Vrou getuig hoe waarnemende oudregter haar glo betas

Adv. Mpho Rasivhetshele saam met adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid

“Ek onthou dat ek teruggekyk het, en hy het hierdie glimlag op sy gesig gehad, asof hy bly was hy het gedoen wat hy gedoen het.”

Só het adv. Mpho Rasivhetshele Donderdag in die landdroshof in Johannesburg getuig nadat sy na bewering in Desember 2019 by ’n sosiale geleentheid deur ’n voormalige waarnemende regter seksueel aangerand is.

Vuyo Mtati het vroeër onskuldig gepleit op die aanklag, maar het geen pleitverduideliking gebied nie.

Rasivhetshele het beskryf hoe sy, kort nadat sy by ’n kollega se verjaardagpartytjie aangekom het, deur Mtati, iemand wat nie aan haar bekend was nie, genader is. Sy sê hy het dadelik ’n onvanpaste gesprek met haar aangeknoop en gesê hy sal haar huis toe neem en hy het haar as sy maat beskou.

Die klaagster het aan die hof gesê dat Mtati, wat na alkohol gestink het, nie wou ophou om haar te teister nie, ondanks haar pogings om hom by die partytjie te vermy. “Hy het opmerkings oor my lyf gemaak en dat hy my saam met hom huis toe wou neem. Hy het gesê ‘daar is niks wat jy kan doen nie, ek is ’n regter’. Hy het gesê ‘jy is my vrou’.”

Dit het die punt bereik waar Rasivhetshele twee keer die gasheer van die partytjie en ’n ander vriend genader het om in te gryp en hulle vertel het dat die beskuldigde haar teister. Albei kere is daar met Mtati gepraat.

“Ek was nie gemaklik met hierdie persoon nie. Ek wou nie naby daardie persoon wees nie. Ek was baie ongemaklik. Ek het die beskuldigde soos die pes vermy. Maar tot my verbasing was hy knaend, asof daar nie met hom gepraat is die eerste keer en die tweede keer nie. Hy het volgehou, asof hy onaantasbaar is en hy kon doen wat hy wou.”

Ná aanhoudende teistering het Rasivhetshele besluit om die partytjie te verlaat, maar sy moes verby Mtati loop om by die uitgang uit te kom. Volgens Rasivhetshele het Mtati haar betas toe sy verby hom geloop het. “Ek is nog nooit so geskend nie.”

Tydens kruisondervraging het die verdediging Rasivhetshele daarvan beskuldig dat sy die aand van die partytjie ’n “onnodige groot bohaai gemaak het” en dat sy die beskuldiging van seksuele aanranding kwaadwillig gebruik het om “om onbekende redes met hom af te reken”. Die verdediging het die klaagster verder gekritiseer omdat sy nie dadelik die saak by die polisie aangemeld het nie.

Nadat die saak wel aangemeld is, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit om nie vervolging in te stel nie, en dit is toe dat sy AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir bystand genader het. Daar is vertoë aan die direkteur van openbare vervolging in Gauteng (DOV) gerig waarna die DOV in Februarie in ’n skrywe aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui dat hulle, ná ontvangs van die vertoë, die beskuldigde sal vervolg.

Rasivhetshele is ʼn voormalige getuienisleier van die Zondo-kommissie na staatskaping en ʼn gerespekteerde lid van die regsberoep.

Die saak gaan vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Prikkie ·

Die benaming “regter”, is ook dikwels nie meer “reg” nie, want daar is darem ‘n hele paar in dié troppie wat maak net soos hulle smaak.

Eerlik ·

Ek wonder of sy n lid is van Afriforum…..lyk of almal deesdae verdedig word deur Afriforum maar ons wat lede gelde aan beide Afriforum en Solidariteit betaal kry geen bystand wanneer ons om hulp vra nie.

KatjieDeKat ·

As dit waar is, moet julle wat ledegeld betaal, ernstige vrae aan daardie 2 entiteite begin vra. Ek is ernstig. Want dit klink nie regverdig nie.

vuurvliegie ·

As lid van altwee stem ek 100% saam. Afriforum doen baie in my gebied. Kry daaglikse boodskappe aangaande veiligheid, dienste en gebeurtenisse op Whatsapp. Solidariteit is egter ‘n handtjie wat bak staan en heeltyd lewegeld vat en niks doen vir dit nie. Dis jammer hulle is die enigste oorlopende wit unie. Kompitisie sou hulle moontlik wakker gemaak het.

Jacob ·

Ek vind dit verdag dat Maroela Media nie my kommentaar plaas nie of is Maroela besig om die krake in Afriforum toe te smeer. Ek sal met graagte Maroela Media verwys na ‘n organisasie wat 31 van diegene wat verontreg is, verteenwoordig.

Althes ·

Ek het al hulp gekry by Solidariteit en dit was nie eens ñ hoë profielsaak nie. Solidariteit bied n wye netwerk ondersteuning aan.
So betaal ek ook my ledegeld aan Afriforum, al het Afriforum nie iets wat ek benodig nie.
Die feit bly staan albei organisasies bied uitstekende werk.
As jy gegriefd voel, het jy die reg om te kla. N Saak het twee kante.

KatjieDeKat ·

Dit klink of daar n paar oog getuies by die partytjie was wat die dame se bewerings kan beaam. As daar die eerste keer vir Mtati gevra was om op te hou, en hy was onskuldig, kon hy haar mos totaal en al vermy het vir die res vd aand. Dan sou dit mos nie nodig gewees het om n tweede keer vir hom te vra om sy gedrag te staak nie?

Klaar me Maroela ·

‘n “Onnodige groot bohaai” as jy ‘n persoon TWEE keer via jou gasheer moet versoek om homself soos ‘n opgevoede gas te gedra? Siek vark!

Anel ·

Volgende keer , kom naby genieg aan hom en bêre jou knie waar hy dit nooit sal vergeet nie. Vark! Dink mos vrouens is hulle besittings en dat ‘n titel iets beteken. Dink weerr.

AmY ·

Jare gelede het ek saam hierdie man in die werk se kantoor gewerk wat gereeld aan my boud gevat het.
Dit was 30 jaar terug. Ek het nie daarvan gehou nie, maar nie geweet dis verkeerd nie. Ook nie dat ek hom kan laat aankla nie.
Dit was die tyd toe mans die werkplek oorheers het. Hulle het mooi na mekaar gekyk.

Wielspore ·

Laat geregtigheid geskiet!
Dit is net slagoffers (mans of vrouens / seuns of dogters) wat sal weet hoe dit voel om onder die vuil hande van iemand deur te loop wat jou betas.

SjN ·

Drank verdra nie onreg nie, ongeag jou beroep of status, party dink mos hul is onaantasbaar, hoop geregtigheid sal seevier.

marius ·

Onbekende redes ? Ja , hy ag homself verhewe . Dis nie onbekend nie . Roer sy tee met ‘n siviele eis ook.

Frank John ·

Te veel mag vir iemand wat dink dit maak van hom/haar “untouchable”. Iemand wat mag nie begryp nie. Iemand wat mag aan wend vir sleg, plaas van goed. Mag misbruik.

Swerwer ·

Met die huidige korrupte regering en korrupte regstelsel is daar wynig poste of benaminge wat regtig die titel gestand doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.