Vrae oor status van Sisulu se peperduur taakspan

Minister Lindiwe Sisulu. (Foto: GCIS)

Wat is die status van die peperduur snelreaksie-taakspan (NRRTT) wat die minister van water en sanitasie aangestel het?

Die DA het min. Lindiwe Sisulu nou 24 uur gegee om dié vraag te beantwoord, of hy gaan misdaadklagte vir die misbruik van staatshulpbronne teen haar aanhangig maak.

Emma Powell, die DA-woordvoerder oor water, sanitasie en menslike nedersettings, sê die taakspan van 19 lede bestaan uit minstens sewe mense wat aangestel is sonder dat hulle eens CV’s ingedien het. Talle van hulle het boonop noue politieke bande.

Powell sê nadat vrae aanvanklik hieroor gevra is, het Sisulu die lys van name onttrek.

“Dit het gevolglik duidelik geword dat die minister besig is om ʼn politieke oorlogskamer vir haarself saam te stel op die belastingbetalers se onkoste,” het Powell gesê.

Powell sê Sisulu het egter volgehou dat die aanstelling van die taakspan nodig is vir die departement om sy werk te doen. “Die DA se bewerings dat die taakspan van R13,9 miljoen inderwaarheid ʼn politieke veldtog was, wat onregmatig aangestel is as bykomend tot ministeriële personeeltoelae en op belastingbetalers se onkoste vergoed word, is uitdruklik deur Sisulu ontken en afgemaak as ‘onwaar en kwaadwillig’,” het Powell gesê.

(Foto: Twitter)

Sunday Times het in November berig die minister wou glo mense aanstel wat betrokke was by die LS2017-veldtog – Sisulu se poging twee jaar gelede om tot president van die ANC verkies te word. Diegene op die taakspan se jaarlikse salarisse wissel glo tussen R621 000 en R1,3 miljoen – hoewel daar nie vir die poste begroot is nie en dit glo ook nie geadverteer is nie.

Taakspanlede het ingesluit Thami ka Plaatjie, ʼn jare lange Sisulu-raadgewer, die voormalige Cope-streeksleier Mbulelo Ncedana en die voormalige ANC-LP Zolile Burns-Ncamashe.

Fluitjieblasers het voorts aangevoer die NRRTT het niks met die bedrywighede van die departement te doen nie, maar bestee sy tyd meestal aan besprekings van Sisulu se planne om ANC-adjunkpresident David Mabuza in 2022 by die party se verkiesingskonferensie te ontsetel, het die Sondagkoerant berig.

Powell sê die DA het die staatsdienskommissie (SDK) in Januarie gevra om ʼn ondersoek na die aanstellings by die NRRTT te doen en het ook ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien om antwoorde oor die aanstellingsproses te kry.

Die SDK het ʼn maand later gesê die ondersoek val nie binne sy mandaat nie en die klagte is na die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) verwys.

Powell sê verlede maand het Sisulu egter omgeswaai en in ʼn brief aan die taakspanlede gesê sy het nie voorsien dat die NRRTT die onderwerp van ondersoek deur die media en op politieke front sou word nie. Dit het volgens die minister onder haar aandag gekom dat sommige taakspanlede haar goeie naam in oneer wou bring. Sommige het glo deel van die span geword om hul eie sakebelange te bevorder of kitsrykdom na te jaag. Sisulu sê in die brief sy kon ook nie gereeld vorderingsverslae van die taakspan kry nie.

Sommige lede het glo ook die land vol gereis om namens Sisulu geld in te samel. In die brief skryf Sisulu sy het dus geen ander keuse as om die taakspan te ontbind nie. Sy het lede 48 uur gegee om dit waarmee hulle besig was af te handel.

“Verbasend genoeg het Sisulu se woordvoerder, McIntosh Polela, botweg ontken dat die taakspan ontbind is, ten spyte daarvan dat haar persoonlike handtekening op die brief was.”

Powell het gesê volgens Polela gaan die taakspan voort met sy werk en dat diegene wat betrokke is nie as groep in diens geneem is nie, maar op individuele grondslag. Sy meen Sisulu probeer die aandag nou aflei van die polities gedrewe aanstellings – op belastingbetalers se onkoste.

Die DA het die minister nou 24 uur gegee om die status van die taakspan uit te stippel, of strafregtelike aanklagte gaan volg vir die misbruik van staatshulpbronne en versuim om teen korrupsie op te tree.

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frederik ·

Kom ons raai, niks gaan gebeur nie en 4 jaar later bestaan die fop taakspan nogsteeds en eet die belastingbetalers se geld..

Francois ·

Nee ek stem nie saam. Oor 2 jaar is sy die land se nuwe president

JohanR ·

Het die een met die pruik al weer opgemors! Sy behoort President te word….

Willem ·

Doen net wat sy wil . Solank sy mooi lyk rooi naels en pruik met rooi lippe

Termiet ·

Die een is ‘n Baie groot rasis. Haar taakspan het niks met water en sanitasi te doen nie. Hulle was gekeur vir’ n ander agenda.

Boortor ·

Hierdie vrou is soooo skelm sy is eintlik deurskynend!! Net soos pappalief!

Niklaas ·

Hier gaan ons alweer. Daai klas ding , nepotisme of baantjies vir boeties , sal vir ewig met ons wees . is daar nie personeel , wat uitgawe begrotings moet uitwerk vir haar departement nie , of moet hul maar net swyg ? Afdankings is natuurlik altyd die groot werklikheid by hierdie owerheid van ons vir diegene wat kapsie maak terwyl hy daar werk.

Porseleintjie ·

13.9 Miljoen. Is dit deel van die geld wat ons agte president gaan leen het vir SA of gaan daar weer iewers geleen word om hierdie salarisse te dek?
Duisende mense is tans werkloos en poog om net n skamele ete per dag te hê. Ander sterf vd honger. Hoe is hierdie salarisse dan moontlik? As my sommetjie reg is werk dit ongeveer R380000.00 per persoon per maand uit. Laat my dink aan n koningby…. Hierdie vergrype moet stopgesit word.

Anel ·

Korupsie, korupsie, korupsie. En verder skree dit komunisme, komunisme, komunisme!!!!

Sarel ·

Haar naam is ” Sisulu” en daarom word sy ten alle koste beskerm.

Yolandie ·

Soos die ministers geld spandeer is daar beslis nie ‘n wereld krises aan die gang nie…..o nee. SA rol mos in dié geld. Skaamtelose verknorsing van belasting betalers se geld en hulle blik of bloos nie. Ek glo soos met alle dinge in dié lewe draai die wiel…..sadig maar seker……maar hy draai. Dit gaan ‘n geween en kners van tande wees want wat jy saai sal jy maai.

Miggies ·

Julle hulle het almal albei hulle hande in die staatskas se koffers, misbruik alle mag en geleenthede om ons land te verarm. Solank as wat die ANC gaan regeer gaan ons land se skuldlas net nog groei.

Eerlik ·

Ons maatskappy probeer nou alles om kostes te sny in hierdie tyd. Die staat het n bodemlose pit van inkomste soos wat dit vir my lyk maar gaan vra lenings by ander lande! Dis tyd dat ons belasting hersien word want daar is duidelik teveel om te mors. En ja, sy is n groot rassis wat slegs in n posisie sit agv haar “van”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.