Vrydag laaste dag vir kommentaar oor nóg kernkrag

Die Koeberg-kernkragsentrale. (Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Vrydag is die laaste dag vir Suid-Afrikaners om kommentaar te lewer oor ʼn voorstel om nog 2 500 MW kernkrag by die land se kragnetwerk te voeg.

Suid-Afrika het in dié stadium net een kernkragsentrale – Koeberg in die Wes-Kaap – en die aanleg is ook die enigste in sy soort op die hele vasteland. Koeberg, wat in 1984 in bedryf gestel is, wek tans net 1 940 MW – oftewel sowat 3,6% – van die land se algehele elektrisiteit op.

Die departement van minerale hulpbronne en energie het verlede jaar die voorstel gemaak dat nog 2 500 MW teen 2030 by die netwerk gevoeg word. Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het daarna gevra vir openbare insette oor die voorstel.

Die Southern African Faith Communities’ Environment Institute (Safcei) en Earthlife Africa Johannesburg (ELA) is van die organisasies wat reeds hul teenkanting teen nog kernkragenergie te kenne gegee het.

Die organisasies voer aan die projek sal ʼn geraamde R330 miljard beloop – geld wat beter bestee kan word aan die basiese elektrifisering van huishoudings, hernieubare energiebronne in gemeenskapsbesit, behuising, maatskaplike toelae en nou ook die aankoop van Covid-19-entstof.

“Hoewel kernkragenergie ʼn ingewikkelde en tegniese kwessie kan wees – wat baie mense kan laat voel dat hulle geen bydrae het om te lewer nie – is die sleutelkwessies eenvoudig,” sê Makoma Lekalakala, verbonde aan Earthlife.

“Daar is eerstens geen veilige, permanente oplossing vir die hantering van hoëvlak- radioaktiewe afval nie. By die Koeberg-kernkragaanleg, byvoorbeeld, word al hierdie afval in tydelike afkoelpoele op die perseel geberg. Omdat hierdie giftige afval jaarliks toeneem, verhoog die aantal mense ook wat in gemeenskappe naby die aanleg woon en blootgestel gaan wees indien ʼn ongeluk gebeur.”

Francesca de Gasparis, verbonde aan Safcei, sê hulle glo die regering moet meer deursigtig wees oor belangrike besluite soos dié en meer met lede van die publiek daaroor beraadslaag.

“Ons het te min inligting oor die kernkragplanne en hoe dit Suid-Afrikaners kan raak, ontvang. Selfs ná verskeie Paia-versoeke (ʼn aansoek wat ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien word) oor lewensvatbaarheidstudies en ander inligting, het ons geen reaksie gekry nie.

“Dit beteken die algemene publiek kry nie die nodige inligting om ʼn ingeligte besluit oor die planne te neem nie. Tog, soos die Grondwet voorsiening maak, het ons die reg op toegang tot inligting wat in die openbare domein behoort te wees, sodat ons self kan besluit of dit op lang termyn goed of sleg vir ons gaan wees,” sê De Gasparis.

Verskeie lande het glo reeds belangstelling getoon om betrokke te raak by Suid-Afrika se kernkragplanne. Dit sluit in Rusland, China, die VSA, Frankryk en Suid-Korea.

Mense kan onder meer kommentaar lewer oor die lewensvatbaarheid van ʼn vennootskap tussen Eskom en ʼn private maatskappy – in die lig van Eskom se huidige geldprobleme – en wat die gevare vir verbruikers sou wees indien so ʼn ooreenkoms aangegaan word.

Openbare sittings oor die voorstel sal volg nadat die tydperk vir geskrewe kommentaar verstryk het.

  • Geskrewe kommentaar kan gestuur word na [email protected] of per hand afgelewer word by Kulawula House, Madibastraat 526, Arcadia, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet ·

Solank dit onder Eskom bly. Ek sidder om te dink ons gee Sjina, Rusland of die VSA die mag om letterlik ons ligte af te sit. Dit mag nie geprivatiseer word nie

Tanniepetoors ·

Is kernkrag nie maar die beste oplossing vir SA se toekomstige krag tekorte nie?

Hoekom ·

“Hernieubare energiebronne in gemeenskapsbesit”. Regering sal dit nooit toelaat nie, weens hulle geld gierigheid. Hoe kan hulle skep as die energiebronne in gemeenskapbesit is.

annie ·

Waarom beweeg Europese lande weg van atoomkrag as dit so wonderlik is? Navorsing toon dat die vervoer van korrelbed-onderdele en afval 3-maandeliks sal geskied wat groot ontwrigting op paaie sal veroorsaak en ook om oor genoeg veilige stoorplek vir afval beskik wat nie uiteindelik menslike nedersettings gaan benadeel nie. Ons waterbronne/seelewe is in gevaar en om veilige liggings vir stasies te vind is nie maklik nie. Om bloot beìndruk te wees met die super-idee van atoomkrag is onnosel want dis omtrent soos om ‘n swartmamba ipv ‘n goeie waghond aan te hou en dan veilig te wil voel.

Jean ·

Medupi en Kusile kan nie eers gebou word sonder probleme nie, wat nog van ‘n kernkragstasie?

Wondermaarnet ·

Dit sal ‘n bloedbad veroorsaak om te privatiseer, want dan moet ALMAL betaal vir krag en hulle is so gewoond aan “I want, I want” maar dit dink nie wie betaal en waar kom dit vandaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.