Vrou bedrieg munisipaliteit uit meer as R3 miljoen

(Foto: Newcastle Municipality/Facebook)

Deidre van Rooyen (52), ʼn voormalige werknemer van die Newcastle-munisipaliteit in KwaZulu-Natal het in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn op aanklag van bedrog van meer as R3,1 miljoen.

“Van Rooyen het as ʼn betaalstaattoesighouer gewerk wat die daaglikse bestuur van die salariskantoor hanteer het,” sê kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke). “Haar verantwoordelikhede het ingesluit om salarisse uit die munisipaliteit se bankrekening oor te betaal.”

Sy is op 22 Oktober 2020 in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die hof verskyn. Sy is vrygelaat op borgtog van R50 000. Die Valke se taakspan oor nasionale skoon oudits het ʼn omvattend ondersoek van stapel gestuur oor die manipulasie van die salaris- en bankstelsel.

“Van Rooyen het onregmatig betalings buiten haar gewone salaris ontvang. Verdere ondersoek het haar bankbesonderhede verbind met vier bykomende salarisprofiele van werknemers wat nie meer in diens was van die munisipaliteit nie.”

Die Valke se ondersoek het 88 bedrieglike salarisse onthul wat oor ʼn periode van agt jaar, tussen Februarie 2012 en Junie 2020, geskep is. Die bedrag het R3 157 198,00 beloop.

“Van Rooyen het op 14 Mei 2021 skuld beken op al 88 aanklagte van bedrog. Sy het haar pensioen aan die Newcastle-munisipaliteit verbeur en het die balans van die bedrag op ander maniere ten volle vereffen.”

Sy is op 1 Junie 2023 in die handelsmisdaadhof 10 jaar tronkstraf opgelê waarvan twee jaar opgeskort word vir ʼn tydperk van vyf jaar met streng voorwaardes.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die span geloof vir hul noukeurige ondersoek. “Die modus operandi is dieselfde as dié van Beauty Kilelo (42) wat op 17 Februarie 2023 sestien jaar tronkstraf opgelê is wat ten volle opgeskort is toe sy spook-werknemers by die Sol Plaatjie-munisipaliteit in Kimberley geskep het. Kilelo moes ook die R778 864,54 terugbetaal wat van die munisipaliteit gesteel is.”

Lebeya maan munisipaliteite om hul toesig oor werknemers te verskerp om die geleentheid, om misdaad te pleeg, te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.