Voormalige krieketspeler gevonnis vir wedstrydknoeiery

Pumelela Matshikwe. (Foto: Facebook)

ʼn Voormalige Lions-bouler is verlede week in die Pretoriase handelshof gevonnis vir sy betrokkenheid by wedstrydknoeiery tydens die 2015‑’16‑ Ram Slam T20‑uitdaagtoernooi.

Pumelela Matshikwe (37) het Vrydag ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is ses jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is.

Matshikwe is deel van die groep krieketspelers wat destyds deur die Internasionale Krieketraad (IRK) vir tussen sewe en twaalf jaar verban is nadat dit aan die lig gekom het dat dié groep glo by wedstrydknoeiery betrokke was.

Hy is die tweede krieketspeler van die groep wat gevonnis is. ʼn Voormalige Proteas-, Lions- en Titans-speler, Gulam Bodi, was in Oktober 2019 die eerste speler in hierdie saak om skuldig bevind te word en is vyf jaar tronkstraf opgelê. Dit nadat hy erken het dat daar ʼn knoeiery met wedstryduitslae in die betrokke reeks was.

Bodi het as ʼn tussenganger vir internasionale weddery-sindikate opgetree en sekere spelers genader met die hoop om hulle te oorreed om aan wedstrydknoeiery deel te neem tydens die 2015‑’16‑  Ram Slam T20‑uitdaagtoernooi, wat deur Suid-Afrika aangebied is.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê Matshikwe is een van die spelers wat genader is om aan die korrupte bedrywighede deel te neem.

Nadat Krieket Suid-Afrika in 2016 ʼn klagte hieroor ingedien het, het die Valke ʼn ondersoek na die beweerde wedstrydknoeiery van stapel gestuur.

“Dit het aan die lig gekom dat Matshikwe altesaam R50 000 ontvang het in ʼn poging om hom te oorreed om aan wedstrydknoeiery tydens die genoemde reeks deel te neem,” sê Ramovha.

“Die ondersoek het bevind dat hy ʼn verdere $50 000 per wedstryd belowe is wat hom destyds ongeveer R700 000 per geleentheid sou besorg het.”

Matshikwe het egter nooit aan enige wedstrydknoeiery deelgeneem nie, buiten die R50 000 wat hy ontvang het om hom te betrek. Hy het erken dat hierdie geld aan hom oorbetaal is nadat die fluitjieblaser se inligting oor die sindikaat aan die lig gekom het.

Hy is vroeër vanjaar met ʼn dagvaarding beteken en hy is op 17 Februarie aangekla wat eindelik op sy skuldbevinding uitgeloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Ek dink dit is veilig om te sê dat ‘n speler wat op 37 vir 12 jaar geskors word, ook nie weer sal krieket speel nie.
Ek het géén simpatie vir Hansie Cronjé nie. Hy was in ‘n leiersposisie, en het dit misbruik om junior spelers , en spesifiek spelers van kleur, te manipuleer om deel van sy selfverrykings agenda te wees. Dit was laakbaar.
As jy wil vrae vrae oor spelers wat met moord weggekom het, kyk bietjie na Autralië en die ligte strawwe wat die tweeling boeties en die oorlede bybreek bouler gekry het..Hulle het bitter lig daarvan afgekom…..

Waarnemer ·

Baantjies vir boeties….Hansie was lewenslank geskors op die kruin van sy loopbaan….

Gerd Lourens ·

Dis in hierdie land baie moeilik om tronk toe te gaan.

Casper ·

Hoekom jy Bodi tronkstraf en our people ‘ n opgeskorte vonnis

Marcello ·

Ja, soos alles wat “Affrimative action ingdwing” word, val die SA Krieket ook uitmekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.