Wettige horings hou groot voordele in

Argieffoto

Argieffoto

Gemeenskappe in Suid-Afrika kan baie baat by die implementering van gewettigde handel in renosterhoring en die betrokke gemeenskappe se lewensgehalte sal aansienlik verbeter daardeur, maar dit sal ook die druk op die regering verminder om onwettige stropery te bekamp, volgens ‘n studie wat sopas uitgereik is.

Michael Murphree, ’n navorser aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit se Afrika-Sentrum vir Rampstudies, is van mening dat die Suid-Afrikaanse regering se standpunt om beperkte handel in witrenosterhoring te probeer bewerkstellig, ’n groot ekonomiese geleentheid is. “Wanneer ’n renoster op ’n verantwoordelike wyse onthoring word, groei die horing binne twee jaar terug na sy oorspronklike lengte,” het Murphree gesê.

Sy voorstel is dat gemeenskappe wat suksesvol was met grondeise, of wat grond tot hul beskikking het, die geleentheid gegee moet word om deel te neem aan ’n renosterboerderyprojek. Hy sê geen vorm van landbou sal dieselfde opbrengs per hektaar lewer as wat renosterboerdery sal lewer nie.

“In Noordwes is daar ’n voorbeeld van ’n boer wat met sowat 700 renosters op 5000 hektaar boer,” het Murphree bygevoeg. “Met ander woorde, een renoster het ongeveer tien hektaar weiding nodig as die boer ook aanvullende, kunsmatige voer vir die diere gebruik. ’n Renoster het sowat 23 kilogram kos per dag nodig. As aanvullende voer nie gebruik word nie, is die aantal hektaar wat nodig is per renoster baie meer.”

Tans is die markwaarde van renosterhoring tussen R200 000 en R300 000 per kilogram. Party horings kan tot vyf kilogram weeg, wat ’n potensiële waarde van R1 miljoen beteken.

Volgens Bettie Swart van die Noordwes departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake, natuurbewaring en toerisme, is hulle riglyn ongeveer 200 hektaar natuurlike weiding vir elke renosterkoei en haar kalf. Drie renosters met horings van gemiddelde lengte kan steeds ’n opbrengs van meer as een miljoen rand per jaar lewer op 600 hektaar natuurlike weiding.

“Wat ook in die guns van private eienaarskap tel, is die feit dat hierdie renosters aansienlik minder gestroop word as dié in groot nasionale parke. Dit is omdat beveiligingsmaatreëls beter toegepas kan word op ’n kleiner gebied as op duisende hektaar wat nie behoorlik gepatrolleer kan word nie,” aldus Murphree.

Murphree is ten gunste van ’n voorstel dat SANParke renosters aan hierdie gemeenskappe “leen” sodat hulle kan voordeel trek uit die wettige oes van en handel in die horings. “Die renosters moet egter die eiendom van SANParke bly, wat op sy beurt saam met ander private renostertelers tegniese en wetenskaplike ondersteuning aan boere kan bied sodat die diere in ’n goeie toestand kan bly,” het hy bygevoeg. “Dit is ’n gulde geleentheid vir gemeenskappe om selfonderhoudend te wees.”

Hy gebruik Namibië as ’n voorbeeld. Tydens ’n navorsingsbesoek aan hierdie buurland het hy bevind dat gemeenskappe hulle eie skole, kerke, klinieke, ens bou en in stand hou – alles met fondse wat hulle genereer uit die volhoubare gebruik van die natuur. Die probleem met die handel in renosterhoring is dat dit sedert die 1970’s internasionaal verbied word. Murphree argumenteer dat die verbod niks gedoen het om die vraag óf die aanbod van renosterhoring te verminder nie, en dat die mark nou beheer word deur kriminele sindikate.

Hy sê die huidige ontstellende golf van onwettige stropery is vinnig besig om hand uit te ruk as gevolg van die groot aanvraag vir horing in Asië, waar dit gebruik word in tradisionele medisyne en as ’n statussimbool deur die rykerwordende Asiatiese elite.

Daar word beweer dat die renosterhoring medisinale waarde het en dien as seksuele stimulant, maar daar is geen wetenskaplike bewyse om dit te steun nie. Alhoewel renosters se geboortesyfers steeds hoër is as die sterftesyfers – met die getal gestroopte renosters ingesluit – is die Suid-Afrikaanse getalle vir stroping vinnig op pad na die 1000-merk. Dit is veral ’n bron van kommer vir die nasionale parke se renosterbevolking, omdat dit so moeilik is om hulle duisende hektaar doeltreffend te beskerm.

“Daar is nie een enkele oplossing wat hierdie probleem uit die weg kan ruim nie,” het hy gesê. “Die regering moet fokus op ’n kombinasie van inisiatiewe, wat beter wetstoepassing en intelligensie insluit, sowel as die gemeenskap se ondersteuning en betrokkenheid, en ’n goed gereguleerde wettige mark vir renosterhoring. Op plaaslike en internasionale vlak moet ’n daadwerklike poging aangewend word om die kriminele sindikate die stryd aan te sê, en in die veld is meer, goed opgeleide veldwagters nodig wat behoorlik toegerus en gehuisves word.”

Volgens Murphree is die aantal veldwagters in nasionale parke nie naastenby genoeg nie. “Die oplossing is nie om die polisie en die weerwag hiervoor in te span nie, want hulle het nie die nodige ervaring van die veld nie. Weermag- en polisielede is byvoorbeeld nie opgelei om spoor te sny nie. Die gebruik van ink op of in die renosterhoring is ook nie geslaagd nie, omdat renosterhoring bestaan uit keratien, wat dieselfde stof is waarvan naels en hare gevorm word. Die tekstuur is so hard en dig dat die ink nie deur die hele horing kan dring nie. Die voorstel dat renosters deur staatsveeartse onthoring word, lyk na ’n beter idee, want navorsing het in 2012 getoon dat onthoring nie ’n langtermyn- negatiewe uitwerking op renosters het nie – so lank al die renosterbulle in ’n bepaalde park of gebied op dieselfde tyd onthoring word, om te verhoed dat sekere renosters deur ander beseer word in ’n geveg.”

Ongelukkig is onthoring is ’n baie duur proses. Volgens die nasionale departement van omgewingsake kos dit R8 000 om een renoster te onthoring. Om 10 000 renosters te onthoring teen agt renosters per dag, sou dus ongeveer 1 000 dae neem en R84 miljoen kos. Die departement meen dit is eerder ’n oplossing vir kleiner natuurreservate en private eienaars, waar dit baie suksesvol blyk te wees.

Tans het Suid-Afrika ongeveer 75% van die wêreld se renosterbevolking, wat bestaan uit net meer as 24 000 renosters.

“Een renoster kan miljoene rande se inkomste genereer, as in ag geneem word dat hierdie diere se lewensverwagting tussen 35 en 50 jaar is,” het hy gesê. Om die renosters te red, moet ons volgens Murphree “vindingryk en kreatief wees”, eerder as vashou aan ou benaderings soos ’n algehele handelsverbod, wat duidelik nie die renosters beskerm nie.

“Daar is steeds ’n geleentheid om ’n florerende renosterbevolking in Suider-Afrika te hê, maar daarvoor het Suid-Afrika internasionale samewerking en ondersteuning nodig, en dit is ongelukkig onwaarskynlik dat dit sal gebeur in die nabye toekoms,” het hy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae