Wit mans het grootste risiko vir hartsiektes

(Foto: Unsplash)

ʼn Nuwe studie het bevind wit Suid-Afrikaanse mans ouer as 50 is die kwesbaarste vir die ontwikkeling van hartsiektes en byna die helfte van mans in dié groep het sigbare tekens van aterosklerose in die kroonslagaar (ook bekend as koronêre slagaar) getoon.

Aterosklerose is die opbou van vette, cholesterol en ander middels in en op die aarwande. Dit word plaak genoem en kan veroorsaak dat are vernou en bloedvloei verhoed word. Indien dit bars, kan dit ʼn bloedklont veroorsaak.

In teenstelling met wit mans, het net ʼn tiende van swart mans en vroue in dieselfde ouderdomsgroep dieselfde voorkoms van aterosklerose getoon. Meer as ʼn derde van wit vroue ouer as 50 het sigbare aterosklerose in hul hoofslagare getoon.

Die navorsers het bevind een moontlike verduideliking hiervoor is ʼn verskil in sosio-ekonomiese status wat moontlik ʼn aandrywer van kardiovaskulêre siektes kan wees.

Dr. Walter Janse van Rensburg, ʼn senior dosent by die Menslike Molekulêre Biologie-eenheid by die Skool vir Biomediese Wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê die studie het gespruit uit berigte van meer bloedklonte tydens die Covid-19-pandemie. Dit is verbind met akute Covid-19 en sommige van die entstowwe teen die koronavirus.

Daar was egter beperkte data oor die onderliggende oorsake vir die vorming van bloedklonte en die span navorsers het dit die afgelope paar maande begin versamel.

“Aterosklerose bly ʼn groot risikofaktor vir kardiovaskulêre siektes en word dus beskou as ʼn goeie aanwyser van die hartsiekteprofiel in ʼn bevolking. Nietemin is nie veel bekend oor die voorkoms in bevolkings in Afrika suid van die Sahara nie.

“Ons het die voorkoms van aterosklerose in ʼn diverse Suid-Afrikaanse bevolking probeer bepaal, soos dit in nadoodse ondersoeke gevind is. ʼn Retrospektiewe lêeroudit van 10 240 forensiese post mortem-verslae oor die afgelope tien jaar by ʼn forensiese patologielykshuis in Suid-Afrika is gedoen,” sê Janse van Rensburg.

Hartsiektes is die grootste oorsaak van sterftes wêreldwyd en volgens die jongste syfers van Statistieke Suid-Afrika is bloedsomloopsiektes verantwoordelik vir bykans ʼn vyfde van alle sterftes in Suid-Afrika.

Kardiovaskulêre siektes het verskeie fasette, maar die voorkoms van aterosklerose is die algemeenste wat daarmee verband hou.

“Om te help met die voorkoming van die vorming en vordering van aterosklerose, kan faktore wat met ʼn hoër risiko verbind word, soos tabakgebruik, hipertensie, verhoogde cholesterol, vetsug, MIV-infeksie en diabetes, bestuur word.”

Waarom die verskil?

Die verduideliking vir die verskil in die voorkoms van hartsiektes lê dalk in Suid-Afrikaners se sosio-ekonomiese status, het die navorsers bevind.

Suid-Afrika is een van die mees ongelyke lande ter wêreld en luidens die studie is die gemiddelde huishoudelike inkomste vir ʼn wit gesin nagenoeg 4,35 keer hoër as dié van ʼn gemiddelde swart huishouding.

“Die veronderstelling is dan dat ryker mense, in die Suid-Afrikaanse konteks histories mense van Europese herkoms, die vermoë het om ʼn leefstyl aan te neem en te bekostig wat bydra tot die verhoogde risiko van leefstylsiektes soos vetsug, hipercholesterolemie en diabetes, wat verbind word met ʼn hoër kans om hartsiektes te ontwikkel,” sê Janse van Rensburg.

Daar word ook veronderstel dat sterftes wat met hartsiektes verband hou, tradisioneel laer onder swart Suid-Afrikaners is wanneer dit met ander bevolkingsgroepe vergelyk word.

Dit word toegeskryf aan die historiese sosio-ekonomiese verskille tussen swart mense en ander bevolkingsgroepe in lande met ʼn hoër inkomste.

Die voorkoms van hartsiektes en voortydige sterftes wat daarmee verband hou, is stadigaan besig om te styg – in landelike en stedelike gemeenskappe oor die sosio-ekonomiese spektrum heen.

Die teorie is dat in bevolkings met verbeterde lewensomstandighede en beter toegang tot gesondheidsorg, die gedeelte van sterftes wat deur aansteeklike siektes veroorsaak word, sal daal.

Die gedeelte van sterftes weens chroniese “mensgemaakte” leefstylsiektes, soos hartsiektes, sal egter toeneem.

Die navorsers het bevind Suid-Afrika se sosio-ekonomiese status is egter nie die enigste aandrywer van hartsiektes nie. Die teorie is dat daar ʼn opwaartse neiging in Suid-Afrika is om toegang tot beter kos en gesondheid te verseker – en dat dit lei tot ʼn verhoging in sterftes wat met hartsiektes verbind word.

Janse van Rensburg sê onder alle bevolkingsgroepe word mans meer as vroue binne die demografiese groep geraak. Dit kan dalk ook toegeskryf word aan sosio-ekonomiese status en die verskil in die toegang wat mans en vroue tot gesondheidsorg het.

Die navorsers hoop dat hul bevindings sal help om spesifieke groepe met ʼn verhoogde risiko vir kardiovaskulêre siektes te identifiseer en dat moontlike hoërisikogedrag onder hierdie groepe geïdentifiseer sal word.

Dit sal hopelik lei tot ʼn verbetering in openbare gesondheidsbeleid en meer bewusmakingsveldtogte daaroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Miskruier ·

Die publiek moet weer opgevoed word om gesonde kos soos vleis en groente te eet en nie fabrieks kos nie

Annelize ·

My man het ‘n maand terug ‘n trippel Hartomleining ondergaan. Hy was een van 5 Omleiningsoperasies wat die Dokter daardie week uitgevoer het, my man was die enigste blanke. Verder wil ek ook daarby voeg dat die res almal Zoeloe persone was, waarvan 1 ‘n vrou. Nou hoe nou?

B-Man ·

60 mil mense in RSA, met sowat 80% swart en ±7% wit. Sowat helfte van hierdie 7% behoort mans te wees. D.w.s. ± 2,1 mil wit mans (afgesien van ouderdom). Daarteenoor kom die 10% van swart mans neer op nagenoeg ±2,4 miljoen. Berig maak verniet asof meer wit mense finansieel beter af is as swart mense. Daar is baie meer swart mense wat meer geld het as die gemiddelde wit persoon. Die verskil kom eerder in tussen ryk elite en agtergeblewenes (alle rasse).

piet ·

B_Man as persentasie van hulle eie bevolkingsgroep is witmense meer welaf. Om dit anders te stel, die gemiddelde blanke is meer welaf as die gemiddelde swart persoon in SA. So die gemiddelde swart persoon kan nie byvoorbeeld die luukse gemorskos bekostig wat die gemiddelde blanke kan bekostig nie Maar dis ook nie te se dat gemorskos hartsiektes veroorsaak nie). Maar jy’s reg, daar’s meer welaf swart Suid-Afrikaners as blanke Suid-Afrikaners maar dis bloot weens die samestelling van die populasie. Ons praat van gemiddeldes hier. Die enigste manier om dit werklik te meet is om persone van verskillende rasse te vergelyk wanneer hulle dieselfde lewensstyl en eetgewoontes volg. Baie veranderlikes wat in ag geneem nmoet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.