Wenkbroue lig oor KZN se nuwe adjunkspeaker

Mluleki Ndobe tydens ʼn onderhoud kort nadat hy Woensdag in Pietermaritzburg as adjunkspeaker van die KwaZulu-Natalse wetgewer verkies is. (Foto: ANA)

Opposisiepartye het Woensdag vrae gevra oor die verkiesing van Mluleki Ndobe as die nuwe adjunkspeaker in die KwaZulu-Natalse wetgewer.

Die opposisie meen Ndobe se onlangse botsing met die gereg is genoeg rede dat die ANC hom nié vir die posisie moes benoem nie.

Ndobe is vroeër vanjaar in hegtenis geneem, en was langer as ʼn week in polisieaanhouding, nadat daar vermoed is dat hy moontlik betrokke was by die moord op Sindiso Magaqa, voormalige sekretaris-generaal van die ANC-Jeugliga. Die aanklagte teen hom is later voorlopig teruggetrek.

Die IVP, DA en EFF het egter vandag almal saamgestem dat Ndobe nie die amp as adjunkspeaker moes aanvaar nie.

Die EFF se Vusi Khoza het gesê Ndobe moet nog almal van sy onskuld oortuig. “Hy moes die voorbeeld van sy ANC-kollegas gevolg het, soos Malusi Gigaba en Nomvula Mokonyane wat hul benoemings van die hand gewys het omdat hulle besef hoe groot die wolk is wat oor hulle hang,” het Khoza gesê.

Hy het bygevoeg hoewel die party glo in die beginsel van onskuldig tot skuldig bewys, is die aanklagte teen Ndobe baie ernstig.

Velenkosini Hlabisa van die IVP het gesê die party is bekommerd oor die nuwe adjunkspeaker. “Ons het ons bedenkinge oor Ndobe omdat hy in hegtenis geneem is en aanvanklik borgtog geweier is. Sy stem is op ʼn openbare bandopname vasgevang waar hy sê hy sal die mense noem wat agter sy inhegtenisneming sit. Vandag het hy ʼn eed afgelê om eerlik te wees, so sy uitdaging is nou om dit wel te doen, want as hy dit nié doen nie, is daar niks eerbaars aan hom nie,” het Hlabisa gesê.

Provinsiale DA-leier Zwakele Mncwango het saamgestem dat die storm om Ndobe se kop te groot is vir hom om sy nuwe rol in te neem.

Ndobe het egter die opposisie se uitsprake verwerp en gesê dit is die ANC se besluit as regerende party of hy gepas is vir die posisie of nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Snuffels ·

Is dit nie maar n vereiste om n krimineel te wees om deel te vorm van die Anc nie? Hulle soek nie eerlike mense nie, en eerlike mense soek hulle nie

Karolis ·

Presies wat ek gedink het toe ek die berig lees. Ek sekondeer jou stelling in geheel.

Boerin ·

Snuffels daarvan is ek oortuig…hierdie berig en ander waar almal wat korrup ook is net rond geskommel word van die een belangrike pos na die volgende is betreurenswaardig!

Gert van Wierdapark ·

Die nuwe adjunk speaker lyk vir my na n Ace-ster! Hy hou seker self n paar melkkoeie aan, maar nie naby Vrede nie!?

Dries du Toit ·

Speaker in die parlement vermoor diere hierdie een dalk mense. Is dit die kriteria om speaker te word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.