voor dit omgeslaan het.

“As die Gautengse departement van paaie en vervoer nie voete geslaap het om ʼn besluit te neem oor opgraderings aan die pad nie, kon die ongeluk verhoed word,” het Engelbrecht gesê. “Die pad is gevaarlik, aangesien dit ʼn enkelbaanpad is en daar tans nie enige straatlige of duidelike padtekens is nie – insluitend ʼn gebrek aan spoedbeperkings.”

Engelbrecht het gesê sy party versoek LUR Jacob Mamabolo en sy departement al lankal om ʼn deel van die pad aan Sanral te oorhandig, maar hulle “weier volstrek” om dié oplossing te oorweeg.

“Die LUR het verlede maand eers onder die DA se druk geswig en aan die media gesê ʼn besluit sal voor 15 November 2019 aangekondig word. Dit is egter te laat, aangesien hul vertraging om ʼn besluit te neem, vordering in die opgraderings verhoed. As die ANC nie geweier het om die pad, vir watter rede ook al, te oorhandig nie, kon die opgraderingsproses al ver gevorder het, teen geen koste vir die Gautengse provinsie nie. Terwyl hulle voete sleep, sterf mense op hierdie pad.”

Mamabolo het intussen sy meegevoel betuig met die families en slagoffers van die noodlottige busongeluk. Hy wens alle beseerdes spoedige beterskap toe.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om bestuursvaardighede te verskerp, aangesien ons glo dat meeste ongelukke verhoed kan word as mense beter bestuur.”

Mamabolo het gesê hy sal ook met alle busmaatskappye in gesprek tree wat kontrakte by die departement het om gevorderdebestuursvaardighede ʼn noodsaaklike vaardigheid te maak vir alle bestuurders.

Hy het bygevoeg die administratiewe proses om ʼn deel van die Molotopad aan die nasionale departement van vervoer te oorhandig, afgehandel is. Die oorhandiging vind op 15 November 2019 plaas. “Dit beteken dat die pad as ʼn nasionale pad geklassifiseer sal word, soos aangekondig in Augustus 2019 en in Oktober 2019 bevestig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christa ·

Niks snaaks met voetesleep. Dis ANC kenmerk. Alles in die 20 Jaar het verswak. Paaie, diens, moord en doodslag. Weet nie wat goedso sover gedoen of gebeur het nie

Johnny ·

Beter bustuur flink dink wragtig waar is hul IK die pad is vol potholes so ons moet beter bestuur ek hoop in jare wat kom sal die een ook n nasionale GRAP kan wees

Boervrou ·

Hier by ons in mpumalanga is ook n pad met n lelike kruising.geen ordentlike tekens of strepe of self liggies op die pad vir in die aand nie.daar was nou maandag weer n ongeluk,waarin mense dood is,baie mense skiep die kruising,of die lorries kom van bo gejaag sonder om spoed te verminder.

SjN ·

Derde rangse wêreld status word aan 3 kriteria gemeet 1 Vervoer, 2 Gesondheidsorg,3 Opleiding, Als is in die afgrond gestuur, nie bestuur nie, kan dit nie indring nie!!

Gert ·

Da kan malik praat ,lyk of hulle Sanral gaan ondersteun om verbruiker nog meer te melk,be perk eeder Putco se busse se spoed want dit saam met daar knaap ager stuurwiel veroorsaak hierdie slagtings

Ronell ·

Dit is nie die pad nie, dit is die roekeloosheid van die bestuurders. Al word daar vir hulle n pad met tien bane van goud gebou sal die dodetal tydens botsings nie ophou nie.

lanie ·

Ons het in April 2019 met die Moloto pad gery. Dit is in n beter toestand as die paaie waar ons bly. Die bestuurders ry te vinnig en is onverskillig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.