‘Wonderwerk’ ná bakkie oor peuter ry

Dokters is stom geslaan dat die 15 maande oue Talila van der Walt nie eers ʼn enkele beentjie in haar lyf gebreek het nadat ʼn bakkie oor haar gery het nie.

“Dokters sê dit is menslik en medies nie moontlik dat sy ná so iets kon oorleef nie,” vertel haar ma, Eliztien Erasmus-van der Walt.

Die ongeluk het Woensdag laatmiddag gebeur toe haar man, Wayne van der Walt, die gesin se bakkie onder dak wou parkeer.

Eliztien het die dag omtrent 17:30 by die huis aangekom nadat sy die kinders by die skool gaan haal het. Die gesin woon op ʼn plaas in die Stockpoort-omgewing naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo.

“Ons het by die huis gestop en ek is na die bouers wat met bouwerk by die huis besig was. Dit het in daardie stadium gelyk asof die weer begin opsteek. Daar was goed agterop die bakkie [soos sement] wat nie moet nat word nie en ons het besluit om die bakkie onderdak te trek,” vertel Eliztien.

Eliztien sê voordat Wayne die Toyota Land Cruiser (4.2-dubbelkajuitbakkie) weggetrek het, het hy eers doodseker gemaak die kinders is nie naby nie.

“Ons oudste dogter Lente (9) het Talila aan die hand gevat en van die bakkie weggestap. Die ander twee kinders, Lodewyk (7) en Rosalint (3), het agter die huis gespeel.

“Wayne het om die bakkie geloop om te kyk of daar nie kinders is nie en ook onder die bakkie geloer. Voordat hy in die bakkie geklim het, het hy weer seker gemaak dat daar nie ʼn kind in sig is nie.”

Toe Wayne met die bakkie vorentoe trek, het hy gevoel die bakkie se linkervoorwiel ry oor iets. Hy het dadelik uit die bakkie gespring om ondersoek in te stel.

“Talila het agter die wiel gelê en met groot oë na hom gekyk. Hy het toe besef hy het bo-oor haar gery.”

Volgens Eliztien lyk dit asof die wiel bo-oor Talila se lyf – tussen haar knieë en diafragma – gery het.

“Wayne het afgesak en Talila in ʼn plat, reguit posisie onder die bakkie uitgehaal.”

Die Van der Walt-gesin [Foto: Verskaf]

Die peuter se beentjies was bloedrooi en sy het swaar asem gehaal.

“‘Ek het oor ons kind gery!’ het Wayne geskree terwyl hy na my aangehardloop gekom het.”

Die gesin het hospitaal toe gejaag.

“Dit is ʼn uur se ry tot in die dorp, maar binne 20 minute het ons by die hospitaal stilgehou.

“Op pad soontoe het Talila baie swaar asem gehaal en met elke asemteug het ek gedink dit was haar laaste. Ons het Talila positief probeer hou om haar gedagtes van die ongeluk weg te vat.”

By die hospitaal het dokters die nodige toetse op Talila gedoen en X-strale laat neem.

“Nie eers een beentjie was gebreek of orgaan beskadig nie. Die dokters kon niks fout kry nie. Dit is ʼn absolute wonderwerk.”

Die dokters het vir Talila ʼn kalmeerpil ingegee vir die skok en oornag in die hospitaal gehou vir observasie.

Talila is die volgende oggend ontslaan.

“Die spiere in haar bene is nog seer en sy is nog in skok, maar dit gaan elke uur beter met haar.”

‘Maak drie keer seker’

Die ouerpaar is verbaas oor hoe vinnig Talila onder die bakkie beland het omdat sy nog saam met haar sussie sowat 12 meter weg van die bakkie was toe Wayne in die voertuig klim.

“Ons het toevallig ʼn week voor die fratsongeluk daaroor gepraat dat ons nog versigtiger moet wees omdat Talila nou die wêreld vol begin stap. Hy het alles gedoen om doodseker te maak sy is nie naby die bakkie nie. Sy het binne ʼn breukdeel van ʼn sekonde onder die voertuig beland.”

Die ouerpaar is nou opnuut versigtig en wil met hul storie ander ouers waarsku om “drie keer seker te maak” dat hul kinders veilig is.

“Die lewe is te kosbaar om nie twee keer te kyk nie.”

Eliztien sê sy was reeds oorversigtig wanneer dit by haar kinders se veiligheid kom. “Dit het ondanks my paranoia steeds gebeur. Jy moet nooit dink so iets kan jou as ouer nie oorkom nie.

“Indien so iets dan wel gebeur, moet jy ten spyte van die stres, kalm probeer bly.”

Die gesin het besluit om vir traumaberading te gaan.

“Ek sukkel om te slaap en die gedagte dat ons dalk nou begrafnis kon hou, draai in my kop.”

Die ander kinders is ook deur die ongeluk geraak.

“Almal ly aan skok. Die kinders was vanoggend sommer stil in die kar. Lente vat dit veral erg. Sy verwyt haarself dat sy nie beter na Talila gekyk het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

BOKKIEBEK ·

Dit is net die Here se genade…Dankie Jesus dat die pop ongedeerd is…

Papsak ·

Dankie Here dat daai engeltjie niks oor gekom het nie prys die Here

Anna84 ·

Net om die storie te lees gee my amper trane in my oë. Ek het self ‘n klein seuntjie van 3 en die vrees wat deur my gaan is onbeskryflik as ek so iets moet oorkom. So dankbaar hierdie het ‘n goeie einde.

Misky ·

So dankbaar saam met julle asd gesin. ‘n Ongeluk gebeur so vinnig en dis net genade van Bo.

Gideon ·

So dankbaar dat sy niks oorgekom het nie, dis hartseer dat die ouers nie die EER of DANK gee aan God wat juis die wonderwerk laat plaasvind het nie, n geleentheid van getuienis om God se naam te openbaar ongelukkig versuim

LIEZL ·

Dis fantastiese nuus dat sy niks oorgekom het nie. My oom het ook op ons plaas oor my gery toe ek ook maar net 13 of 14maande oud was. Wonderbaarlik het ek dit ook oorleef met geen gebreke. Dit was in 1976, lank gelede :) Babatjies is wonderlik en lyfie slap. Maar sjoe, dis ‘n vreeslike gewig wat oor haar is

George ·

Dis verskriklik. Moet nie jou kinders die verantwoordelikheid gee om na ander kinders te kyk nie. As ouer moet ouers seker maak daars nie naby nie. Kyk hoe vinnig gebeur dit.

Anel ·

Toe ons kinders klein was, moes hulle of in die kar klim en saam in of uit ry, of op die stoep staan waar ons hulle kon sien. So is dit nog steeds met die honde. Maak almal eers in die huis toe voor ons uit ry en weer as ons in ry. ‘n Ongeluk gebeur so bitter vinnig. So bly die klein lyfie het nie seer gekry nie. God se genade is groot.

Marieta ·

Medies en – menslik onmoontlik, ja. Maar by God is NIKS onmoontlik nie! Dankie dierbare Vader God, dat dit U behaag het om hierdie gesinnetjie die droefheid van n oop graffie te spaar. Amen.

Nettie ·

Sjoe. Hoendervleis! Ek is SO dankbaar God se Hand was oor hierdie pragtige kleinding en dat sy gespaar is vir haar gesin. Hulle lyk na so ‘n mooi, gelukkige, liefdevolle gesin. Mense wat omgee vir hul kinders en mekaar. Dankie Jesus!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.