Welkom terug, kaptein Eben

Eben Etzebeth sal die kapteinskapleisels teen die All Blacks vasvat. (Foto: Christiaan Kotze/AFP)

Wanneer jy teen die All Blacks kragte meet, kan jy nie bekostig om terug te staan nie – jy moet as’t ware bereid wees om vuur met vuur te beveg.

En wie kan op die rugbyveld ʼn beter vuur stook as Eben Etzebeth?

Die 31-jarige slot het voldoende van sy skouerbesering herstel en hy sal die Springbokke vir die 13de keer in sy loopbaan aanvoer wanneer hulle Saterdag teen die All Blacks in Auckland speel.

Tien spelers wat vroeër na Nieu-Seeland gereis het om te akklimatiseer, is in die wedstrydgroep opgeneem en Etzebeth sal hardebaarde soos Cheslin Kolbe, Jasper Wiese, Malcolm Marx en Kwagga Smith op die veld lei.

Nodeloos om te sê, die Springbok-afrigter is opgewonde om ʼn speler van Etzebeth se kaliber terug in die vyftiental te hê.

“Eben is ʼn baie ervare speler wat met 110 toetse agter sy naam spog, terwyl hy ook al vantevore die kapteinskaparmband gedra het. Hy is ongetwyfeld die geskikte persoon om die span aan te voer,” het Nienaber gesê.

Duane Vermeulen, wat die span met soveel welslae verlede naweek teen Australië op Loftus Versfeld gelei het, is op die plaasvervangersbank saam met spelers soos RG Snyman, Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit en Manie Libbok ingesluit.

Damian Willemse. (Foto: Jean Catuffe/DPPI/AFP.)

Damien Willemse sal die no. 10-trui teen die All Blacks dra.

“Ons het mooi beplan om ʼn goeie balans te handhaaf tussen spelers wat reeds aan Nieu-Seelandse toestande gewoond is en van die manne wat verlede week teen die Wallabies uitgedraf het.”

Nienaber wil nou soveel as moontlik spelers kans gee om hul vaardighede in ʼn wedstrydsituasie uit te stal – veral met die oog op die komende Wêreldbeker-toernooi.

Hy weet egter dat die All Blacks nie sommer op hul tuisveld sal hensop nie.

“Nieu-Seeland het ʼn sterk pak voorspelers en gevaarlike agterspelers. Hulle het juis verlede week [teen Argentinië] gewys wat hulle kan doen wanneer hulle genoeg spasie op die veld het. Ons sal ongetwyfeld op alle suiers moet vuur en ons verdediging sal rotsvas moet wees.”

Die wedstryd begin Saterdag om 09:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Damian Willemse (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Franco Mostert (flank), Kwagga Smith (flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (kaptein en slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Thomas du Toit, Vincent Koch, RG Snyman, Pieter-Steph du Toit, Duane Vermeulen, Grant Williams en Manie Libbok.

Uitslae van die laaste tien wedstryde tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland:

16 September 2017: All Blacks 57 – 0 Springbokke

7 Oktober 2017: All Blacks 25 – 24 Springbokke

15 September 2018: Springbokke 36 – 34 All Blacks

6 Oktober 2018: All Blacks 32 – 30 Springbokke

27 Julie 2019: 16 elk

21 September 2019: All Blacks 23 – 13 Springbokke

25 September 2021: All Blacks 19 – 17 Springbokke

2 Oktober 2021: Springbokke 31 – 29 All Blacks

6 Augustus 2022: Springbokke 26 – 10 All Blacks

13 Augustus 2022: All Blacks 35 – 23 Springbokke.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

De Villiers ek sien baie van die uitslae is soe met 2 punte. Die All Blacks weet hoe om in die laaste 5 minute te wen. Die Springbokke gaan krag met krag moet ontmoet, en nie ‘n oomblik terugstaan. Dit is 2023 se Clash of the Titans!

piet ·

Dis nie altyd die beste idee om jou beste speler kaptein te maak nie. As die kapteinskap sy spel net effe beinvloed kan dit ‘n verlies vir die span wees. Am kon dalk ‘n beter keuse gewees het in hierdie geval. Etsebet is ook ‘n aggressiewe speler, hoop nie hy verloor kop nie.

kragaap ·

Am is nie ‘n goeie keuse teen die AB’s nie. Hul moet voor gedomineer word so ‘n lekker agressiewe voorspeler is die regte keuse.

Casper ·

Jy kies jou beste begin 15 tal en moenie vir my sê heer Willemse is beter as Manie Libbok nie.Wilemse het al gewys hy swig onder druk en Libbok het sterk gestaan teen die Blafferbies of is dit Wallabies.

piet ·

Ek hou van Libbok maar jy’t dalk vergeet hoe swak hy kan wees as sy span onder druk is. Ek dink Libbok kan waardevol wees as impakspeler. Albei is egter strate beter as Jantjies so dis ‘n verbetering nietemin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.