Waterskaarste kom dalk oor werk aan Lesotho-waterskema

Die Katse-dam in Lesotho. (Foto: John Wessels / AFP)

Kommer heers in dele van die Oos-Vrystaat en Gauteng oor moontlike watertekorte weens beplande instandhoudingswerk aan die Lesotho-Hooglandwaterprojek se watertonnels.

Die watertonnels sal gevolglik vir ses maande – vanaf 1 Oktober tot 31 Maart volgende jaar – gesluit word.

Hierdie skema voorsien water vir 60% van Gauteng se inwoners en miljoene ander mense in onder meer die Noord-Kaap, Noordwes en Mpumalanga.

Sommige kenners vrees nou dat watervoorsiening belemmer kan word indien die herstelwerk langer duur as die beplande ses maande.

Volgens die departement van waterwese en sanitasie (DWS) moet instandhouding van dié projek elke vyf tot tien jaar plaasvind. Die vorige keer wat die stelsel vir instandhouding gesluit was, was in 2019. Tydens dié geleentheid is daar bevind dat die staalvoerings van die tonnels dringende instandhoudingswerk benodig.

“Ons weet nie in watter toestand die pype is nie. Sê nou dit neem langer as beplan? Ons wil weet of daar noodplanne gereed is om dit dan te oorbrug,” het Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake, vandeesweek aan Maroela Media gesê.

Sy eenheid het ook vroeër ʼn skrywe hieroor aan die DWS gerig.

Onder meer wou AfriForum weet hoekom daar besluit is om die tonnels gedurende die somermaande te sluit wanneer verdamping groot waterverliese teweeg kan bring.

“Mense gebruik ook baie meer water in die somer as in die winter, dit sou net slimmer gewees het om die sluiting in die winter te doen.”

Prof. Anthony Turton, ʼn waterkenner verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, is egter nie bekommerd dat opgaardamme in Gauteng heeltemal sal opdroog nie.

Die Katsedam in Lesotho (Foto: Brendon Staniforth)

Water vanuit die Lesotho‑Hooglandprojek word gelewer aan die geïntegreerde Vaalrivierstelsel (GVRS). Dié stelsel sluit 13 damme in, waarvan die opvangsgebied versprei is oor Mpumalanga, die Vrystaat, die Noord-Kaap en Noordwes.

Volgens Turton is die meeste van die damme binne die GVRS so ontwerp dat dit vir ʼn jaar water kan voorsien, sou daar ʼn droogte heers. “Dit sou daarom nie dadelik ʼn krisis wees as die beplande instandhouding oor skedule gaan nie,” meen Turton.

Hy waarsku wel dat Gauteng meer wateronderbrekings kan ervaar as gevolg van die beplande sluiting. Dit is bykomend tot die Rand Water-krisis, sê Turton.

Rand Water, die grootmaatwaterverskaffer in Gauteng, gaan tans gebuk onder verskeie diensleweringsuitdagings.

Ifedotun Victor Aina, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se navorsingseenheid vir water- en produksie-ekonomie, het aan BusinessTech gesê die beplande sluiting kan ʼn wesenlike impak op watervoorsiening hê.

Veral inwoners wat onder die Mafube-, Nketoana-, en Dihlabeng-munisipaliteit in die Oos-Vrystaat val, sal saam met Gauteng waterbeperkings ervaar, meen Aina.

“Inwoners sal hulle verbruikgewoontes dienooreenkomstig moet aanpas.’

Hy verwys spesifiek na verbruikers langs die Liebenbergvleirivier en sy sytakke. Dit sluit dorpe soos Bethlehem, Reitz en Tweeling, asook gelisensieerde besproeiers in.

Jacques Jansen van Vuuren, bestuurder van die Mafube Business Forum (MBF), sê daar was vroeër samesprekings met die Mafube-munisipaliteit en DWS om die bou van tydelike opgaardamme te bespreek.

Maar volgens hom was daar min tot geen samewerking van die munisipaliteit se kant nie. Veral inwoners van Tweeling en Reitz, wat afhanklik is van water uit die Liebenbergrivier, kou naels.

“Daar is weer vir 15 Mei ʼn vergadering met DWS belê, maar ons is bekommerd, want die tyd raak te min; dinge kan nie so tot die laaste minuut gelos word nie,” sê Jansen van Vuuren.

Boere kan ook swaartrek, waarsku Aina. “Landbou steun swaar op konstante en betroubare waterbronne vir besproeiing, vee en ander boerdery-aktiwiteit. Die sluiting kan verminderde produktiwiteit, oesmislukkings en finansiële verliese tot gevolg hê vir boere wat op die Lesotho-Hooglandprojek steun. Dit kan op sy beurt ʼn impak hê op voedselsekerheid en die algehele ekonomie van die geraakte streke.”

Tog is die DWS nie bekommerd nie en die departement sê hy het genoegsame voorsiening gemaak vir enige watertekorte in die betrokke ses maande.

Luidens ʼn DWS-verklaring sal daar as gevolg van die sluiting 700 miljoen m³ vanuit Lesotho na die Vaalrivierstelsel oorgedra word, wat ʼn tekort van slegs 80 miljoen m³ sal los. Dié tekort sal opgemaak word ná die instandhouding afgehandel is.

“Dit is wel nie ideaal om soveel water vanuit Lesotho in die Vaaldam te berg nie omdat die verdamping in Lesotho minder is as in die Vaaldam,” sê Mavasa.

“Die instandhouding is egter dringend nodig om ʼn toekomstige ramp te verhoed,” sê sy.

Impakstudies wat deur die departement onderneem is, het ook gevind dat die sluiting ’n onbeduiende uitwerking sal hê op die algehele beskikbaarheid van water in die GVRS[ weens die geprojekteerde hoë bergingskapasiteit in die stelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.