Vrou laat gesin glo doodmaak

(Foto ter illustrasie: Pixabay)

ʼn 20-jarige vrou van Noordwes wat glo saamgesweer het om haar gesin uit te wis, het Donderdag saam met haar vermeende medepligtiges in die Brits-landdroshof verskyn.

Dié verskyning kom net meer as vyf jaar nadat Onthatile Sebati (20) se pa (42), ma (40), swanger suster (19) en sesjarige boetie in hul huis in die Mmakau-nedersetting doodgeskiet is.

Die voorval het op 6 Desember 2016 plaasgevind.

Sebati en haar medebeskuldigdes, Tumelo Mokone (23) en Kagiso Mokone (23), word nou deur vier aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie asook diefstal in die gesig gestaar.

Die beskuldigdes is in Desember verlede jaar in hegtenis geneem nadat Sebati haarself aan die polisie oorgegee het.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die 20-jarige aan polisie erken dat sy destyds twee mense gehuur het om die moorde uit te voer.

Mahanjana sê die beskuldigdes het die hof gevra om hulle op borgtog van R1 000 elk vry te laat.

Hulle sal egter tot hulle volgende verskyning op 18 Januarie in aanhouding bly. Intussen sal Sebati ʼn psigiatriese evaluering ondergaan.

“Die staat het gevra dat die saak uitgestel word aangesien die verslag wat van die departement van sosiale ontwikkeling ontvang is, aanbeveel dat Sebati vir psigiatriese evaluering gestuur moet word,” het Mahanjana gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

16 jaar oud en jy beplan moord op jou ouers en broer en suster. Genade maar so ‘n brein moet siek wees.

Shakespeare ·

Dis nou die nuutste tendens in howe. Pleit sielkundig gedisorienteer.

Belinda ·

Miskien was sy mishandel of iets, kan dalk nog te verstane wees (sou die ander ouer familie lede dit geignoreer het) maar om jou boetie van ses jaar ook te laat moor? Sinneloos.
En ja daar vreet haar skuldgevoelens haar op. Maak nie saak na hoe lank nie, een of ander tyd gaan jou gewete jou begin pla tot jy die waarheid praat! Ja sy sal vir psigiatriese behandeling moet gaan want die spoke het haar goed gejaag vir n geruime tyd. Sluit haar toe en gooi weg die sleutel.

AmY ·

Ek verstaan nie hoekom sulke dinge gebeur nie. Sy het haar hele lewe voor haar gehad.
Skokkend!

Magda ·

Alweer word di mal kaart gespeel, sy is n koelbloedige MOORDENARES EN verdien di DOODSTRAF.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.