Wes-Kaap: Laagste aantal padsterftes in feestyd

(Argieffoto: SA Polisie)

Vergeleke met die bedrywige langnaweek oor Kersfees word die langnaweek waaroor die Nuwejaar val tradisioneel verbind met hoë verkeersvolumes veral rondom die kusgebiede van die Wes-Kaap. Die harde werk van verkeerswetstoepassers met die ondersteuning van ander beamptes en nooddienste, asook wetsgehoorsame padgebruikers het gelei tot die laagste aantal padverwante sterftes hierdie feestyd.

Só het dr. Ivan Meyer, waarnemende provinsiale minister van mobiliteit, gesê.

Altesaam 14 mense het hul lewe tussen 28 Desember 2022 en 3 Januarie 2023 op die paaie in die provinsie verloor, onder wie een bestuurder, twee motorfietsryers, twee passasiers en nege voetgangers.

Meyer sê dit is kommerwekkend dat die meeste padsterftes jaar ná jaar aan voetgangers toegeskryf kan word.

“Motoriste moet bedagsaamheid teenoor voetgangers toon waar hulle ook al is. Voetgangers sterf byna altyd in botsings met voertuie wat vinniger as 60 km per uur ry. As jy stadiger ry, sal jy meer tyd hê om voetgangers in die pad te vermy. Indien jy dan wel die voetganger tref, is die kanse dat hy of sy die slag oorleef groter,” sê Meyer.

Meyer waarsku motoriste om veral versigtig te wees wanneer hulle kindervoetgangers teëkom. “Hulle kan onvoorspelbaar optree en sukkel om te verstaan hoe vinnig ʼn voertuig beweeg. Omdat kinders kort is, sal hulle in ʼn botsing waarskynlik teen die kop of bors beserings opdoen wanneer ʼn motor hulle tref.”

Verkeersoortredings

‘n Padblokkade in die Wes-Kaap. (Foto: Hansie Linde)

Volgens Jandre Bakker, woordvoerder van die departement van vervoer in die Wes-Kaap, het die departement altesaam 12 651 boetes in hierdie tydperk uitgereik vir verskeie verkeersoortredings in die provinsie.

Tesame daarmee was daar altesaam 315 geïntegreerde padblokkades in dié tydperk in die provinsie waartydens 42 910 voertuie voorgekeer en deursoek is.

Altesaam 431 spoedoortredings is aangeteken.

Die hoogste snelhede wat aangeteken is, is 178 km/h in ʼn 120 km/h-sone, 139 km/h in ʼn 100 km/h-sone, 124 km/h in ʼn 80 km/h-sone, 114 km/h in ʼn 70 km/h-sone, 79 km/h in ʼn 60 km/h-sone en 59 km/h in ʼn 40 km/h-sone.

Bakker sê daar is altesaam 103 mense in hegtenis geneem vir verskeie verkeersoortredings, onder wie 70 dronkbestuurders en nege spoedvrate.

Vier mense is ook vir roekelose en nalatige bestuur vasgekeer, 14 mense vir die besit van bedrieglike dokumentasie, een mens vir omkopery, een mens vir die verhindering of belemmering van ʼn gemagtigde beampte in die uitvoering van sy of haar pligte, een mens wat ʼn motorvoertuig bestuur het sonder die eienaar se toestemming, twee mense vir die bestuur van ʼn onpadwaardige voertuig en een mens vir aanranding.

Altesaam 41 voertuie is geskut en 152 is gestaak weens onpadwaardigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Die Wes Kaap is die beste omrede hulle bevoegde mense het wat in beheer is,dink net as die weskaap ‘n onafhanklike land kan word.

Diklizzy ·

Voetgangers mag nie langs ‘n snelweg loop nie, tog sien jy dit daagliks…….

My Mening ·

My ervaring is dat sommige voegangers nie ‘n saak het met waar hulle loop of die pad oorgaan nie. As motoris moet ek logies vir als uitkyk, ens, maar dis asof party voetgangers nie eers na aankomende verkeer kyk as hulle die pad oorsteek nie en party drentel oor die pad, loop nie om aan die anderkant te kom nie.

Ek het deesdae amper ‘n groter probleem met voetgangers as met onbedagsame motoriste!

marius ·

Korrek . Hulle het ‘n “ry my net raak ” houding . Die met hul trollies laat my van my trollie afval .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.