Woede ná robbe se gru-dood

Een van die ses robbe wat in Kommetjie uitgespoel het. (Foto: Verskaf)

Owerhede in die Wes-Kaap is boos oor ses robbe wat by Kommetjie uitgespoel het nadat hulle skynbaar met ʼn mes gesteek is en toe verdrink het.

“Hierdie voorval is ʼn verskriklike aanmaning oor mense se uitwerking op ons kuslewe,” sê Eddie Andrews, adjunkburgemeester van Kaapstad en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake.

Volgens Andrews het die Stad Kaapstad se kusbestuur vroeër vandeesweek oproepe ontvang dat ses Kaapse pelsrobbe in Kommetjie uitgespoel het. Almal het gevrek, maar die robbe het ook ongewone beserings gehad. Amptenare van die metro is na die toneel ontbied en het die karkasse ondersoek. Gegrond op die ongewone beserings, is daar besluit om nadere ondersoek in te stel.

Die departement van bosbou, visserye en die omgewing en die Kaap van Goeie Hoop Dierebeskermingvereniging (DBV) het al ses karkasse – drie mannetjies en drie wyfies – na die DBV vir x-strale en volledige nadoodse ondersoeke geneem om die oorsaak van die vrektes te bepaal.

ʼn Forensiese span het bevestig dat al ses robbe heel waarskynlik gesteek is terwyl hulle in die water was. Weens die beserings het hulle verdrink en by Kommetjie se Langstrand uitgespoel.

Andrews sê die metro, die betrokke seereddingspan en die DBV is uiters ontsteld oor die voorval, veral omdat dit op Wêreld-Oseaandag gebeur het.

“Wêreld-Oseaandag word wêreldwyd gevier om bewustheid te skep oor die belangrikheid daarvan om ons kus, seegebiede en mariene wildlewe te beskerm. Die aanvalle op die robbe is ʼn aaklige voorval en behoort deur iedereen betreur te word,” sê hy.

Andrews en die DBV werk nou saam met die departement om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is, geïdentifiseer, opgespoor en vervolg word.

“Ons moet seker maak dat ʼn gepaste voorbeeld gemaak word sodat hierdie sinnelose wreedheid teenoor ons mariene natuurlewe nie herhaal word nie,” sê Andrews.

Hy het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om enige inligting oor die voorval by die DBV aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Diets ·

Ek hoop die helle word gevang. Enigeen wat ‘n dier sonder enige rede aanval moet dit ook voel wat hy aan die dier gedoen het!!!

Patch ·

Hiermee stem ek 100% saam. Die mensdom is die spesie wat die aarde moet bewaar en beskerm maar is die grootste rede dat ons planeet stadig maar seker besoedel en vernietig word.

KatjieDeKat ·

Wat de joos? So iemand/persone het in die water ingegaan en die robbe met n mes gesteek? Nee hel ek het skaars woorde. How does such an idea even enter someone’s mind? How even?

George ·

Waar is daai 3 mannetjies wat so rukkie terug die robbe se gemoor het, dalk weer hulle.

Cherokee ·

Daar behoort ‘n beloning uitgeloof te word vir opvolgbare inligting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.