Vrotsige pad? Dan maak dié boere hom self reg

(Foto: Verskaf)

Hulle sê “ʼn boer maak ʼn plan” en vir 13 boere van Mareetsane in Noordwes was dit ook die geval toe hulle koppe bymekaar gesit het om ʼn 22 km lange pad te bou.

Eric van Wyk, ʼn bees-en-graanboer in die omgewing, sê die grondpad wat vanaf die N18 tussen Vryburg en Mahikeng tot by die plaaslike koöperasietak en graansilo’s in Mareetsane strek, is die enigste toegangspad wat inwoners hier kan gebruik om by hul eiendom uit te kom.

“Ons het al soveel verliese gely met voertuie wat op hierdie pad moet ry,” sê Van Wyk.

“Ons moes al honderdduisende rande bestee om al die skade te dek wat die paaie veroorsaak. Geen ryding is bestand teen ʼn pad in so ʼn toestand nie.”

Volgens Van Wyk is dit ook die enigste pad wat gebruik kan word vir die vervoer van landbouprodukte.

“Dit is al pad waarvan ons insetverskaffers gebruik kan maak. Hulle het gesukkel om hier te ry, want dit was lewensgevaarlik.”

(Foto: Verskaf)

Van Wyk sê dit was voorheen ʼn netjiese gruispad, maar dit het oor die jare hopeloos agteruitgegaan.

“Sedert 1994 het die pad jaar ná jaar bly agteruitgaan omdat die staat opgehou het om sy verantwoordelikhede na te kom.

“Die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer het tot 2016 dalk nog jaarliks ʼn poging aangewend om dit in stand te hou, maar die afgelope sewe jaar het die staat geen instandhouding gedoen nie en die pad het heeltemal tot niet gegaan.”

(Foto: Verskaf)

Motoriste het die pad lank noodgedwonge vermy weens die swak en gevaarlike toestand daarvan, sê Van Wyk.

“Busse het die pad voorheen ook gereeld gebruik, maar weens die lewensgevaarlike omstandighede moes die busse noodgedwonge aan die roete onttrek word.

“Wanneer dit reën, is die pad veral onbegaanbaar, want dit raak dan as’t ware ʼn rivier wat enorme spoelgate veroorsaak. Laasgenoemde is groot genoeg dat ʼn 34 ton-trok daarin kan val,” sê Van Wyk.

Vir hierdie hegte boeregemeenskap was dit tyd om self in te gryp. Dit het die boere aanvanklik R650 000 uit die sak gejaag en presies vier dae geneem om die pad te begin opknap.

“Ons het die pad heeltemal oorgebou. Ons moes dit van voor af opsny, inskraap, vastrap en rol.

“Dit is harde werk en ʼn duur proses om die pad te onderhou omdat die nodige masjiene ingehuur moet word, maar ons almal doen wat ons kan; ons almal dra by tot die projek,” sê Van Wyk.

“Ons sal self seker maak dat die pad netjies bly en in stand gehou word en alles binne ons vermoë doen sodat ons met geruste harte kan weet dat die gemeenskap en elkeen wat van die pad gebruik wil maak, dit veilig kan doen.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

 

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Yvonne ·

En raai wie gaan nou weer die mooi pad gebruik…..dankie aan elkeen se bydrae….bravo

Lillian ·

Dankie dat julle dit doen, maar is dit nie ‘n skreiende skande van die regering se kant af nie, maar dan weer, wat kan mens beter verwag?

hpven ·

Baanbrekers, opbouers! Dankie mense! Salueer! Ramaphosa, ANC, EFF kyk en leer!!

Danie ·

Op die ou end gaan ons alles doen net meer geld vir die korruptes om te skep

Raadsman ·

Ongelukkig is hierdie goeie werke deel van die bose kringloop.
Hoe meer die publiek bestee, hoe minder doen die munisipaliteite en gaan belasting geld na hul eie sakke.
My opinie is dat al hierdie geld wat deur Jan Alleman betsee word eerder gebruik word in hofsake teen die staat om ons sisteme weer reg te ruk.

SjN ·

Verkry al die nodige goedkeurings vereiste dat dit aan voldoen aan die neergelegde standaarde en stuur vir hul n rekening. Waarvoor word lisensie gelde jaarliks gevorder?

Niklaas ·

Waar is die salaristrekkers wat aangestel is om hierdie werk uit te voer ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.