Vrektes van cheetahs in Indië nie vreemd

(Foto: Charl Senekal/EWT)

Daar is tans geen aanduiding dat ʼn aansteeklike siekte die dood van twee cheetahs wat vroeër uit Afrika in Indië hervestig is, veroorsaak het of dat daar ʼn soortgelyke bedreiging vir die oorblywende jagluiperds is nie.

Twee jagluiperds, een uit Suid-Afrika en een uit Namibië, het onlangs gevrek nadat hulle as deel van ʼn program om die diere weer in Indië te vestig, na die land geneem is.

Ingevolge die samewerkingsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Indië word daar beoog om oor die volgende dekade 100 jagluiperds in Indië te hervestig. Tot dusver is 12 jagluiperds van Suid-Afrika en agt van Namibië na Indië geneem. Twee het nou gevrek.

Die ooreenkoms bepaal ook dat die twee lande sal saamwerk om ʼn lewensvatbare en veilige jagluiperdbevolking in Indië te vestig, bevorder bewaring en verseker dat kundigheid gedeel en uitgeruil, asook kapasiteit geskep word om cheetahbewaring te bevorder.

Die departement van bosbou, visserye en omgewing wag nog op die uitslae van die nadoodse ondersoeke, sê Peter Mbelengwa, woordvoerder van die departement.

“Al die Suid-Afrikaanse cheetahs word in groter kampe aangehou en twee keer per dag gemonitor. Omdat dit wilde cheetahs is, moet hul gedrag, beweging en liggaamstoestand van ʼn afstand dopgehou word en dit beperk die grondspanne se vermoë om presiese inligting oor hul gesondheidstatus in te samel,” sê Mbelengwa.

Die departement sê ook die hervestiging van groot karnivore is inherent ingewikkeld en gevaarlik.

“Dít is ʼn kritieke fase van die projek, met cheetahs wat in groter kampe en omgewings vrygelaat word waar daar toenemend minder beheer oor hul dag-tot-dag-welstand is. Die gevaar vir besering en vrektes verhoog en hierdie risiko’s word in die hervestigingsplan ingereken,” sê Mbelengwe.

Die 11 ander jagluiperds uit Suid-Afrika sal oor die volgende twee maande in die Kuno-park vrygelaat word. Kuno is ʼn beskermde gebied wat nie omhein is nie en huisves ʼn hoë digtheid mededingende roofdiere wat insluit luiperds, wolwe, lippebere en gestreepte hiënas.

“Daar word verwag dat, soos met ander cheetah-hervestigings in Afrika, ʼn paar diere van die stigtersbevolkings binne die eerste jaar van vrylating kan vrek. Baie van die vrygelate cheetahs sal ontsnap uit die grense van die Kuno Nasionale Park en kan dalk korttermynstres ondervind wanneer dit weer gevang word.  Sodra die cheetahs hul tuisreikwydte gevestig het, sal die situasie stabiliseer,” sê Mbelengwe.

Die eerste groep cheetahs is in September verlede jaar na Kuno geneem en die departement sê die vrektes is binne die sterftekoers van wat tydens ʼn projek van dié aard verwag kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Linda ·

Hoekom soon toe stuur as daar die moontlikheid is dat hulle kan sterf.

Errol ·

Suid Afrika se wilde diere hoort in Suid Afrika en nie in ander lande nie. Los hulle hier waar hulle tuiste is !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.