Vrou sterf toe transitorowers toeslaan

(Argieffoto: Emer-G-Med/Facebook)

’n Motoris is Maandagaand in Umlazi in KwaZulu-Natal dood nadat ’n skietery tydens ’n transitorooftog uitgebreek het.

Die voorval het op die M35 suid van Durban plaasgevind.

Kyle van Reenen, woordvoerder van die nooddiens Emer-G-Med, sê die vrou is vermoedelik in kruisvuur vasgevang. Sy is op die toneel dood verklaar.

Van Reenen het die toneel as “chaoties” beskryf en gesê wrakstukke van die transitovoertuig wat deur onbekende verdagtes opgeblaas is, het die pad met nooddienswerkers se aankoms versper.

“Een wag het ʼn skietwond opgedoen terwyl ’n tweede een aangerand is,” het Van Reenen gesê.

“In ’n nabygeleë voertuig is ’n volwasse vrou met noodlottige beserings aangetref, wat vermoedelik in die kruisvuur opgedoen is. Sy is met paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar. ’n Manlike pasiënt is naby die vrou aangetref en het ook skietwonde opgedoen. Hy is op die toneel behandel en gestabiliseer voordat hy na ’n hospitaal geneem is.”

Volgens van Reenen was die polisie ook op die toneel om ondersoek in te stel. Maroela Media het ’n navraag in dié verband aan die polisie gerig en sal hul terugvoer bywerk sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Skappie ·

Ai, wanneer gaan al hierdie dinge tot ‘n end kry. Mag ons Liewe Heer die vrou se familie deur hierdie moeilike tyd dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.