Wag by skool oorval, rekenaars gebuit

(Argieffoto: Verskaf)

ʼn Veiligheidswag is Maandag kort voor middernag by ʼn laerskool in Kutloanong naby Odendaalsrus in die Vrystaat oorval en vasgebind, voordat van die skool se elektroniese toerusting gebuit is.

Hoewel die wag ongedeerd van die voorval afgekom het, was hy ure lank vasgebind voordat hy eindelik homself kon bevry.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die 43-jarige wag was die aand in een van die Malebaleba Primary School se klaskamers toe hy om 23:25 ʼn onbekende man met ʼn fakkel sien verbyloop en ʼn skoot afvuur.

Die gewapende man het glo ʼn koevoet gebruik om toegang tot die klaskamer te verkry en het die wag oorrompel. Hy is na ʼn ander klaskamer gevat waar sy hande en voete met draad vasgebind is.

“Die verdagte het na die personeelkamer gegaan en ʼn aantal waardevolle items gebuit,” sê Thakeng.

Altesaam nege skootrekenaars is gebuit. Ses tafelrekenaars, vyf notaboekrekenaars, twee internetstokkies, ʼn interkommasjien, ʼn mikrogolfoond, ʼn kluis en ʼn onvermelde hoeveelheid geld is ook gevat.

“Ná vier uur het die veiligheidswag homself bevry en om hulp geroep. ʼn Polisievoertuig wat verby die skool gery het, het stilgehou en die wag bygestaan tot hulp ontbied is.”

Die wag het geen beserings tydens die rooftog opgedoen nie.

Die polisie het sedertdien ʼn saak van sakeroof geopen en ondersoek die saak verder. Nog niemand is in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie en die gesteelde goedere is nog nie teruggevind nie.

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagte(s) kan lei, kan konst. Modise Kotsi by 082 301 2797 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Hoekom net 1 wag? Hoekom het hy nie ‘ paniekknoppie by hom gehad nie?

Burgermeester ·

” ʼn Polisievoertuig wat verby die skool gery het, het stilgehou en die wag bygestaan tot hulp ontbied is.” Ek is jammer, maar dit is skreeu snaaks. Ek wonder wie het hulle ontbied vir hulp … Chuck Norris? Hier het ek altyd gedog ‘n mens ontbied die polisie vir hulp. Duidelik is ek verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.