Die hoof- finansiële beampte in die kantoor van die KwaZulu-Natalse premier is een van vyf persone wat Donderdag in hegtenis geneem is in verband met ʼn multimiljoen rand se spysenieringsbedrogskandaal.
“Beamptes in die kantoor van die premier het na bewering met diensverskaffers saamgespan om tenders te bekom terwyl alle prosedures geminag is,” het kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê.
Die beskuldigdes het in die Durbanse handelsmisdaadhof verskyn en staan tereg op aanklag van bedrog en korrupsie.
Die hoof- finansiële beampte, Ziphathe Mboneni Cibane (55), is vrygelaat op borgtog van R10 000.
Die persoonlike assistent Nomusa Zakwe (35), administrasieklerk Njabulo Makhathini (34) en senior administrasieklerk Sithembiso Msomi (53) is vrygelaat op borgtog van R5 000 elk. ʼn Direkteur van Phumalanga Communications, Gugu Kheswa (51), is vrygelaat op borgtog van R20 000.
“Die klag is by die Durbanse eenheid wat ernstige korrupsie ondersoek, aangemeld. Die ondersoek het gelei tot die inhegtenisnemings van die vier beamptes en ʼn diensverskaffer. Die algehele waarde van die kontrakte wat ondersoek word, beloop meer as R20 miljoen,” het Mhlongo verduidelik.
Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die inhegtenisnemings verwelkom. “Soos wat ons vroeër gesê het, almal wat betrokke is om die regering en munisipaliteite te plunder, sal vervolg word,” het hy gesê.
Sihle Zikalala, provinsiale premier, het Donderdag in ʼn verklaring gesê dit is belangrik dat die gereg sy gang gaan. “Die kantoor van die premier het reeds van dié beamptes voorlopig geskors hangende die uitslag van ʼn interne dissiplinêre proses. Ons bly ten volle verbind tot ʼn korrupsievrye regering en sal alle tipes bedrog en korrupsie hanteer waar dit ook al mag kop uitsteek.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
8 Kommentare
Hoor die grapjas, Bly ten volle verbind tot n korrupsie vrye regering. Moenie my laat lag nie asseblief.
20 m bedrog.
Borg van 20k,10k, 5k.
Mask net nie sin. Geen wonder dit gaan aan en aan.
Wat van die regering?
Hoe dom dink hulle is ons? Kyk die stelling:
“Ons bly ten volle verbind tot ʼn korrupsievrye regering”
Wil jy my nou regtig vertel hulle kom NOU eers agter daar was hierdie bedrog ??? Of is iemand net voorgegooi sodat n groter.korrup spul verdoesel kan word ?