Wag sterf tydens transitoroof by Knysna-supermark

Die misdaadtoneel in Knysna. (Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

’n Sekerheidswag is Saterdag tydens ’n gewapende transitorooftog by ’n supermark in Knysna in die Wes-Kaap doodgeskiet.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, sê sekerheidswagte het omstreeks 09:45 kontant by die Pick n Pay in Langstraat in die middedorp gaan afhaal.

Muridili sê inligting wat op die toneel ingewin is, dui daarop dat die bestuurder in die diensvoertuig gesit het toe sy kollega teruggekeer het. Die bestuurder het ’n geraas gehoor, ondersoek gaan instel en twee mans met kontant op die vlug sien slaan.

Hy het toe opgemerk dat sy kollega noodlottig gewond is.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (​die Valke) en misdaadtoneelkenners het gister die toneel vir leidrade gefynkam.

Niemand is egter nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om Stop Misdaad by 086 00 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SomeOne ·

net ‘n geraas gehoor, hoe is dit moontlik, is die knal van ‘n vuurwapen nie ‘n geweldige slag nie ?, veral in ‘n kompleks area

Persheks Adri ·

Dit het my ook laat wonder, want jy hoor tog ‘n skoot of skote… Ek vermoed iets anders is hier aan die gang

Daniel ·

Skokkend dat sulke tipe misdaad nou al in daardie deel van die land voorkom!

Persheks Adri ·

Dis orals en gaan net erger raak ongelukkig vir ons…

Persheks Adri ·

Ag nee genade nóg ‘n lewe! Hierdie moorde gaan nie ophou nie. Cele, kry hierdie ongelisensieerde wapens by die kriminele.

Jy gaan ons NIE ontwapen NIE hoor mooi wat ek sê!!! Jy kan dit waaragtig vergeet!

Niklaas ·

Die storie klink verdag en twyfelagtig. Was die oorlewende wag dan besig met selfoonspeletjies in die voertuig terwyl die oorledene sakke geld aandra? Iets rym nie lekker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.