Weg met Zuma as president, gesig van MKP – Khumalo

Jabulani Khumalo (Foto: X)

Jabulani Khumalo, stigter van die uMkhonto weSizwe-party (MKP), vra dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) oudpres. Jacob Zuma as die gesig en president van dié party verwyder.

“Ek skryf aan julle in my hoedanigheid as die president van MKP. Dit is om die onmiddellike verwydering van mnr. Zuma as die gesig en president van MKP te versoek,” skryf Khumalo in ʼn brief gedateer 5 Mei.

Khumalo voer aan dat Zuma albei dié posisies danksy “bedrieglike en onwettige maneuvers” beklee.

“Trouens, toe hy op 16 Desember 2023 sy besluit aangekondig het om vir die MKP te stem en hom vir die MKP te beywer, het hy dit duidelik gemaak dat hy ʼn lid van die ANC sal bly,” sê Khumalo in sy brief aan die OVK.

Oudpres. Jacob Zuma by sy huis in Nkandla in KwaZulu-Natal. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Khumalo het intussen ook ʼn brief aan Zuma gerig waarin hy dit aan die oudpresident stel dat hy voorlopig uit die MKP geskors word. Khumalo voer in die brief aan dat Zuma hom aan wangedrag skuldig gemaak het en die party in oneer gebring het.

Die OVK het Dinsdag ontvangs van sy brief bevestig.

Die kommissie trek egter skouers op en sê hy hou hom nie met politieke partye se interne twiste op nie.

“Daarbenewens tree die kommissie slegs op in opdrag van die geregistreerde leier van die party. In die onderhawige geval is mnr. Jacob Zuma die geregistreerde leier van MKP. Dit is so sedert 10 April 2024.”

Khumalo, wat die MKP op 7 September verlede jaar geregistreer en tot onlangs nog in die tweede posisie op die MKP se nasionale kandidatelys was, is verlede maand uit die einste party geskop nadat sy gedrag glo in twyfel getrek is.

Khumalo en vier ander lede van die party is geskors nadat hulle as onderduimse elemente in die party uitgekryt is.

Khumalo sê die MKP het nie die korrekte prosedures gevolg toe die party hom geskors het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Amelia ·

Als net goeie beplanning Zuma gaan seker terug na anc of koalisie vorm met anc met hulle weet mens nooit

Republikein in die Wes Kaap ·

Nee my ou, sonder Zuma is jy ‘n nobody. Jy was vas aan die slaap. Zuma ken van kaping. Ek sou aanbeveel jy vlug uit JZN, blitsvinnig.

JohanR ·

Hoekom lewer Afrika altyd Bob Mugabe’s en Jacob Zuma’s op? En dan stem ons vir hulle! Wel omdat ek nie vir ‘n president myself kan stem nie is Zuma op ons afgestoot.

George ·

Nes die EFF, is die net n tak van die ANC, die EFF is net ANC jeugliga, sonder dat die ANC moet optree teen Malema.

SjN ·

Daar kom nou kaders na vore waarvan nog nooit eens enige nuus gehaal het nie, viva.

Leeubekkie ·

‘n Huis wat teen homself staan, sal val. Doen so voort, MKP! :-)

domheks ·

ou zupta sit julle lekker ore aan, hy is gewoond aan KAPINGS! Kyk maar na STAATSKAPING!

Rooi rissie ·

@ George jys 100% korrek. Die EFF het klaar aangekondig dat hulle die ANC gaan ” join” om die ANC sterker te maak. Hier gaan nog vonke spat voor die verkiesing lyk dit vir my hopelik stel hulle nie die verkiesing uit na n ander datum toe nie hier gebeur baie onder grondse dinge waarvan niemand weet nie maar tog kom alles uit soos die trokke wat deur die ANC gekoop is om die mense te laat registreer en Identiteit kaarte uit te reik voor die verkiesing en die datum van registrasie is lankal verby… laat mens wonder.

Henker ·

Ek reken hier is n hele paar skape in die veld wat nou so deurmekaar is soos kts in n tuimeldroër. Lekker kry ek nou!

skurweberg ·

As die vonke gaan spat hoop ek dit is net ‘n metafoor vir woord tussen hulle. Ons het per slot van rekening niks daarmee te doen nie, maar ons is deel van SA “en ons sal bly”

Di ·

Kyk niemand kan kers vashou as dit kom by die skelm Zuma nie. Hy gaan beslis nog sy dag kry, dis verseker.

Papsak ·

Nee asb net nie weer een van hulle vir president vir SA nie hulle almal SA verwoes verbrand verarm genoeg is genoeg asb GOD U SEEN VIR SA ASB????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.