Water-, sanitasieprobleme in Vrystaat nou ‘rampspoedig’  

kraan-water-glas

(Foto: pixabay)

Dit lyk of die Vrystaatse premier geen plan het om die voortgesette water- en rioolramp in die Vrystaat te pak nie en waterlose inwoners van die provinsie leef in ʼn put van rioolvuil.

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, sê die ekonomiese uitwerking van swak dienslewering – soos water- en kragvoorsiening wat agteruitgaan en paaie wat versleg – lei tot ʼn daling in toerismegetalle en beleggings, terwyl dit tot groter armoede lei.

Jankielsohn het Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, in die provinsiale wetgewer gevra om vrae oor haar plan om veral water- rioolprobleme te pak, te beantwoord. Jankielsohn wou by Ntombela weet of die provinsie ʼn afvalwaterbestuursplan het om die gebrek aan die verskaffing van gereelde en veilige drinkwater aan inwoners te takel en of die provinsie ʼn plan het om die besoedeling van die provinsie se varswaterbronne te stuit.

Hierop het die premier “snedig” geantwoord dat Jankielsohn na die Grondwet verwys en dat die nasionale en provinsiale regering die bevoegdheid het om water- en sanitasiekwessies te hanteer.

Jankielsohn sê dit wys dat Ntombela al haar verantwoordelikheid hieroor elders heen afskuif.

“Die meeste Vrystaatse dorpe sit lank sonder water, terwyl ander sukkel met watergehalteprobleme. Die mees onlangse voorbeelde is Tumahole en Parys,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig watermonsters wat verlede week geneem is, dui daarop dat die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, wat onder meer Parys en Vredefort bedien, feitlik niks aan die waterprobleme gedoen het sedert hulle twee maande gelede daaroor gewaarsku is nie.

Inteendeel, die situasie het die afgelope ruk verder versleg. Daar is omtrent geen chloor in die water nie, terwyl E. coli teenwoordig is.

“Rou rioolvuil hou aan om ons waterbronne te besoedel en stroom in al die munisipaliteite in die strate tussen inwoners se erwe af. Terwyl die situasie die norm vir die meeste inwoners geword het, moet dit as ʼn provinsiale ramp beskou word wat tot die inwerkingstelling van rampmaatreëls behoort te lei,” sê Jankielsohn.

Die rampbestuursentrum wat hiervoor verantwoordelik is, het egter probleme van sy eie. Die sentrum moes onlangs sy kantoor verskuif weens die onveilige werkomgewing en ʼn versuim om aan minimum vereistes vir ʼn rampbestuursentrum te voldoen. Die premier het nietemin in ʼn ander antwoord aangedui dat die sentrum funksioneel is.

“Die premier het ʼn verantwoordelikheid om te verseker dat die grondwetlike regte van Vrystaatse inwoners, om toegang tot veilige en betroubare water te hê, beskerm word. Die premierskantoor moet ʼn aktiewe rol speel om te verseker dat nasionale en plaaslike regerings doeltreffende dienste in ʼn veilige omgewing aan inwoners van die provinsie lewer.

“Waar die plaaslike en nasionale regering misluk om hul verantwoordelikhede na te kom, moet sy namens inwoners ingryp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Tipper ·

Ag wat, dit raak net slegter, suid Afrika was n voorspoedige land, nie meer n krummeltjie oor van die vorige regering nie.

marius ·

Die waarskuwings oor die gemors wat hierdie mense gaan aanvang was meer as 40 jaar terug uitgereik , maar roelfie en sy pienk meester en hul kornuite het dit afgelag as doem profesie en verkramp .

Lurock ·

Marius, verduidelik asseblief wie is Roelfie en sy pienk meester en hul kornuite?

Rocco ·

Dit gaan nou niks help aan die algehele verval van die infrastruktuur in Suid Afrika nie, maar ek is dankbaar oor my etniese afkoms van Frankryk. Ek kan vir myself dink, en verantwoordelikheid neem, vir my besluite en die gevolge.

Kokerboom ·

Liewe magtig, kan die President van land nie sien wat aangaan en ingryp? Is hy doof, blind ,halstarrig of gewoon gee hy netnie om?!! Hoe lank is hele Vrystaat en Mangaung al in ‘n absolute gemors?!Hoekom mobiliseer opposisiepartye nie en tree President aan? Hoekom laat ons vir so lank toe dat die ANC gespuis ons mooi land so verwoes? Waar is ruggraat?

hpven ·

Kokerboom, dieselfde vrae wat ek aan die opposisie partye gevra het. Ek het selfs telefonies asook per e-posse dit direk aan hulle gevra en wag steeds vir antwoorde…. Ons hoef nie so te lewe nie!

Surfer ·

Hy het so groot geraak, so natuurlik om so te lewe, net normaal vir hulle.

Lurock ·

Dis om van te huil, hierdie pragtige land wat voor ’94 so pragtige land was. Sanksies het ons nie gekeer om steeds die beste te wees nie. Maar nou is alles weg, veeleer weg.

Heinrich ·

Wat ‘n uitmundende voorbeeld van kaderontplooig is die premier nie. Sy hoort agter tralies saam met daardie hele disfunksionele departement.

Pietertjie ·

Die massas kan nog toegelaat word om riool in die strate te laat afloop en om nie vir elektrisiteit te betaal nie, maar as daar nie meer drinkwater is nie gaan die ANC se kospakkies nie meer hond haaraf maak nie. Daar is gróót moeilikheid oppad; nie net in die Vrystaat nie.

Casper ·

Kokerboom,dit is juis waar die probleem lê,by die mense.Hulle drink eerder vuil rioolwater maar stem nog steeds ANC.Nie die provinsiale regerings of nasionale
regerings het die kundigheid om die probleme aan te spreek nie en hulle wil nie dienste privatiseer nie want dan loop die beursies leeg.Hoekom treê sakeliga,Solidariteit of Afriforum nie tussenbeide nie soos by ander munisipaliteite nie.

Swerwer ·

En wie is te danke vir hierdie gemors…………………Die wonderlike vlekkelose ANC Regering wat net ken van skep,moor,roof en vernietig. Ken nie van opbou en bêre vir die dag van môre nie!

Andre ·

Wie is almal betrokke om die land in sulke krisisse te dompel?

Danie ·

Daar is nie meer geld om enigiets te doen nie.Waarom is die potholes nog oop?Waarom al hoe meer water probleme?Waarom val die gesondheidsstelsel uit mekaar?Waarom kan die kragvoersiening nie eens een perseel opknap nie?Waarom val die polisie en regstelsel uitmekaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.