Vrou veg verbete toe hond haar gryp

Jaybee Cloete (Foto: Facebook)

*Waarskuwing: Hierdie berig bevat ontstellende besonderhede en is nie geskik vir sensitiewe lesers of kinders nie.

 “Dit is die tweede keer in ʼn kwessie van ʼn paar maande wat my ma vir haar lewe moes veg.”

Só vertel Gretha Prinsloo nadat haar ma, Jaybee Cloete (62), Dinsdag deur ʼn hond verskeur is. Volgens Prinsloo het haar ma verbete baklei sodat die hond haar nie doodbyt nie.

Dit volg ʼn paar maande ná Cloete se stryd teen die Covid-19-virus toe sy byna ʼn maand lank aan ʼn ventilator gekoppel was.

Die voorval het op Cloete en haar man se kleinhoewe in Heidelberg afgespeel. Die hond van een van die egpaar se huurders het Cloete beetgekry. Die Cloete-egpaar verhuur vier huise op die kleinhoewe aan huurders.

Prinsloo vertel die betrokke huurder het verlede Dinsdag haar ma gevra sy moet na hul kragboks in die huis kom kyk omdat hul krag af is. Slegs die Cloete-egpaar het toegang tot die huurders se kragboks.

“Op pad na die huurder se huis, het my ma gesien die huurder se erf se hek is oop. Dit was in daardie oomblik wat die hond te voorskyn gekom het.”

Volgens Prinsloo word die hond (ʼn kruising tussen ‘n Pitbull en ander rasse) gewoonlik in ʼn kamer agter in die erf gehou.

Cloete het diep wonde aan albei haar arms en bene opgedoen [Foto: Verskaf]

“My ma het gaan stilstaan. Die volgende oomblik bestorm die hond my ma en begin haar opvreet. Sy het op die grond geval en met haar arms gekeer dat die hond nie haar gesig of nek gryp nie. Sy het haar nerfaf gefight.”

Volgens Prinsloo het haar ma die huurder om hulp geroep.

“Die vrou het na ʼn ruk uitgekom. My ma het haar gevra om die hond te vat, maar sy het gesê sy is te bang. Sy het ʼn besem gevat om die hond van my ma te probeer afkry, maar die hond het aanhou om my ma aan te val.”

ʼn Werker op die kleinhoewe het later vir Cloete met ʼn stok tot redding gekom toe hy haar hoor skreeu het. Die hond het hom ook gegryp.

Prinsloo kan nie sê wie of wat die hond tot bedaring gebring het nie, maar hy het later die aftog geblaas.

“Dit is genade dat my ma in die proses kon opstaan en huis toe loop. Sy het haar klere by die huis uitgetrek. Stukke van haar vleis het aan die materiaal bly vasklou.”

Cloete se seun het haar daarna na die Life Suikerbosrand-hospitaal in Heidelberg geneem. Sy lê nou al ʼn week lank daar.

Die werker wat ook aangeval is, is ook na ʼn hospitaal geneem. Hy is nog dieselfde dag – met steke bo die oog en pleisters aan die enkels – huis toe gestuur.

Cloete het diep wonde aan albei haar arms en bene opgedoen. Die senuwees en spiere aan haar regterkuit is afgebyt en die voet aan daardie been “hang net”. Sy gaan gevolglik ʼn stut nodig hê om die voet in posisie te hou.

“Die dokters sou aanvanklik haar regterbeen amputeer, maar kon dit gelukkig red.”

Die senuwees en spiere aan haar linkerbobeen is ook ernstig beskadig.

Die dokters moes Cloete opereer om die wonde skoon te maak en die vel te heg waar hulle kon. Die twee groot wonde aan haar kuit en bobeen kon nog nie geheg word nie. “Die dokters gaan spesiale pleisters op daardie wonde plak wat help om oorblywende etter te dreineer sodat sy nie sepsis opdoen nie.”

Cloete sal moontlik ook later ʼn veloorplanting moet kry.

As als goed gaan, word Cloete Maandagmiddag ontslaan en volgens haar familie hoop hulle vir goeie herstel.

Cloete is ʼn pensioenaris en het nie ʼn mediese fonds nie. Haar kinders het vir haar ʼn Back-a-Buddy-rekening gestig om haar te help met die mediese uitgawes.

“Ons wil haar nie nog belas met die stres van die finansies nie.”

Prinsloo sê haar ma ly nog aan skok en dit boonop kort nadat sy van ʼn traumatiese Covid-19-ervaring herstel het.

“Sy moes nou weer vir haar lewe veg. Dit vat aan ʼn mens se siel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Stephanus ·

Huurder: Jou skuld is geweldig hoog, vanweë Jou nalatigheid!

ES ·

Presies – jy is selfs verantwoordelik as jou hond uit jou erf kom en iemand aanval as jy nie by die huis is nie.

Maggies ·

Ek hoop die eienaar van daardie hond word gedagvaar om ál die dame se hospitaal-asook terapie kostes daarna, te betaal.

Marcello ·

As dit ‘n huurder is, op ‘n kleinhoewe, en hulle huur waar gaan hulle die geld kry vir vergoeding,

Delia ·

Hou op om die honde te blameer. As die vrou self te bang is vir haar eie hond en soos genoem hy in n kamer toegemaak word, spreek dit mos nou boekdele. Mense hou diere aan sonder om navorsing te doen oor hulle geaardheid en hoe baie aandag en oefening hulle nodig het. As so iets dan gebeur, kry die hond die skuld

Stef ·

Almal se altyd hang af hoe die hond groot gemaak is. Daar is ander honde rasse wat ook seker swak groot gemaak word maar 90% van die tyd lees ons steeds daar was n pitbull betrokke.

duiweboer ·

Ek het n pitbull kruising wat ek aangeneem het by die SPCA. Die wonderlikste teef wat niemand skade Sal aandoen. Sy lek jou van bo tot onder. Die probleem is mense maak hulle honde aggrisief groot en dan gebeur dit. Sterkte dame. Hoop Jy herstel volkome

Perdeby ·

Alle honde byt maak nie saak wat die ras is nie, on shet ook ‘n pitbull al vir 8 jaar en ons kon nie vir meer liefde gevra het nie, en hy pas my kleinseun van 4 op of hy ‘n stukkie goud is.

Alma ·

Wat my vies maak oor hierdie artikel, is dat mense hierdie “vreeslike” honde wil aanhou maar hulle nie kan hanteer nie. Die arme vrou kon dood gewees het, maar die eienaar staan soos ‘n lappop, want sy is te bang… Sy moes ten minste net so hard geveg het soos die vrou wat aangeval is. Mag die dame gou gou herstel, sterkte vorentoe.

Driekus ·

ja hierdie een was dalk minder aggresief as ‘n wat ‘n opregte een sou gewees het weens die kruising.

Christine ·

Ek is verskriklik bang vir ‘n pitbull of pitbull-kruising. Die diere is onvoorspelbaar. Geen wonder eienaars wil geen honde toelaat vir hul huurders nie. Jammer die pragtige vrou is nou geskend. Laat geen pitbulls toe op jou erf nie, dame.

Maritza ·

Die nie hond of die eienaar se skuld nie? Jy weet nie waarvan jy praat nie

Jean ·

Hoe groter die hond hoe groter moet die erf wees, maar die hond word in ‘n kamer gehou?

Elma ·

ek het ook nogal gedink ek self sal nogal agressief raak as ek die kans kry om uit die kamer waar ek aangehou word, te ontsnap.
niks met die ras vd hond te doen nie. enige dier sal frustreerd raak in sulke omstandighede!

Sonneblomkind ·

Ai dis terrible om te hoor. EERSTE PLEK SORG JY DAT JOU HOND OF WAT JY OOKAL AANHOU NIE KAN UITKOM NIE. Jy as eienaar word verantwoordelik gehou. Nou kry die hond weer die slegte naam omdat die eienaar nalatig is. Dagvaar die eienaar en gee haar of hom kennis

Kensy ·

Nee dis nie waar nie.
As n pikenees of Jackrussel n mens byt lees jy nie daarvan in n koerant nie- alhoewel kleiner honde meer mense byt,
Gaan doen navorsing watter honde byt meeste mense.
Pitpulle is in staat tot meer skade – maar byt nie meer nie.
Eienaars speel n groot rol in hierdie gevalle. die honde word geterg om meer agresief te wees VOOR gehoorsaamheid s opleiding gedoen word. jy maak n dier eers gehoorsaam en dan agressief, nie anders om nie

anniekiewiet ·

Hoop die DBV dagvaar daai eienaar vir dieremishandeling. Ek kon net n hond by DBV kry nadat my erf groot genoeg verklaar is. En ek lees nêrens die dier is uitgesit nie. Jammer, of dit nou sy skuld is of nie, hy sal altyd aggressief wees.

Delia ·

Hier sé hulle pitbull kruising.
Op back n buddy sé die seun Staffordshire Terrier Boerboelkruising.
As jy nie weet sé dan maar net hond. Moenie Pitties sonder kennis blameer nie

KatjieDeKat ·

Pitbull of Pitbull kruising. EVERY.SINGLE.TIME. Wanneer gaan hierdie ras nou vir eens en altyd verban word?? Hoeveel mense moet nou nog doodgebyt of vermink word?? Maak my briesend!!

Ettienne ·

Ek hoop hierdie soveelste voorval gee ons nou die reg om ‘n hond wat nie op leiband is nie summer dood te skiet, of die eienaar daar is of nie.

KatjieDeKat ·

En nou moet ons seker weer hoor watter lieftallige engeltjies hierdie moordmasjiene nou eintlik is. Ek is nou al behoorlik g*tvol van daardie onsin.

Jack ·

Die pitboel storie gaan aan en niemand leer iets daaruit nie

Janine ·

Een van die grootste probleme is dat die hond agter toegemaak word in ‘n kamer – dit is al klaar ‘n groot probleem. Dit beteken hierdie hond was gefurstreerd …… As iemand my heeldag in ‘n kamer toemaak gaan ek dit ook verloor. ????

Marcello ·

Ek kan nie glo mensee hou DIE honde aan nie, om watse ddoel, jy weet mos hulle is aggresief. So as jy hulle wil aanhou, neem sommer dadelik ‘n polis uit vir Persoonlike aanspreeklikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.