Wetenskaplikes ontwikkel plan om insekte te bewaar

Bye (Foto: Pixabay)

Wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) het saam met 73 ander wetenskaplikes wêreldwyd ʼn padkaart ontwikkel om insekte te bewaar.

ʼn Geskatte 40% van insekte wêreldwyd word deur uitwissing bedreig.

Dr. James Baxter-Gilbert van die US se sentrum vir indringerbiologie en prof. Michael Samways, insekkenner van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, het tot die ontwikkeling van die padkaart bygedra. Die span wetenskaplikes werk onder leiding van prof. Jeff Harvey van die Nederlandse Instituut vir Ekologie.

Die padkaart bevat stappe wat geïmplementeer kan word om die wêreldwye insekbevolking te bewaar. Hierdie stappe sluit in pogings om mense in te lig oor die belangrike rol van insekte en die aanvulling van restourasie- en bewaringsprogramme. Volgens die padkaart moet die gebruik van plaagdoders ook uitgefaseer en die invoer van ekologies-skadelike produkte verminder word. Daar moet ook ʼn grootskaalse beoordeling plaasvind van die spesies, gebiede en kwessies wat veral bewaring nodig het.

Baxter-Gilbert is van mening dié padkaart sal regerings, navorsers en bewaringskundiges help om die bedreigings op insekgemeenskappe te takel om só die afname van insekte wêreldwyd te bekamp. Hy meen dit is in mense se beste belang om insekte te bewaar, aangesien hulle ’n belangrike rol speel in die instandhouding van ekostelsels en die volhoubaarheid van funksionele voedselnetwerke. “Sonder die insekte sal die natuur soos ons dit ken, verlore gaan. Insekte is noodsaaklik vir menslike voedselproduksie, met baie spesies wat gewasse bestuif en as ’n biologiese plaagdoder dien,” voeg hy by.

Volgens die US gaan dié projek op die lange duur vennootskappe sluit om nuwe habitatte vir insekte te skep en bestaandes te herstel en te beskerm. ’n Wêreldwye moniteringsprogram gaan ook van stapel gestuur word sodat mense dieselfde metodes kan gebruik om insekte te beskerm.

Baxter-Gilbert sê dié bewaringsaksies is nou meer nodig as ooit, weens die wêreldwye verlies aan biodiversiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Luister ·

Ons almal weet dit gaan nie gebeur nie. Daar is nie geld daarvoor nie. Darem het al hierdie navorsers hulle geld verdien deur ‘n padkaart uit te werk.

Maggies ·

Om insekte te bewaar moet myn insiens instinktief plaasvind in die menslike spesie. Dit is ouers se plig om kinders van kleins af in te lig oor die noodsaaklikheid vir ons ekosisteem, asook gevaar (waar nodig) van insekte, voëls, diere ens. Ons fauna en flora word deur onkundigheid geruïneer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.