Wonderwerk-ouma steeds perdfris 42 jaar na ‘terminale kanker’

Louise Marais (nou 68) is vandag ‘n oumagrootjie, gelukkig en gesond. (Foto verskaf)

Sy was maar 26 jaar oud en die ma van drie klein kinders toe Louise Marais (nou 68) met ʼn rare leukemie gediagnoseer is. Drie keer is haar man na die hospitaal geroep om afskeid van sy vrou te neem.

Maar wonderwerke gebeur. Vandag is sy ʼn oumagrootjie. Om vir ander hoop te gee, het haar dogter Maritsa Gouws ʼn boek getiteld Wiesa ʼn Wonderwerk – ʼn verhaal van hoop, liefde en oorwinning geskryf. Hierin vertel sy, haar pa, CJ, en haar ma van hul roerende belewenisse tydens hierdie traumatiese tydperk.

Maritsa en haar ma het baie trane gestort gedurende die skryf van die boek wat haar ver na haar verlede teruggeneem het.

CJ en Louise was skoolliefdes wat reeds op laerskool gekys was. Hulle is jonk getroud en was dolgelukkig. Louise se pa wou aanvanklik nie toestemming gee dat hulle net na skool trou nie, maar CJ het hom geleidelik oorgewen.

Maritsa Gouws het boek getiteld “Wiesa ʼn Wonderwerk – ʼn verhaal van hoop, liefde en oorwinning” geskryf waarin sy haar ma en pa se roerende belewenisse vasvang. (Foto verskaf)

Hulle drie kinders is kort na mekaar gebore. Die jongste was nog ʼn baba toe Louise een Sondagmiddag skielik so sleg gevoel het dat sy nie kon opstaan nie.

Sy was verskriklik moeg en het geen energie gehad nie. Sy is in die Universitas-hospitaal opgeneem waar talle toetse gevolg het.

“In ʼn stadium het sewe dokters by my hospitaalkamer ingestap en gesê hulle gaan bloed trek”, vertel sy. “Geeneen het ʼn woord gesê nie.

“Slegte nuus? Hoe lank?” het sy gepleit.

Toe die onkoloog sy antwoord met die woord “Nooientjie” begin, het sy geweet dis ernstig.

Sy is met akute meloplastiese leukemie gediagnoseer, ʼn ongewone kanker waarvan die lewensverwagting van ses maande tot tien jaar kan wees.

Toe sak sy op haar knieë en begin hartverskeurend huil. Sy wou weet waar haar kinders was, maar is gerus gestel dat haar ouers hulle kom haal het.

Die dokters was skaars uit die saal toe die kapelaan van die SAPD (dis waar CJ gewerk het) met die Bybel onder die arm opdaag om vir haar te kom bid. Talle ander het ook vir haar kom bid.

“Waarom Here?” het sy gebid. “Ek is tog ʼn goeie mens en wil my kinders en kleinkinders eendag sien grootword.”

Louise moes handevol pille drink en keer op keer chemo ondergaan. Sy het 30 kg gewig verloor en het uiteindelik slegs 38 kg geweeg. Toe sy eendag in die stort klim om hare te was, het sy besef dat die vloer met haar hare bedek was. Sy het die mooiste blonde hare gehad wat tot op haar skouers gehang het.

Die ergste vir haar was toe haar ouers met die kinders in die hospitaal kom kuier het. Die medikasie het nare newe-effekte gehad. Toe sy in haar spieël kyk, was sy goudgeel. Haar lewer was twee keer sy gewone grootte en haar hart het ook vergroot. Sy was swak en vol sere en kon aanvanklik nie verstaan dat die kinders blou moord geskreeu het elke keer as hulle haar sien nie. Sy was nie hulle mamma nie, maar ʼn “monster”.

Louise moes hope bloedoortappings kry, maar haar bloedgroep AB, was nie in oorvloed by hospitale en die bloedbank beskikbaar nie. Dis toe dat sy met ʼn bewerige hand ʼn lys begin opstel het met die woorde “begrafnis, blomme, pastoor en kis”. Toe krap sy die woord “kis” uit.
Intussen het CJ se kollegas in die Polisie tou gestaan om bloed te skenk. Die groothartige poging het tot die koerante gehaal.

“Dit is nou maar ʼn ding van die Polisie. Polisiemanne staan by mekaar. Hulle is soos familie. Hulle sal enigiets vir mekaar en mekaar se kinders doen.”

Met haar naderende verjaardag op 22 Maart wou sy nie meer langer in die hospitaal bly nie, maar huis toe gaan. Kom wat wil. Sy is nog nie gereed nie, het haar dokter teëgestribbel. Sy is te vatbaar vir kieme. Toe sy uiteindelik wel toegelaat is om huis toe te gaan, het sy gehuil van blydskap.

Louise op haar troudag, min wetende wat nog voorlê. (Foto verskaf)

Toe sien sy in haar slaapkamer ʼn foto van haar troudag van ʼn vreemde vrou wat na haar terugkyk.

“My pa kon my nie in die oë kyk nie. Dit moes vir hom aaklig gewees het om sy dogter so te sien.”

Haar ma het heerlike boerekos vir haar tuiskoms voorberei, maar sy kon dit nie eet nie. Sy het gesukkel om haar naarheid weg te sluk.

Toe haar ma oor haar kop vryf, was daar geen hare om te vryf nie.

Sy het haar pa wat nie juis ʼn groot Christen was nie, gevra om vir haar te bid waarop ʼn innige gebed gevolg het.

“Gaan jy doodgaan?” wou haar klein seuntjie weet. Sy het gewonder hoe haar emosies in ʼn huis vol mense tussen geluk en hartseer kon wissel.

Die oomblik toe sy haarself belowe het dat sy in die hospitaal gaan instap (weg met die rolstoel!) het sy geweet dat sy gesond gaan word.

Drie dae na haar verjaardag kom haar mediese span van Amerika af terug met botteltjies met ʼn nuwe middel om die kanker te beveg. Sy het die nuwe kankerbehandeling “’n botteltjie hoop” genoem.

Sy moes in isolasie wees, is in kwarantyn geplaas en het soos ʼn melaatse gevoel. Sy was aan suurstofmasjiene gekoppel. Uitgeput en gedreineer.

Gelukkig kon sy uiteindelik weer in haar eie bed slaap en weer as tikster by die Weermag begin werk.

Haar pa het vir haar ʼn pruik gebring wat haar kopvel vreeslik laat jeuk het. Toe op ʼn dag, begin haar hare groei. Donshaartjies, maar hare. Sy was bekommerd omdat sy haar “kroon” verloor het, maar ʼn swart vrou by die werk het vir haar gesê: “Jou diamante is jou kinders, jou man en almal wat vir jou lief is. Jou kroon is nie jou hare nie, dis in jou hart. Almal kan dit sien.”

Met haar heropname in die hospitaal, is sy met ʼn dik naald ingespuit toe rugmurg getrek is. Dit was so pynlik dat dit gevoel het asof haar liggaam aan die brand is.

Om seker te maak dat sy daarna weer ontslaan word, het sy ondanks hoë koors die koorspennetjie skelm in koue water gedruk. So het haar koors kamma “gedaal”.

Sy het die dokter gesmeek om haar te laat huis toe gaan want haar kinders het haar nodig. Christiana, waar hulle destyds gewoon het, was nagenoeg 275 km van Bloemfontein af waar sy in die hospitaal behandel is. Die rit huis toe het baie langer as gewoonlik geduur want hulle moes voortdurend stilhou om ʼn koue waslap vir haar koors op haar kop te sit. Toe volg ʼn botsing by ʼn verkeerslig. Die rathefboomhandvatsel is deur haar longe. Paniekbevange besef sy dat sy CJ nie kon sien nie. Hy het op die teer gelê.

Louise saam met Maritsa, Lelanie,en Johan gedurende hul ma se kankerstryd. Hier dr sy nog ‘n pruik. (Foto verskaf)

Mense het geskreeu, ambulanse se sirenes het geskril. Die motor was ʼn wrak en die enjin is uitgeslinger. Metaal is oopgeskeur om haar uit te haal. Die pyn was onbeskryflik..

CJ se arm was in gips en hy was vol krap- en snywonde.

Beide is in die hospitaal opgeneem.

Louise kon nie haar oë oopmaak nie, haar asemhaling was swaar en die masjiene het aanmekaar gebiep. Toe die dokter nader staan kry sy net die woorde: “kanker” uit. “Julle kan nie aan my vat nie.”

Haar onkoloog was woedend. Hy het haar immers vooraf gewaarsku dat dit nie ʼn goeie idee is om huis toe te gaan nie. Daar was oral pype in haar gedruk om die bloed te dreineer en daar was ook pype wat aan haar longe gekoppel is.

Dit was ʼn wonderwerk dat hulle oorleef het.

Louise (regs) en haar man CJ by hul kleinseun se troudag. (Foto verskaf)

Na nog kankerbehandeling is Louise met toestemming huis toe. Toe sy na die telefoon loop wat begin lui het, word sy weens lae bloeddruk flou. (Dit was die era van landlyne en tiekiebokse.)

ʼn Jaar later is sy terug werk toe, maar het net die helfte van haar salaris ontvang. Tog was sy bly om weer te werk.

Sy moes een keer per jaar terug hospitaal toe gaan vir ʼn ondersoek. Haar bloedtelling het elke keer verbeter.

Sy besef dat baie mense dieselfde soort kanker as sy gehad het, maar sy is die enigste een wat oorleef het. Sy het later ʼn pos in die SAPD in Durban gekry en dis waar hulle afgetree het.

Vandag stap die egpaar gereeld langs die strand, lees graag, ontmoet vriende vir Bingo en is baie betrokke by die kerk.

“Die boek is geskryf vir almal wat hoop nodig het. Ek wil graag die boodskap oordra dat niks onmoontlik is nie,” sê Louise.

ʼn “Wonderwerk”, lui ʼn verklaring in die Merriam-Webster-woordeboek, word beskryf as “’n buitengewone gebeurtenis waar goddelike ingryping manifesteer”.

Nadat die dood aan haar voordeur geklop het, is die woord “remissie” vir Louise die mooiste woord in die woordeskat.

ʼn Woord wat vir haar gelyk staan aan ʼn wonderwerk.

  • Die boek word deur die skrywer self uitgegee en is op aanvraag beskikbaar. Bel Maritsa by 082 550 2861 of stuur ‘n e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Carl ·

Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.
Ek het die geskrifte meer as 3 keer deurgelees. Veral die Hubreeuse geskrifte (ou Testament).
Die Vader beskerm en lei ons wanneer ons opkyk na Hom en hom vertrou.
Die groot probleem daarbuite is dat die mense nie meer lees nie, net na preke luister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.