Vrystaatse sakeman sterf ná messteek by slaghuis

Brandfort in die Vrystaat. (Foto: DA/Facebook)

Die eienaar van ’n slaghuis op Brandfort in die Vrystaat is Dinsdag dood nadat hy by die slaghuis in Voortrekkerstraat met ’n mes aangeval is.

Lambertus Petrus (LP) Lochner is in die bors en arm gesteek nadat hy glo ’n kabeldief op heterdaad betrap het. Lochner het op pad na ’n Bloemfonteinse hospitaal aan sy wonde beswyk.

’n 57-jarige verdagte is binne ure van die voorval in hegtenis geneem en word nou van moord aangekla.

Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê Lochner (70) het Dinsdag omstreeks 17:00 op ’n onbekende man afgekom wat glo besig was om kabels uit die gebou te steel. Lochner het die man gekonfronteer en is met ’n mes gesteek.

“Mnr. Lochner het sy vrou gebel en vir haar gesê dat hy gesteek is. Sy het met hom na ’n hospitaal in Bloemfontein gehaas.”

Volgens Earle het Lochner se vrou op pad daarheen ’n ambulans ontbied wat haar later op Raymond Mhlabaweg in Bloemfontein ontmoet het. Hiér het paramedici Lochner se lewe vergeefs probeer red.

Die verdagte sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

Maroela Media het die slaghuis se foonnommer Woensdag geskakel, maar daar was geen antwoord nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rose ·

Hierdie skrootwerwe wat koper aankoop by straatsmelters is net so aandadig vir hierdie moord, asook die gemors waarin ons sit met kragstasies wat gestroop word, en krane/pype wat geplunger word. Daar word regs en lings sinnelose wette gemaak, hoekom kan daar nie n wet of afskrikmiddel ingestel word sodat skrootwerwe gesluit word indien hulle onwettige koper bekom.

SjN ·

Ja, daar word nog n produktiewe werkende persoon gedood deur n plunderaar wat nou gratis versorg gaan word in die tronk op die belastingbetaler se koste. Hier is geen wet en orde nie. Kom hoedeman, probeer ten minste net iets.

Papsak ·

Wel wie kan tyd he vir hulle diere wat n spoor trap soos n mens ek voel saam met sy familie vrou en kids want hulle bly wreed

JohanEtz ·

Hy was Stadsraadslid in die vorige bedeling. Vooraanstaande sakeman.
Eiendomsontwikkelaar, Boer, Slaghuis eienaar ens.
Hy het oa ñ tehuis vir bejaardes gebou – Lochner wonings ens.

Brandfort het ñ groot boom verloor…
Sy sinnelose moord Word betreur…

Skappie ·

Sterkte aan sy familie en vriende wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer julle almal vashou in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle.

Danie ·

Wel elke boef loop met n gevaarlike wapen rond en ons wapens word weggevat.Maar net nog n bewys dat misdaad buite beheer is.Tweedehandse skroot handelaars is euwel.

Veronika ·

Mens kan net een grooooot vloekwoord gebruik hiervoor!! Was dit nou nodig!!!??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.