Wits-student bewusteloos gekry ná ontvoering

Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Wits)

Sewe verdagtes is agter tralies ná die ontvoering van ʼn student van die Universiteit van die Witwatersrand vroeër vandeesweek.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê die student se kamermaat het hom Dinsdag as vermis aangemeld nadat hy glo deur die maatsoek-app Grindr na ʼn plek gelok is. Die verdagtes het R30 000 van sy familie geëis vir sy veilige terugkeer.

ʼn Span van die Gautengse misdaadintelligensie-eenheid, ondersoekers van georganiseerde misdaad, polisiespeurders, lede van die Johannesburgse metropolisie se honde-eenheid, die veiligheidsmaatskappye Vision Tactical, JT VIP, Fidelity Strategic en Cellular Data Investigation het inligting opgevolg wat hulle na ʼn kitsbank naby die M2 gelei het waar een van die verdagtes na verwagting die geld vir die losprys sou onttrek.

“Die polisie het die plek dopgehou en die verdagte met sy aankoms daar in hegtenis geneem. Hy het hulle daarna na die Denver-manskoshuis gelei waar die 18-jarige slagoffer vasgebind en bewusteloos aangetref is,” sê Muridili.

Nog ses verdagtes is aangekeer en die slagoffer is na ʼn hospitaal vir mediese behandeling gehaas.

“Die span ondersoek tans die moontlikheid dat die verdagtes verbind kan word met soortgelyke gevalle in Gauteng.”

Die sewe word aangekla van ontvoering en afpersing en sal binnekort in die hof verskyn.

Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het die multidissiplinêre span vir hul suksesvolle samewerking geloof.

“Mense moet bewus wees van kubermisdadigers wat niksvermoedende mense op verskeie sosialemediaplatforms teiken om hulle skade te berokken, lospryse te eis en hulle te bedrieg,” sê Mazibuko.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Karoo ·

Ek hoop van harte dat die kind mooi gaan aansterk, dis vreeslik hoe kubermisdadigers dit regkry, hierdie “ontvoerings” gaan nog ‘n lelike ding word.

Karoo ·

Hoop dat dat jongman mooi aansterk. Hiedie tiepe “ontvoering” teen ‘n losprys is stadig maar seeker besig om meer gereeld te gebeur. Alles en almal kan’ n teiken wees.

Loun ·

In my dae moes n student maar inklim en waiter wees of ander odd werkies doen vir sakgeld, wel nou lyk dinge anders. Daar is n duisternis oor ons land…..

Karoo ·

Die man was op “Grinder”…. as ek reg is is dit ‘n “dating site”…. daar was onlangs ‘ n baie goeie program op Carte blanc juis oor die ding.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Jammer dat die kriminele se kreatiwiteit nie saamgesnoer en aangewend kan word om Suid-Afrika op eerbare wyse ekonomies wêreld kompeteerbaar te maak deur die skep, vervaardiging en doeltreffende bemarking van kreatiewe produkte. Dalk moet Ramaphosa ‘n Minister vir SA Wêreldkopeteerbaarheid aanstel? Of ‘n Minister vir Menseroof?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.