Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement, het ‘n verklaring uitgereik in reaksie op ‘n berig in die Sunday Times getiteld: ‘SA spesmagte fnuik Lesotho staatsgreep’.
Volgens die berig het Suid-Afrikaanse troepe wat in Phalaborwa, Limpopo gestasioneer is, Vrydag saam met diplomate Lesotho binnegegaan. Daar word verder beweer dat daar Saterdag vroegoggend ‘n klopjag in Maseru uitgevoer is sodat Tom Thabane, eerste minister, na Suid-Afrika kon vlug.
“Ek is onseker of die Sunday Times se berig akkuraat is. Die saak word op ‘n baie hoër vlak hanteer,” het Dlamini gesê. Hy sê die saak sal deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) hanteer word.
Dlamini sê die Suid-Afrikaanse regering sal voortgaan om die situasie te monitor.
Thabane het Saterdag bevestig dat die weermag deur middel van ʼn staatsgreep beheer oorgeneem het in sy land en dat hy na Suid-Afrika gevlug het.
Ntlele Ntoi, woordvoerder van Lesotho se weermag, het intussen aan die Associated Press gesê dat die militêre operasie ten doel gehad het om die polisie te ontwapen. Hy sê hulle het inligting ontvang dat die polisie van plan was om wapens aan sekere politieke partye te verskaf voor ‘n betoging wat Maandag gehou sou word.
Ntoi het ontken dat hulle ‘n staatsgreep beplan het.
Lees ook:
ANC, DA veroordeel Lesotho-staatsgreep
Lesotho-staatsgreep: Eerste minister het na SA gevlug
Lesotho-weermag ontken staatsgreep
Lesotho-staatsgreep: Skote klap al van vroeg af
Moontlike staatsgreep in Lesotho