Wêreldbekertoernooi: Duane steeds uitgeknip vir Bokke

Duane Vermeulen: Bokke wil beter speel. Foto: Twitter.

Duane Vermeulen sal 37 jaar en 69 dae oud wees wanneer die Springbokke op 10 September in Marseille se Stade Velodrome hul eerste wedstryd in vanjaar se Wêreldbekertoernooi teen Skotland speel.

As Vermeulen, wie sy bynaam Thor is, wel die span haal, sal hy nie oudste speler wees wat al in ʼn WB-toernooi gespeel het nie.

Dié eer behoort aan Diego Ormaechea van Uruguay wat 40 jaar en 13 dae oud was toe hy in 1999 se WB-toernooi gespeel het.

Victor Matfield was 38 jaar en 172 dae oud toe hy op 30 Oktober 2015 in die WB-wedstryd teen Argentinië gespeel het.

Vermeulen was nie in die Bok-toerspan wat aan die einde van verlede jaar deur die Noordelike Halfrond getoer het nie, met Jasper Wiese en Evan Roos wat die twee agtstemanne in die toerspan was.

Is Vermeulen nog goed genoeg en kan hy waarde toevoeg?

Op sy huidige spelpeil kan hy en Jasper Wiese in die Springbokgroep van 33 spelers wees, met Roos en Elrigh Louw dalk langs die kantlyn.

Vermeulen, wat reeds in 58 toetse gespeel het, het niks om te bewys nie en sy vertonings vir Ulster in die Verenigde Rugbykampioenskap en Europese Kampioenebekereeks is sy getuigskrif.

Gaan kyk maar na Ulster se wedstryd-statistieke.

Vermeulen het in nege VRK-wedstryde 75 duikslae uitgevoer en net met twee misluk. Sy slaagsyfer was 97,4%.

Wat wel belangrik is, hoe die duikslae uitgevoer is, en of die teenstander gestuit is.

Hy het 11 keer besit afgeneem en het in die huidige seisoen nog net twee strafskoppe afgestaan.

Hy het 30 keer die bal onder die arm gehad en 82 meter daarmee gevorder.

Ja, Vader Tyd het aangestap en wanneer ʼn span te veel veterane inspan, soos Wallis ʼn paar weke gelede in die Sesnasies-reeks, kan dit boemerang.

En ja, hy gedy in die Europese winter op swaar, nat velde.

Die Bokke kom in die WB-toernooi teen Skotland, Roemenië , Ierland en Tonga in die groepronde te staan.

Die Skotte en Iere gaan die tempo vinnig maak, hulle gaan na alle waarskynlik die bal rondgooi en Wiese sal in die beginspan wees (tensy hy beseer raak), maar teen Roemenië en Tonga gaan dit ʼn armdruk tussen die voorspelers wees.

Ek glo nie Roemenië en Tonga se voorspelers sal kan kers vashou by die Bokke nie en dit is waar Vermeulen se leiersrol baie belangrik kan wees.

Dis wanneer jy ou-kop moet wees, waar ervaring ʼn belangrike rol gaan speel en Vermeulen ʼn ankerrol kan speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.