Vrou gevonnis ná sy kleuter aanrand

Noria Ziburawa is Vrydag deur die Potchefstroomse landdroshof in Noordwes gevonnis nadat sy vroeër die maand aan die aanranding van ʼn kleuter skuldig bevind is. (Foto: Google)

ʼn 50-jarige vrou is Vrydag deur die Potchefstroomse landdroshof in Noordwes gevonnis nadat sy vroeër die maand aan die aanranding van ʼn kleuter skuldig bevind is.

Volgens die polisie het die aanranding onder hul aandag gekom nadat ʼn video van die voorval aan die begin van die jaar versprei is. In die video kan glo gesien word hoe die vrou, Noria Ziburawa, ʼn halfnaakte kleuter aanrand. Dit is nie duidelik wat haar verwantskap aan die kind is nie.

ʼn Ondersoek na die voorval het die polisie op 13 Januarie na ʼn gebou in Walter Sisulustraat gelei, waar Noria Ziburawa met 32 kinders in haar sorg betrap is. Onder dié was ook die jong slagoffer.

Volgens kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, is die vrou onmiddellik in hegtenis geneem en is alle belanghebbendes, asook die welsyn, na die toneel ontbied.

Ziburawa is van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla, asook dat sy onwettig in Suid-Afrika woon.

Sy het vir die eerste keer op 14 Januarie in die hof verskyn waar sy skuld op albei aanklagte teen haar erken het.

Ziburawa is ʼn boete van R3 000 of 18 maande tronkstraf vir die aanrandingsklag opgelê. Haar vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat sy nie gedurende hierdie tydperk aan ʼn soortgelyke klag skuldig bevind word nie.

Die hof het haar op die tweede aanklag tot ses maande tronkstraf of ʼn boete van R800 gevonnis.

Dié vonnis is vir drie jaar met dieselfde voorwaardes opgeskort. Dit is nie duidelik waar Ziburawa oorspronklik vandaan kom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sarel ·

Dit is nou hoe doeltreffend SA se Regstelsel kinders beskerm
Niks word genoem.of sy gedeporteer is nie

Perdeby ·

Dit is nie duidelik waar Ziburawa oorspronklik vandaan kom nie.

Kwikkie ·

Ai …dit is agv hierdie opgeskorte vonnisse dat dit gaan soos dit gaan…

Belinda ·

nou vir wat stuur hul haar nie terug van waar sy kom nie?? laat sy daar in die tronk gaan sit en hul tax money mors.

domheks ·

SA is in GROOT moeilikheid. Geen reg en geregtigheid vir kinders nie. Kinders is ons toekoms maar met die strawwe wat so belaglik is, is daar geen toekoms vir ons nie!

Delia ·

Aanranding met die doel om ernstig te beseer….kleuter wat nie hom of haarself kon verdedig…opgeskorte vonnis…beskerming van kinderregte?
IETS MAAK NIE SIN IN DIE HOWE

Misky ·

Watse vrotsige ondersoek is hier nie gedoen nie en moet mos kan uitvind vanwaar sy afkomstig is!! Laat sy terug gaan na waar sy vandaan kom.

Androclus ·

Daar word nerens melding gemaak van haar onwettigheid in die land nie. (Kaders)

Swerwer ·

Mooi man, gaan voort. R3000 kan nie vergoed vir die trauma waardeur die arme kleuter en die res in haar sorg moet verduur nie. Sy moet in haar lewe nie weer kinders versorg nie en ook nie haar eie kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.