Vrees oor departement gestremdes uit tehuis wil verwyder

Sunfield Fortuna (Foto: Verskaf)

Die Sunfield Fortuna-tehuis vir gestremdes in Balfour, Mpumalanga, gryp na strooihalms om te verhoed dat 37 van hul pasiënte wat staatsubsidie ontvang, uitgeplaas word.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling in Mpumalanga wil die pasiënte na hul ouers of ander tehuise uitplaas of selfs terug in die samelewing vestig. Die pasiënte is oorspronklik deur die departement in die tehuis geplaas.

Van dié pasiënte woon al langer as 31 jaar in die tehuis en ken geen ander familie nie.

“Die tehuis is die pasiënte se huis. Hulle is ons kinders en hulle noem hul versorgers selfs ‘ma’,” vertel Brenda Gouws, bestuurder van die tehuis.

Volgens Gouws kom die departement se besluit nadat die direkteure van die tehuis geweier het om ʼn dienskontrak te onderteken om die pasiënte vir die volgende drie jaar te huisves nadat hulle gevra het dat die pasiënte se maandelikse staatsubsidie verhoog word.

“Die departement betaal R2 200 aan elk van die 37 pasiënte per maand en dié bedrag is die afgelope 14 jaar nog nie verhoog nie. Hiermee moet alles wat die pasiënte benodig, gekoop word,” sê Gouws.

“Daar is ander tehuise wat in ʼn radius van 50 km van ons af geleë is, wat maandeliks meer as dubbel daardie bedrag van die staat ontvang.”

Die direkteure het die afgelope tien jaar al talle briewe aan die departement gerig om te vra vir ʼn verhoging.

“Die direkteure het daarvolgens besluit om nie die dienskontrak te onderteken nie. Die departement het aangevoer dat hul begroting nie ʼn verhoging toelaat nie en dat hulle eerder die pasiënte gaan uitplaas.”

Die departement beplan om die uitplasing teen 30 September te doen.

“Ons harte is gebreek. Die pasiënte leef in vrees vir die dag wanneer hulle uitgeplaas sal word. Net die idee dat hulle moet verhuis, is vreeslik traumaties. Die onsekerheid vreet ons ook op omdat ons nie weet waarheen ons ‘kinders’ gaan nie.”

Nie net sal hierdie gestremde inwoners se lewe totaal ontwrig word nie, maar byna die helfte van Sunfield se personeel kan ook uiteindelik hul werk verloor, sê Gouws.

Die direkteure dink tans aan oplossings om die situasie te beredder.

Sunfield Fortuna is ʼn niewinsgewende organisasie wat sedert 1991 geriewe, persoonlike dienste en ʼn woning aan sowat 75 verstandelik en liggaamlik gestremdes bied. Die huis is sowat 10 km van Balfour in Mpumalanga geleë.

Afgesien van die 37 pasiënte wat deur die departement geplaas is, huisves die tehuis nog ʼn verdere 40 private pasiënte.

Maroela Media het die departement tot 15:00 kans gegee om op ʼn navraag te reageer en sal hul reaksie plaas sodra hulle dit stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

De Villiers ·

Ek wens ek was ‘n miljardêr! Ek sou vir hulle ‘n nuwe tehuis gebou het en seker gemaak het hulle leef gemaklik tot die einde!

domheks ·

Seker maar weer ‘ Esidemi!!! Laat hulle maar doodgaan. Departement van maatskaplike ontwikkeling in Mpumalanga. te sleg om werk te doen

Delia ·

Wat n ongelooflike trauma om mense ma soveel jaar terug te plaas in die gemeenskap. Baie kan nie daai verandering hanteer nie

Vonkprop ·

‘n Land se morele waardes word gesien en gekenmerk in hoe hulle met diere, oumense en mense met behoeftes werk. Dit spreek boekdele.

Mariana ·

En dit alles omdat hulle ekstra geld vra vir hul versorging. Hoe tipies van die departement. Daardie mense wil ook net ‘n plek hê wat hulle huis kan noem, maar weereens speel geld belangriker rol as menselewens.

Helene ·

Vaderland, ons hier in die GQ kry ons net R2000 per inwoner, (werk vir ‘n NPO vir intellectually handicapped adults) en hulle wil nog ons Subsidy sny vir NEW NPO’s!
Nie seker of die Staat weet hoe dit die arme mense gaan ontwrig nie. Dis al wat hulle ken as huis en familie. Ai toggie my hart breek vir hulle.

Magda G ·

Wat wil nie dept in elk geval met die grond en eiendom doen. Seker weer net weggee vir n “doel”

Bertie ·

Die departement kan nie ‘n verhoging bekostig nie, want hulle eie sakke staan gebult.

Yvonne ·

Hier kom alweer n gemors…die vorige geval is mense nie gestraf vir hulle optredes nie

Jack ·

Hou n insameling op facebook. Ek is seker julle sal verbaas wees oor die mense se deelname. Doen dit nou want die sand loop uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.