Wonderbaarlike herstel ná gewas verwyder word

Pfuluwani Ronald Murwamuila (middel) by dr. Helena Oosthuizen (links) en dr. Hugo Sarli nadat hy sy Comrades-medalje verower het. (Foto: Verskaf)

Verlede jaar hierdie tyd was dié 44-jarige kranige drawwer platgeslaan nadat ʼn gevaarlike gewas by hom gediagnoseer is. Vanjaar het Pfuluwani Ronald Murwamuila die Comrades-marathon voltooi.

Hy het die mylpaal behaal grootliks te danke aan ʼn multidissiplinêre span dokters wat saamgewerk het om hom weer so gou moontlik op die been te kry – en ná hy sy medalje verower het, het hy by sy opvolgdoktersbesoek daarmee opgedaag.

“Toe mnr. Murwamuila my in Maart verlede jaar kom spreek het, was hy in ʼn slegte toestand. Hy kon kwalik loop, wat vir ʼn energieke drawwer wat werklik fiks is, ʼn kommerwekkende teken is. Ek kon sien ons sou moes gou speel en het hom in die hospitaal laat opneem,” sê dr. Helena Oosthuizen, ʼn endokrinoloog by die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal.

Dit was ʼn vreesaanjaende tydperk vir Murwamuila.

“Draf is my lewe en ek was nog altyd uiters fiks. Ek het egter begin moeg voel en het swelling in my maag en gesig opgemerk. Ek is na my huisdokter wat my na dr. Oosthuizen verwys het. Skielik moes ek iets hanteer wat veel ernstiger is as wat ek ooit as ʼn aktiewe en voorheen gesonde mens sou verwag,” sê Murwamuila.

Ernstige hipokalemie is by hom gediagnoseer, ʼn toestand waartydens uiters lae vlakke van kalium in die bloed voorkom. Cushing se siekte is ook by hom gediagnoseer. Die siekte kom voor wanneer die liggaam te veel van die hormoon kortisol vrystel.

Weens die lae vlakke van kalium het Oosthuizen vermoed Cushing se siekte is ektopies, omdat die siektes dikwels verband hou. Ektopiese Cushing se siekte is uiters skaars en kom voor wanneer ʼn gewas buite die pituïtêre klier of bynierklier ontstaan. Dit skei ʼn hormoon af wat die vervaardiging van kortisol beheer.

Om seker te wees van die diagnose het Oosthuizen die hulp van verskeie ander dokters ingeroep. Een van hulle is dr. Jacqueline Smit, wat na Murwamuila omgesien het terwyl hy in die hospitaal was, en dr. Samuel Fourie, ʼn kliniese en bestralingsonkoloog wat die skanderings en radio-isotoopstudies behartig het.

Een van die skanderings het ʼn gewas in die gedeelte tussen Murwamuila se bors en regterlong gewys, maar die enigste manier om met sekerheid te bepaal of dit ʼn ektopiese gewas is, was om ʼn operasie te doen.

Sou Murwamuila nie dadelik mediese ingryping ontvang het nie, sou sy gesondheid gaandeweg al hoe meer verswak het en hartprobleme en verskeie ander ernstige toestande sou waarskynlik opduik.

Tien dae nadat hy aanvanklik opgeneem is, het dr. Hugo Sarli, ʼn kardiotorakale chirurg, die operasie uitgevoer en vasgestel ʼn ektopiese gewas was wel die oorsaak van Murwamuila se toestand.

Sy kaliumvlakke het ná die operasie byna dadelik begin stabiliseer en binne dae was hy reg om huiswaarts te keer.

Hoewel hy aanvanklik heelwat moes rus, het Murwamuila teen die einde van Junie weer begin oefen. Hy het sy visier op die Comrades-marathon gestel, ʼn moordende wedloop wat hy al ses keer tevore voltooi het. Ná die twee jaar lange afwesigheid weens die Covid-19-pandemie was die bekende wedloop terug en Murwamuila het besluit dit is ook sý kans om ʼn terugkeer te maak.

Hoewel dit tot 18 maande duur vir ʼn pasiënt met ʼn soortgelyke toestand om behoorlik te herstel, was Murwamuila só vasbeslote om die marathon te hardloop dat hy ses maande ná die operasie reeds daarvoor begin oefen het.

Eers het hy alleen geoefen. In Januarie vanjaar het hy sy eerste halfmarathon voltooi en kort daarna het hy vir die Comrades gekwalifiseer – ʼn wedloop wat hy in sewe uur 40 minute voltooi het.

“Die gevoel van prestasie was ongelooflik as ek onthou het waardeur ek net meer as ʼn jaar tevore gegaan het. Nou was ek so fiks dat ek voor ander kon klaarmaak wat veel langer as ek kon oefen. Ek het sedertdien nog ʼn opvolgbesoek gehad en ek is geweldig gelukkig om weer gesond te wees.”

Murwamuila se toestand word steeds fyn dopgehou, maar Oosthuizen sê sy en haar kollegas was verstom deur die koers waarteen Marwamuila herstel het.

“Toe ek mnr. Murwamuila die laaste keer gesien het, het hy gesê hy sien uit na die 2023-Comrades. Dit is wonderlik vir almal van ons om te sien hoe hy al hoe sterker word. Ons wens hom alles van die beste toe met sy volgende mylpaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

TRP ·

Wat ‘n uithouer, baie geluk. Wat ‘n ongelooflike inspirasie. Mag dit net goed gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.