Vryheid wêreldwyd bedreig in 2023 – navorsing

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Vryheid wêreldwyd het in 2023 vir die 18de agtereenvolgende jaar afgeneem én ʼn veel meer onewewigtige tendens as ʼn jaar tevore getoon.

Freedom House, die demokrasiewaghond, het Donderdag aangekondig dat demokrasie verlede jaar wêreldwyd verskeie terugslae beleef het met geweld en manipulasie wat ʼn aantal verkiesings in die wiele gery het.

“Die agteruitgang is redelik wydverspreid,” sê Yana Gorokhovskaia, mede-outeur van Freedom House se jaarverslag.

“Selfs as jy dit streeksgewys vergelyk, kan ons gewoonlik sê dat een land ʼn uitskieter is, maar elke enkele streek het ʼn afname geregistreer.”

Die verslag toon voorts dat politieke regte en burgerlike vryhede oor die algemeen in 52 lande afgeneem het. Slegs 21 lande het enkele verbeterings getoon.

Fidji het die grootste verbetering op Freedom House se 100-punt-skaal aangeteken. Die land is in die jongste jaarverslag sewe bykomende punte toegeken.

Fidji, wat as gedeeltelik vry bestempel word, het in Desember 2022 ʼn gespanne verkiesing gehou waartydens kiesers vir Frank Bainimarama, die Fidjiaanse militêre leier wat ʼn staatsgreep in 2006 gelei het, ontsetel het.

Gorokhovskaia sê Fidji het sedert die verkiesing belangrike vordering gemaak deur sensuur te verminder en kiesersregistrasiewette te wysig om vroue se deelname te verseker.

Freedom House het in sy jongste jaarverslag Ecuador van vry na gedeeltelik vry afgradeer en Thailand van nie-vry na gedeeltelik vry bygewerk.

Ecuador is afgradeer nadat misdaadbendes die land se verkiesing ontwrig het. Die teen-korrupsie presidentskandidaat Fernando Villavicencio is selfs in Augustus verlede jaar ná ʼn veldtogtoespraak doodgeskiet.

Thailand is weer opgradeer weens mededingende verkiesings, al het establishment-magte die jong en progressiewe Pita Limjaroenrat, wie se Move Forward Party die meeste setels gewen het, verhoed om premier te word.

“Dit is nie, sou ek sê, ʼn volskaalse oorwinning vir demokrasie of vryheid en Thailand nie,” sê Gorokhovskaia.

Sy beskou dit wel as vooruitgang dat die voormalige eerste minister en magnaat Thaksin Shinawatra se Pheu Thai-party toegelaat is om oor te neem ná talle pogings om dit te onderdruk.

Suid-Afrika word ook as vry geklassifiseer, met ʼn algehele punt van 79 op Freedom House se skaal. Van die hoogste tellings word behaal deur lande soos Nieu-Seeland (99), Australië (95), België (96), Ysland (94) en Japan (96).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

CHRISTINE ·

Ek neig om dit toe te skryf aan wat in 2020 gebeur het, en regerings/politici het wêreldwyd magmal geraak

Republikein in die Wes Kaap ·

Sosialistiese lande kan nie “vry” wees nie. Veral NZ en Oz.

Pieter ·

Republikein in die Wes Kaap: Ja daar is niks so vry as om dood te gaan van ‘n voorkombare siekte omdat jy jou mediese fonds se limiet bereik het nie.

annie ·

Vryheid is ‘n relatiewe begrip. Vandag mag net die VSA besluit wie vry is want die Wêreld buig voor die land as die super baas. Dis mos reg so.

Marthinus W ·

Annie, jy’s reg. Ook, is Freedom House nie die “demokrasiewaghond” nie, want hulle word gefinansier deur die Amerikaanse regering. Dit is net een van vele instrumente om vyande by te kom.

KB ·

Freedom House sit die pot lekker mis.
(Ek wonder wie betaal hulle salarisse).

KB ·

Republikein in die Wes Kaap,
Sosialisme is die voertuig van Marxisme (ie. Kommunisme).

Martie ·

Vryheid verkry jy nie deur enigiets anders as deur jouself nie. Niemand is nêrens vry nie. Mense dink om te kan stem, om te woon waar jy wil, om te gaan waar jy wil ens is vryheid. Allermins

Pieter ·

@Martie (en eintlik maar die res ook). Ek lees die kommentaar en is diep teleurgesteld. Julle skryf die kommentaar vanaf een van die vryste lande op aarde (daar is baie probleme maar niemand se vir ons wat ons mag se nie) en maak dan sulke stellings soos “niemand is werklik vry nie, jy moet dit soek binne jou”. Se dit vir mense wat baklei om hulle lande te bevry van diktators. Ek dink ook nie op enige plek in die artikel het daar gestaan om te kan stem onmiddellik beteken jy is vry nie daar is ‘n redelike wye kriteria wat gebruik word om dit te bepaal.

Gaan bietjie na ‘n paar lande op die onvry lys en vra jouself of jy graag daar sal wil bly, en of jy gemaklik voel om iets te se waarvan die regering nie gaan hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.