Warm debat oor Langenhoven as held

CJ-Langenhoven

CJ Langenhoven. Foto: Argief.

’n Warm debat oor die aard en nut van helde vir die Afrikanervolk het ’n gedenkgeleentheid vir die skrywer en digter CJ Langenhoven hierdie week in Bloemfontein in ’n fassinerende intellektuele oefening omskep.

Die gesprek by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein het “Hulde aan helde: Langenhoven” as tema gehad en is toegespreek deur prof. Johan Olivier, voormalige voorsitter van die Langenhoven-gedenkfonds, dr. Corlietha Swart van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Vrystaatse Universiteit en Willemien Brümmer, skrywer, joernalis, agterkleindogter van Langenhoven en bestuurslid van die Langenhoven-gedenkfonds.

Omvattende verskille oor heldeverering het uit die gesprek na vore getree. Waar Olivier en Swart se fokus grootliks op Langenhoven se uitsonderlike talent, die kwaliteit van sy literêre uitsette en sy formidabele uitset (vyftig boeke in twintig jaar!) gehandel het, het Brümmer bepleit dat daar nie te blindweg gehuldig word nie, maar dat helde se minder blink kant ook verreken moet word vir ’n gebalanseerde geheelbeeld.

In hierdie verband het Brümmer gesê hoewel sy baie trots is op en volle waardering het vir aspekte van Langenhoven se skryfwerk, byvoorbeeld sy gebruik van die surrealisme wat sy tyd geheel en al vooruit was, en die kwaliteit van sy spookstories, is daar ook van sy skryfwerk waarop hulle as familie nie so trots is nie.

Dit sluit in sy outeurskap van die sogenaamde Swart Manifes van 1929, wat hy as senator vir die Nasionale Party (want hy was ook politikus) in opdrag van premier JBM Hertzog opgestel het, en wat die rassistiese voorloper van die ergste aspekte van die apartheidsbeleid sou word.

Brümmer het ook verduidelik dat nie alle aspekte van Langenhoven se nalatenskap vir hul familie tot vreug is nie – sy alkoholisme en depressie het diep kepe gelaat, asook die inbreuk van die hele Langenhoven-boekebedryf wat deur sy medewerker en beweerde minnares, Sarah Goldblatt, ontgin en aan die gang gehou is, op hul familie se privaatheid.

Olivier en Swart het gemeen mens moet oppas vir ’n té emosionele reaksie van familiekant, en dat Langenhoven steeds as held gehuldig moet word, met die klem op sy sterk- eerder as sy swakpunte.

Die gehoor is getrakteer op twee klank-opnames – een uit 1912 waarop Langenhoven sy vrou met haar verjaardag geluk wens, en een van die wysie wat Langenhoven as toonsetting vir “Die Stem” voorgestel het, maar wat nie algemeen byval gevind het nie.

Die reaksie uit die gehoor het dit duidelik gemaak dat dit ’n aand met volop pitkos vir nadenkendes was, en dat die grondslag vir ’n nodige debat oor die aard en nut van heldeverering gelê is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

Paul ·

Die huidige terwille wees klimaat in die land weeg maar swaar op as mens deesdae die grootsheid en bydraes van ons volkshelde wil vereer. Wat hulle vermag het en die impak wat hulle op die geskiedenis gehad het. So ‘n tyd gelede het Max Du Preez dit teen die verering van Paul Kruger gehad, hy is mos ‘n nasaat van Kruger, toe het hy ook op Kruger se tekortkominge gewys en waarom hy nie as ‘n volksheld beskou moet word nie.

Willem ·

Dankie aan Sarah Goldblatt dat sy vir die nageslag bewaar het.

Stormrider ·

Ek vrek oor Langenhoven. Ek het my al telkemale oor die laaste 40 jaar weer-en-weer in ‘n ander bloedgroep ingelag vir ‘Sonde met die bure’ en ‘Herrie op die ou tremspoor’
Sy spitsvondige nalatenskap is ‘n skat wat my altyd na aan die hart sal lê!

Edd ·

Ek eer geen held vir wie hy was nie maar eerder vir wat hy gedoen het. ‘n boemelaar kan die eerlikste en wetsgehoorsame mens ooit wees wat perfek by vandag se politiese idiologie inpas maar niemand sal hom ooit onthou nie. Die man wat in frankryk die kant van ‘n gebou aan gedurf het was ‘n held en dit was tog nie oor sy persoonlike lewe nie. Hierdie ding van om ‘n held se lewe te analiseer en al sy swakhede te skep is niks anders as arogansie en jalosie van mense wat voel hul sal nooit self sulke hoogte punt kan bereik nie. Om meer af te sluit, ‘n berg word bewonder vir die hoogte van sy koppie, nie die eerste hondert meter nie.

Willie ·

Edd: oom Langenhoven het gesê: “Die mense wat niks doen, doen nie regtig niks nie, hulle pla die wat wel iets wil doen”

JackKlok ·

As ek so kyk hoe die nasate van ons volkshelde deesdae derms uitryg oor hulle voorouers, ten spyte van die knvensie dat mens nou nie eitlik iets sleg mag sê oor die afgestorwenes nie, dan is dit geen wonder dat mense aan depressie ly en hulle aan drank vergryp het nie.

Ons moet in gedagte hou dat alle mense voete van klei het, sondaars, dws onvolmaaktes is en gevolglik baie het waaroor ons hulle kan kritiseer. Ten spyte daarvan het hulle tog utgestyg bo hulle omstandighede en ons volkslewe en kultuur verryk.

Dis ook glad nie nodig om verskoning te maak vir wat latere persone met jou werk gedoen het nie, niemand kan 20 jaar vooruit sien nie.

Paul ·

Almal wat hier lees, behoort Die Versamelde Werke van Langenhoven te hê, volledig in 16 volumes, as jy dit nie op jou boekrak het nie, is jy soveel armer.

Stormrider ·

Ek het my versamelde werke in 1978 gekry by my ouma – nog nie klaar gelees nie!

Wessel ·

Moet ons dan nou byvoorbeeld, as ons vir André P Brink wil vereer vir sy grootsheid en bydrae tot ons letterkunde, ook eers sy private lewe insleep, Ingrid Jonker, dit in ag neem om te besluit of hy sodanige verering waardig is?

Lerato ·

Met baie goeie rede, Paul. Niemand het nog ooit soveel vir die land gedoen as juis Mandela nie.

Anne ·

Mandela en Langehoven se name kan beslis nie in dieselfde sin genoem word nie.

Elke held donkerkant ·

Elke held in elke kultuur het n donker kant, al ooit gewonder oor die erge kante van shaka, mandela, Lincoln, alexander ens?

Cornelia ·

Julle is wakker en slaan die spyker op sy kop. Dankie vir manne en vroue wat nugter denkend oor ons geskiedenis volkshelde se werke peins. Hulle het op hulle terrein baanbrekerswerk gedoen en weelde nagelaat wat vir baie geslagte lank nog lewenslesse inhou. Ons kan uit hulle nalentskap put en daarop hoopvol voortbou. Nuwe helde uit ons volks geledere het reeds verrys wat ook op Taal-, politieke- Onderwys- kulturele- en Etiese gebied diep spore trap wat sinvol en waardevolle boukoers aangee en nalaat. Hulle sal ook in ons volk se geskiedenis met dank vereer word. Dankie dat hulle gedien het met vergesig, insig, daadkrag en heldemoed. Dankie C.J. Langenhoven.

Die driwwe van Meiringspoort ·

Langenhoven is deel van my menswees soos die Krugerwildtuin en die Karoo en die Kaapse Wynlande. Elke keer wanneer ons deur Oudtshoorn reis nadat ons die Klein Karoo kunstefees bygewoon het en deur die driwwe van die briljante en majestieuse Meiringspoort gaan raak ek verlore in die verhale, lewe, legendes en gesegdes van Langenhoven.

Paul ·

Gaan lees gerus ook maar hierdie vrou se geskiedenis en wat sy als vermag het, wat sy uit eie reg vir die land na die tafel toe gebring het, waar sy oral betrokke was en hoe sy Afrikaans promoveer het.

Betreffende helde: dikwels is dit so dat nie alle aspekte van daardie persone se nalatenskap vir hul familie tot vreug is nie. In Langenhoven se geval, soos dit hier bo gestel word, was dit sy alkoholisme en depressie wat diep kepe gelaat het, asook die inbreuk van die hele Langenhoven-boekebedryf wat deur sy medewerker en beweerde minnares, Sarah Goldblatt, ontgin en aan die gang gehou is, op hul familie se privaatheid gemaak het.

Die swak punte van hierdie komplekse en begaafde mense plaas by tye gewelde druk op die familie, maar dit doen verseker nie afbreuk aan hul enorme nalatenskap nie.

Paul ·

In die eerste paragraaf van my kommentaar hier bo verwys ek natuurlik na Sarah Goldblatt.

Paul ·

Ek verwys natuurlik in die eerste paragraaf van my kommentaar hier bo na Sarah Goldblatt.

Lollie ·

As hulle so wil redeneer moet niemand ooit as held vereer word nie!!! Bring vir my die volmaakte mens! Mens behoort op die goeie te bou dan is als positief maar gewoonlik word die slegte eerder raak gesien as die goeie! Indien ons almal op die slegte wil konsentreer kan ons waens vol boeke skryf !
As ons altyd net na die slegte kyk is ons soos die ANC wat net teen ‘apartheid ‘ vaskyk en verder sien ons nie die mooi of die goed raak nie.

Andrea van Vuren ·

Willemien Brummer, kon jy nie maar die goeie uit die verlede gehaal het en daarop voortgebou het nie? Jy is ten minste Langenhoven se nasaat. Eugene Marais was aan morfien verslaaf, As jy Winternag lees, dink jy nie aan morfien nie maar aan sy talent.

IK ·

Die soetsappige negatiewe is altyd wat voorkeur geniet om ‘n mens te oordeel. Ons is terug by die bybelse splinter en balk in die oog.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.