Wêreldboekedag: Skakel af en lees (gedrukte boeke)

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Anthony Tran/Unsplash)

Wanneer laas het jy jou elektroniese toestel weggebêre en opgekrul met ʼn goeie boek? ʼn Gedrukte boek met daardie kenmerkende reuk van die chemiese samestelling van papier, ink en bindwerk?

Verlede week? Verlede maand? … Verlede jaar?

ʼn Nasionale leesopname toon dat meer as die helfte van Suid-Afrikaanse volwassenes steeds in huishoudings sonder boeke woon. Die opname toon óók dat 65% van kinders 10 jaar oud word sonder dat hulle ʼn enkele prenteboek in hul ouerhuis het.

“Dit is skokkende statistieke,” sê Jane Molony, uitvoerende direkteur van die Papiervervaardigersvereniging van Suid-Afrika (Pamsa).

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Priscilla Du Preez/Unsplash)

Die vereniging bevorder hom onder meer vir die gebruik van papier vir kommunikasie, verpakking en ook boeke en gedrukte media – veral op Wêreldboekedag wat Dinsdag gevier word.

Die nasionale leesopname toon egter dat 77% van volwassenes wat by kinders woon, glo dat dit belangrik is dat kinders ook gedrukte werk lees en nie net op selfone of digitale toestelle nie.

“Ons bepleit beslis nie dat lees op papier en as gedrukte werk as ʼn mededinger vir lees op skerms beskou moet word nie, maar digitale boeke moenie ʼn plaasvervanger wees vir die toeganklikheid van gedrukte leesmateriaal nie,” sê Molony.

Pamsa lys op Wêreldboekedag vier redes waarom papierboeke goed is vir jou:

Tasbare betrokkenheid

“Daar is ʼn ongeëwenaarde fisieke reaksie om ʼn boek vas te hou, sy bladsye om te blaai en sy gewig te voel. Dit kan ʼn dieper band met die inhoud skep, veral wanneer kinders betrokke voel by prenteboeke,” sê Molony.

Molony sê gedrukte boeke verbeter die leeservaring, maak dit pret en meer aanloklik.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Elisa Calvet/Unsplash)

 

Verbeterde fokus en begrip

Lees met begrip is ʼn kritieke ontwikkelingsmylpaal, aldus Pamsa. Die nasionale leesopname toon minder as 20% van graad 4-leerders kan lees met begrip. Navorsing dui intussen daarop dat lees op papier beter fokus en begrip aanmoedig, vergeleke met lees op ʼn skerm.

“Sonder digitale afleidings kan die blaai deur papierbladsye lesers help om konsentrasie te behou en inligting meer doeltreffend te behou, aangesien hulle ʼn visuele kaart skep van wat hulle gelees het of waar op die bladsy hulle dit gelees het,” verduidelik Molony.

Beter vir oë en brein

Lees vanaf ʼn gedrukte bladsy verminder oogspanning en blootstelling aan blou lig, wat beter slaap en algehele welstand bevorder, veral wanneer jy lees voor slaaptyd.

“In ʼn era wat deur elektroniese skerms oorheers word, kan die keuse van papierboeke ons help om van digitale toestelle te ontkoppel,” sê Molony.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Florencia Viadana/Unsplash)

Sentimentele waarde, versamelbaarheid én deelbaarheid

Pamsa sê daar is ʼn onvergelykbare sentimentaliteit teenoor papierboeke. “Of dit nou ʼn gekoesterde jeugverhaal, ʼn geskenk van ʼn geliefde, of ʼn behoorlik verslete gunsteling is, boeke is herinneringe. Vir ywerige lesers en versamelaars is daar ʼn spesiale plesier om ʼn konkrete biblioteek te bou, ʼn vertoon van tasbare herinneringe aan literêre reise en persoonlike mylpale.”

Gedrukte boeke kan ook onder familie en vriende gedeel word.

“Terwyl digitale formate gerief en toeganklikheid bied, gee papierboeke ons ʼn ryker ervaring wat baie van ons steeds onvervangbaar vind,” sê Molony.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Chris Lawton/Unsplash)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mariana ·

Niks kan die reuk van boeke vervang nie, sommige ouer boeke, het net daai spesiale reuk en papier wat anders voel. Boeke bly die beste…. elkeen uniek. Lees kan ander wêreld na jou toe bring en niemand kan jou boekkennis van jou af wegneem nie. Lees = leer

JAPIE ·

Wat sou ek tog doen sonder ‘n biblioteek met sy boeke. Ek lees enige soort boek. Ek koop ook boeke, veral by basaars en tweedehandse winkels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.