Wellington se gehekelde Kersboom ’n ‘baken van hoop’

Wellington se “boom van hoop”. Dié kersboom is 10 m hoog en bestaan uit meer as 3 000 gehekelde lappies. (Foto: Carin Furness)

Onder Wellington se 10 meter hoë gehekelde Kersboom lê nie Kerspresente nie, maar iets veel kosbaarder: Dit simboliseer gemeenskap, samewerking, vriendskap en hoop. Die kleurvolle, verligte lappieskersboom pronk tans in die parkeerterrein van die NG Moedergemeente Wellington op dié Wes-Kaapse dorp en sal tot aan die begin van Januarie te sien wees.

Die boom bevat meer as 3 000 gehekelde lappies en is ʼn inisiatief wat deur die plaaslike ACVV-dienssentrum, ʼn organisasie sonder winsmotief wat maatskaplike dienste aan bejaardes en kinders lewer, van stapel gestuur is.

“Die grootste suksesverhaal van hierdie projek is dat mense uit verskillende ekonomiese omstandighede en verskillende rasgroepe almal bymekaargekom het om aan een gemeenskaplike doel te werk,” het Sorita Stoffberg, takvoorsitter, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Wellington se “boom van hoop”. Dié kersboom is 10 m hoog en bestaan uit meer as 3 000 gehekelde lappies. (Foto: Carin Furness)

“In die proses is vriendskappe gesmee en ons nou so ʼn hegte groep vroue. Ek noem hulle my Gideonsbende, want hulle is net altyd beskikbaar. Dis werklik mense wat uit al die verskillende vlakke van die samelewing kom.”

Stoffberg sê hulle was oorweldig deur die aantal plaaslike organisasies – ouetehuise ook –  en lede van die gemeenskap wat saamgespan het om die lappies te hekel – tot sover as in die Noord-Kaap.

Wellington se “boom van hoop”. Dié kersboom is 10 m hoog en bestaan uit meer as 3 000 gehekelde lappies. (Foto: Carin Furness)

Hulle het meer as 7 400 gehekelde lappies (ongeveer 15 cm by 15 cm elk) ontvang – veel meer as die 2 500 waarvoor hulle aanvanklik gehoop het. Die lappies wat nie vir die boom gebruik is nie, sal gebruik word om komberse mee te maak en in die komende winterseisoen aan behoeftiges in die gemeenskap geskenk word. Indien die lappies van die Kersboom ook nog bruikbaar is wanneer dit op 9 Januarie afgeslaan word, sal dit ook vir komberse gebruik word.

Stoffberg sê sy het die idee vir die boom in Desember verlede jaar raakgesien toe sy navorsing oor moontlike projekte vir 2022 gedoen het. Sy wou iets doen wat as ʼn goeie advertensie vir die ACVV-tak sal dien, maar ook die gemeenskap sal verenig.

“Ek het aan die begin van die jaar uitnodigings gedruk en vir mense gesê wat ons wil doen. Ons het toe nogal heelwat reaksie gekry van mense wat sê hulle wil ook by die projek betrokke raak. Almal het ingespring en gehelp.

“Kennisse en familielede van die mense hier het ook daarvan gehoor en ons het ná die Junie-vakansie selfs gehekelde lappies van die Noord-Kaap ontvang. ʼn Tannie wat ʼn knie-operasie ondergaan het en van die projek gelees het, het ook lappies uit Langebaan gestuur.”

Stoffberg sê die boom het intussen ook ʼn trekpleister in die dorp geword.

Al die gehekelde lappies wat die ACVV-tak op Wellington ontvang het. (Foto: Visual Graphix Wellington)

“Daar stop gereeld mense om foto’s te neem en na die boom te kyk, en ek kry nogal gereeld WhatsApp-boodskappe wat sê hulle was daar en dat hulle baie daarvan hou.

“Dit is ook nie meer net ʼn boom nie, dit gee hoop. Wanneer laas het jy gehoor dat mense so saamwerk – so dikwels hoor ons net hoe mense die heeltyd met mekaar baklei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.