Witkruisarend-kuiken steek eerste keer kop by nes uit

(Foto: Dave Whyte/Facebook)

Die witkruisarend-kuiken wat Maandag in die Walter Sisulu- botaniese tuin in Roodepoort uitgebroei het, is Vrydag vir die eerste keer gewaar en dié kuiken lyk spekvet en gesond.

Dougie Crewe van die Black Eagle Project Roodekrans het Vrydagmiddag in ekstase aan Maroela Media gesê dat hulle die kuiken gesien het. Dit volg nadat hy die nes al heel week met valkoog dophou om die kuiken te sien.

Vroeër is berig niemand het al die kuiken sedert Maandag gesien nie, maar het wel gesien hoe die broeipaar, Makatsa en Mahlori, kos nes toe vat en “iets voer”.

“Ons is verlig om die kuiken te sien. Ek het elke paar uur op die webkamera, wat ʼn beeld van die nes wys, gekyk, maar niks gesien nie,” vertel Crewe.

“Ek was soos ʼn pa wat buite die kraamsaal wag en elke nou en dan loer om die baba te sien.”

Daar is ʼn effense “oorbeskermingsgevoel” teenoor dié kuiken omdat hy die laaste eier van twee was wat uitgebroei het. Die eerste eier het nie heeltemal uitgebroei nie.

In die geval van witkruisarende is die eerste kuiken wat uitbroei gewoonlik sterker en die tweede kuiken, wat as die swakker kuiken beskou word, word dan vir die eerste kuiken gevoer.

Crewe hoop dié kuiken is sterk genoeg om te oorleef.

Maroela Media het vroeër berig die kuiken wat Maandag uitgebroei het, is die botaniese tuin se huidige broeipaar, Makatsa en Mahlori, se vierde kuiken. Hul eersteling het in 2020 uitgebroei.

Makatsa het in 2017 by die botaniese tuin gaan nesskrop en twee jaar later het Mahlori by haar aangesluit. Hulle het daarna ʼn broeipaar gevorm.

Witkruisarende broei al sedert 1940 in die Walter Sisulu- botaniese tuin. Die broeipare in die tuin kom en gaan egter oor die jare.

Daar is slegs een broeipaar in die tuin omdat dié voëlspesie baie territoriaal is.

Die naaste ander broeipare broei in die Magaliesberg, Suikerbosrand en in Wonderboom in Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.