Vulstasie-eienaar in huis vermoor

Gawie en Mary-Anne Marx. (Foto: Verskaf)

Die eienaar van die Total-vulstasie op Morgenzon in Mpumalanga is Vrydag in sy huis aangeval en vermoor terwyl sy vrou veelvuldige beserings opgedoen het.

Jannie Kasselman, eienaar van Kasselman Security Services, sê Gawie en Mary-Anne Marx is ongeveer 19:00 deur vier mans by hul huis ingewag. Hulle was vroeër die dag in Ermelo en het pas teruggekeer. Die egpaar is vermoedelik in hul 60’s, maar hul presiese ouderdom kon nog nie bevestig word nie.

“Die tannie sê sy het net die ketel aangesit om vir hulle koffie te maak, toe die mans skielik daar staan,” het hy Maandag aan Maroela Media gesê.

Die egpaar is daarna in verskillende vertrekke van die huis vasgebind en aangerand.

Die Total-vulstasie op Morgenzon. Gawie Marx is by hul huis langs die vulstasie vermoor. (Foto: Verskaf)

Teen die tyd wat Mary-Ann haarself die volgende oggend in die badkamer kon loswikkel om hulp te ontbied, was haar man vermoedelik reeds dood. Hy is later op die toneel dood verklaar. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.

Kasselman sê die egpaar se huis grens aan die Total-vulstasie in Steynstraat waarvan Marx die eienaar is. Mary-Ann moes van die huis na dié vulstasie gaan om die paniekknoppie te druk wat aan ’n gewapende reaksiestelsel gekoppel is.

Volgens Kasselman het die maatskappy om 01:04 die alarm van die paniekknoppie ontvang waarna reaksiebeamptes na die toneel ontbied is. Die polisie was ook kort daarna op die toneel.

Kasselman sê die verdagtes is steeds soek en dat onder meer juwele, vuurwapens en kontant vermis word. Marx se bestuurslisensie is intussen naby ʼn plaas in die omgewing opgetel.

Die sekerheidsmaatskappy het R20 000 uitgeloof vir enigeen wat inligting kan verskaf wat tot die inhegtenisneming en vervolging van die verdagtes kan lei.

Maroela Media het navrae aan die provinsiale en plaaslike polisie gerig, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.