Wetgewing beplan om koalisies te stabiliseer

Adj.pres. Paul Mashatile (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die regering beplan om binne die volgende twee maande ʼn nasionale dialoog oor koalisieregerings te begin, met dié belangrike kwessie wat dringende aandag en kollektiewe wysheid vereis.

Adj.pres. Paul Mashatile het Donderdag vrae in die parlement beantwoord en gesê munisipaliteite is dikwels wanfunksioneel weens die afwesigheid van ʼn regulatoriese raamwerk wat koalisies rig.

Volgens Mashatile is daar sekere beginsels wat as grondslag moet dien vir ʼn koalisieregering. Dit sluit in dat die inwoners van ʼn betrokke munisipaliteit eerste gestel moet word, koalisieregerings moet daartoe verbind wees om armoede te bekamp, asook om ʼn groeiende en inklusiewe ekonomie te bou, ʼn koalisieregering moet saamgebind word deur ʼn verbintenis tot goeie regering met geen verdraagsaamheid vir korrupsie nie en die party wat die meeste stemme gekry het, moet toegelaat word om die koalisie te lei.

Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, het Mashatile se verbintenis verwelkom tot die instelling van wetgewing wat poog om koalisieregerings te stabiliseer.

Die DA het wetgewing voorgestel wat vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer is en waarskynlik binne die volgende paar weke aan die parlement bekendgestel sal word. Hierdie wetsontwerpe poog om die Grondwet en die Wet op Munisipale Strukture van 1998 te wysig.

Volgens Gwarube het die wysigings onder meer ten doel om verkiesingsdrempels daar te stel om oormatig gefragmenteerde koalisieregerings te stabiliseer, om die tydsraamwerk te verleng vir onderhandeling en die insweer van ʼn regering ná ʼn verkiesing op plaaslike, provinsiale en nasionale vlakke en om die gebruik van mosies van wantroue tot een keer per jaar te beperk.

“Ons vertrou dat die ANC klein partyverskille opsy sal sit en hierdie wetsontwerpe in die parlement sal ondersteun. Dit is van kritieke belang dat ons koalisieregerings saamstel wat stabiel, skoon en verantwoordbaar is. Dit sal veral belangrik wees aangesien ons op pad is na die 2024-verkiesing waar die ANC waarskynlik sy nasionale meerderheid en sy meerderheid in ʼn paar provinsies sal verloor.”

Koalisie-wetgewing mag nie geskep word om ANC te bevoordeel

Dr. Corné Mulder

Wetgewing waarmee beoog word om ʼn raamwerk te skep om probleme rakende koalisies aan te pak, mag nie ʼn instrument word net om die ANC te bevoordeel en aan bewind te hou nie, sê dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep.

Die blote feit dat die ANC koalisies enigsins bespreek, is insiggewend en van historiese belang aangesien dit die eerste keer gebeur sedert die ANC 29 jaar gelede aan bewind gekom het.

“Dit is insiggewend dat die ANC-regering koalisiewetgewing belangrik ag noudat hy duidelik probleme ondervind. Wetgewing mag onder geen omstandighede gebruik word om ʼn party wat steun verloor, aan bewind te hou deur ander partye te benadeel nie.”

Mulder meen die strukturering van ʼn koalisie mag nie beleidsvoorskriftelik wees nie en sê dit is oneerlike veralgemening om bestaande koalisies as ʼn mislukking af te maak.

“Daar is tans talle suksesvolle koalisies in Suid-Afrika wat dit duidelik maak dat dit wel ʼn haalbare en werkbare opsie is om van die ANC ontslae te raak. Waar probleme ondervind word, is dit die geval waar die ANC betrokke is by georkestreerde pogings om die koalisies aktief te ondermyn.”

Die vraag moet daarom gevra word waarom die ANC nou wetgewing rakende koalisies oorweeg terwyl die politieke mag uit sy hande begin gly, waarsku Mulder. “Die ANC het by herhaling gewys hy kan nie vertrou word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC doen net wat is tot voordeel van die ANC.

annie ·

Hmm… Sodra ‘n ANC- of EFF-kader as burgemeester gekies is moet verdere redekawel dadelik stop, maar nie as ‘n ander party se kandidaat gekies is nie. Dit is duidelik. Mens wens dikwels dat die ANC soms tog perongeluk iets reg wil doen.

CHRISTINE ·

So kortsigtig en kinderagtig.
Ek verstaan nie hoekom die anc en taxibestuurders so entiteled is nie.

Pampoen ·

Daar moet weggedoen word met politiek op munisipale vlak. Munisipaliteite moet gerig word op dienslewering. Daar moet kandidate aangewys word wat in hulle wyk woon.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan sal dit baie beter gaan. In die ou bedeling was raadslede deeltyds, selfs die burgermeester.

CHRISTINE ·

Die ANC maak net swak besluite waarvoor die Suid Afrikaner van die historiese rainbow nation, elke dag moet hoes.

Anonymouse ·

Ja, kom ons gaan voort met die koalisies wat munisipaliteite in absolute chaos dompel elke keer as iemand nie hulle sin kry nie. Dis baie belangriker dat raadslede vir dae in vergaderings sit om nuwe burgermeesters, ens te kies as wat hulle hulle werk doen wat die inwoners bevoordeel. Dit werk so goed sover, hoekom gaan ons dit verander?

OW ·

Word wakker my vriend.Ons is al byna 30 jaar in ‘n grondwetlike bestel wat net nie die mas kan opkom nie.Ons is ligjare verwyder van die vorige bedeling waar daar ten minste behoorlike dienslewering was,op alle vlakke van regering.Iets moet gedoen word,want ons kantel na die mislukkings wat al ou nuus is vir Afrika.

Papsak ·

Die anc doen net wat hulle voordeel kan uit kry ek stem nou kry jy nog mense wat vir hulle sal stem en staan so hulle het ons almal daar al swak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.