Wes-Kaap kry interdik voor nasionale stilstand

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: EFF/Twitter)

Die Wes-Kaapse regering het saam met die Stad Kaapstad ’n interdik van die Kaapse hooggeregshof bekom in aanloop tot die EFF se nasionale stilstand.

Dié interdik verbied enige onwettige betogings, aanhitsing tot geweld, intimidasie en die beskadiging van eiendom eerskomende Maandag in die Wes-Kaap.

Die Stad Kaapstad het hom aanvanklik tot die hooggeregshof gewend voordat die Wes-Kaapse provinsiale regering as party tot die aansoek toegetree het.

Premier Alan Winde sê die provinsiale regering se toetrede tot die saak was spesifiek daarop gemik om die interdik buite Kaapstad se munisipale grense na die hele Wes-Kaap as provinsie uit te brei.

“Ek hoop hierdie interdik stuur ’n duidelike, ondubbelsinnige boodskap aan enigiemand wat daarop ingestel is om ons provinsie en die land Maandag tot stilstand te dwing.”

Winde sê die interdik gaan nie net anargie tydens die stilstand voorkom nie, maar ook verseker dat Kapenaars wat Maandag wil gaan werk en ’n inkomste verdien, in staat gestel word om dit te doen.

“Die Wes-Kaapse regering sal geen pogings duld om wetsgehoorsame burgers te verhoed om met hul bedrywighede voort te gaan, asook geweld aan te blaas of lewens in gevaar te stel nie. Almal in ons land het die reg om te betoog, maar nie om hul sienings op ander af te dwing of hul regte te skend nie.”

Kaapstad se burgemeester, Geordin-Hill Lewis, het op sy beurt gesê die Moederstad beoog om Maandag bedrywighede normaalweg voort te sit.

“Almal het die reg om in Suid-Afrika te betoog, maar dit is ondemokraties en onwettig om met geweld en plundering te dreig,” sê die burgemeester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.