Voormalige Eskom-raadsvoorsitter Jabu Mabuza sterf

Jabu Mabuza is Woensdagaand dood. Hy was 63 jaar oud. (Foto: Siphiwe Sibeko/ANA)

Die sakeman en voormalige voorsitter van Eskom se raad, Jabu Mabuza, is Woensdagaand, op Jeugdag, in die ouderdom van 63 dood. Volgens sy familie is hy dood weens Covid-19-verwante komplikasies.

In ʼn verklaring bestempel Mabuza se familie hom as ʼn “dapper stryder vir die politieke en ekonomiese vryheid van Suid-Afrika”.

Luidens die verklaring het Mabuza op 16 Junie 1976 by duisende ander swart jong mense aangesluit wat ʼn einde aan Bantoe-onderwys geëis het. Hy is geskors vir sy deelname aan ʼn betoging teen apartheid, maar het later wel sy skoolloopbaan voltooi.

“Op 63 het Jabu sy lewe so mooi en verbind tot die transformasie van Suid-Afrika se ekonomie geleef. Hy was ʼn steunpilaar vir sy familie, ʼn toegewyde dienaar van die land, ʼn aktivis vir die bemagtiging van swart entrepreneurs en verbind tot die transformasie van korporatiewe Suid-Afrika,” lui die verklaring.

Die familie het mense vir hul steun en gebede ná Mabuza se dood bedank en gevra vir privaatheid en ruimte om oor die dood van hul “geliefde man en pa te rou”.

In Januarie 2018 het pres. Cyril Ramaphosa vir Mabuza aangewys as voorsitter van die beleërde Eskom se raad. Twee jaar later het hy skielik uit dié pos bedank en om verskoning gevra vir Eskom se onvermoë om ʼn einde aan beurtkrag te help maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.