Wiskunde sal nié opsioneel word

kinders_wiskunde.jpg

Foto: Imgarcade.com

Die departement vir basiese onderwys het Donderdag gesê daar is geen voorneme om wiskunde ʼn opsionele keusevak vir leerders te maak nie.

Dit volg nadat die departement verlede week bevestig het dat hy besig is om ʼn voorstel te ondersoek wat aanbeveel dat gr. 7, 8 en 9-leerders nie meer wiskunde hoef te slaag om na die volgende graad bevorder te word nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement, het gesê dié voorstel moet nog met skole, ouers en belangegroepe bespreek word. Die departement het gesê die voorstel word oorweeg omdat die slaagvereistes vir gr. 7 tot 9 tans hoër is as die vereistes vir gr. 10 tot 12.

Mhlanga het die gerugte dat die departement nou van plan is om wiskunde opsioneel te maak skerp gekritiseer. “Die gerugte is misleidend en gestroop van die waarheid. Die departement is bewus en erken die belangrike rol wat wiskunde in die ontwikkeling van die nasie speel.

“Wiskunde is ʼn verpligte vak vir alle leerders in die Suid-Afrikaanse skoolstelsel van gr. 1 tot 9. Van gr. 10 het leerders ʼn opsie tussen drie vorms van wiskunde. Daar is wiskunde soos ons dit ken, wiskunde-geletterdheid vir leerders wat nie van plan is om ʼn naskoolse opsie te volg wat wiskunde as ʼn toelatingsvereiste het nie, en tegniese wiskunde vir die leerders wat ʼn tegnologieverwante loopbaan ná skool wil volg.”

Mhlanga het gesê dat daar dus geen stadium is waar ʼn leerder nié wiskunde as ʼn vak het nie tot die leerders gr. 12 voltooi het.

“Dit maak wiskunde as vak in al sy vorms verpligtend vir alle leerders binne die skolestelsel,” het hy bygevoeg.

Die departement het ook gesê hy is glad nie van plan om sy posisie oor wiskunde nou of in die nabye toekoms te verander nie.

“Ons het ver gevorder om leerders se prestasie in wiskunde te verbeter. Dit kan gesien word in die verbetering van leerders se resultate in verskeie nasionale, streeks- en internasionale assesserings, insluitend die Nasionale Senior Sertifikaat, die Suider- en Oos- Afrikaanse Konsortium vir die Monitering van Opvoedingskwaliteit (SACMEQ) en die Neigings in Internasionale Wiskunde en Wetenskapstudies (TIMMS) se uitslae.”

Die aantal leerders wat wiskunde met 50% in gr. 12 geslaag het, het in die afgelope jare toegeneem, sowel as die aantal leerders wat die vak met lof geslaag het.

“Hierdie verbeterde resultate sluit leerders van kwintiel 1 tot 3 skole (skole in benadeelde en ekonomiese arm gemeenskappe) en leerders van kwintiel 4 tot 5 skole in.”

Volgens Mhlanga het Suid-Afrika ʼn groot verbetering in die SACMEQ-toetse se uitslae gesien en is Suid-Afrika as die land met die beste verbetering in sy telling vir wiskunde bestempel.

Dieselfde tendens is in die TIMMS-uitslae waargeneem waar Suid-Afrika die hoogste verbetering van al die lande wat deelgeneem het geregistreer het.

Die departement meen die verbetering was nie net ʼn blote toeval nie, maar die resultate van ʼn gesamentlike poging van alle belanghebbendes in die sektor.

“Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, wil die nasie gerusstel dat die belangrikheid van wiskunde in die leerplan se ontwerp, asook die beplanning van onderwys, steeds beklemtoon sal word,” het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Lee ·

Hulle kan dit maar net sowel skrap soos vroeer jare want so laag soos wat hulle huideglik die slaagsyfer wil maak kan ek nie sien wat die doel is om wiskunde as ‘n vak te hê nie.

LIZETTE ·

Ek dink dat hulle wiskunde ook maar opsineel kan maak as vroeer. Nie almal van ons is wiskundig aangele nie. My kind moet alreeds ekstra wiskundeklasse vat omdat sy nie die wiskunde verstaan nie en die onderwyser nie tyd het om dit verduidelik vir die kinders wat sukkel om wiskunde te verstaan nie. Sy is in gr. 6 en selfs ek as volwassene sukkel om van die wiskunde te verstaan wat hulle doen. Nou moet ek ook byse….ek was nog nooit lief vir die vak wiskunde nie. Die dag as die weer opsioneel word, sal ek hartlik juig!!

Michael ·

My opinie is dat hulle wiskunde geletterdheid geskrap moet word en die standaard van wiskunde opgeskerp moet word tot die standaard wat van toepasing is in lande soos Duitsland en België die standaarde in Suid afrika word verlaag om aan tepas by onderwysers wat nie wiskunde vaardig is nie en die kinders in staatskole ly daaronder.

Columbiana ·

So as wiskunde gelegerdheid geskrap word wat dan? Nie alle kinders kan tradisionele (core) wiskunde doen nie maar skryf hulle in vir wisk geleterdheid en hulle blom. Dis naief om sommer te sê die vak moet geskrap word. Weer voorbeeld vam akademiese snobisme?

m ·

Sal juig as wiskunde opsioneel is. Die kinders sukkel erg daarmee.

Amanda ·

Werklik….ek glo wiskunde kan wel baas geraak word. Persoonlik vind ek net die gebrek lê by die leerkragte. SA raak al hoe meer van standaard af.

vrikie ·

Amanda ek stem 100% met jou saam, ek het eers na skool by iemand beland wat my wiskunde kon verduidelik en ek gebruik tot vandag toe daardie tegnieke

Denise ·

Sal graag wou sien dat navorsing gedoen word oor watter invloed die ouers se gesindheid teenoor 1) hul kind, 2) die vak en 3) die skool (ingesluit teenoor die onderwysers), het op die kind se akademiese prestasie i.d algemeen en meer spesifiek dan i.d vak.

Die belangeloosheid en “afwesigheid teenoor skoolgaan” waarmee kinders i.d klasse sit, maak dat selfs n uitmuntende onderwyser se insette ge”nullify” word.

Verder weet ons dat voeding n geweldige rol speel i.d ontwikkeling v kinders. Die gemorskos waarop baie kinders se breine deesdae moet funksioneer, is skokkend.

Struktuur in kinders se lewens is n skaars kommoditeit… gesinne leef onafhanklik v mekaar i.d huisopset: elkeen maak wat hy wil wanneer hy wil. Groepskohesie bestaan nie. Waarom sal n kind deel voel en wil wees v dit wat i.d klas aangaan as sy bestaan as gesinslid tuis nie saak maak nie?

Gesins- en samelewings-disintegrasie se effekte strek wyd.

Eish ·

Née o genade, sonder wiskunde sou nie een van my kroos professionele mense kon word nie!

susan ·

Goed so dan mag niemand universiteit toe sonder wiskunde van graad 1 tot 12 ??

John ·

Sleep die vak verander so in sleep die kind… tot verby universiteit en wat dan? Jare gelede is stelsels soos hoer- en laergraad en 3 bane getoets. Selfs tegniese opleiding word deesdae grade genoem weens die stigma wat glo daaraan kleef. Hoekom word die Russiese-skoolstelsel, wat meer loopbaan gerig is, nie nagevors nie? Kinders wat sukkel en kunsmatig vorder kry of ‘n skelm streep, ly aan ‘n minderwaardigheidskompleks of word boelies. Waarheid is tog die beste. Baie kinders is uiters kunstig of musikaal aangele en meer kunsskole orals met blootstelling aan wiskunde op laer vlak is gewens; met praktiese wiskunde dus. Argitekte het bv prakties mense nodig om hul drome op papier staan te maak. Opleiding moet sekerlik lei (nie ly) na ‘n werk en menswaardigheid of beoog ons ‘n welsynstaat vir miljoene kamma-kundiges tot en met hul dood? Word die gryp van die Reserwebank se goud en gelddrukpers dalk beoog met die oog op immer-ontkennings?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.