Wynlegende sterf op 81

Bayly was by die wynbedryf betrokke vir byna 60 jaar. (Foto: Institute of Cape Wine Masters/Facebook)

Een van Suid-Afrika se bekendste wynpersoonlikhede, Francis Bayly of Duimpie soos hy in die bedryf bekend staan, is Woensdag op sy kleinhoewe in Stellenbosch oorlede.

Dit is nog nie duidelik waaraan die 81-jarige wynlegende oorlede is nie.

Richard Rushton, Distell se uitvoerende hoof, het sy medelye met Bayly se vrou en drie kinders betuig en gesê dat die bedryf ʼn internasionaal erkende mentor in die wyn- en brandewynbedryf verloor het.

“Ons sal hom mis vir sy geleerdheid, kritiese denke, humor en nederigheid met betrekking tot sy enorme bydrae tot die wyn- en brandewynstandaard in Suid-Afrika. Hy het altyd met ʼn vrygewige hart sy kennis en begrip met ander gedeel.”

Bayly het hom in 1962 by die Stellenbosch Farmers’ Winery aangesluit wat in 2000 met die Distillers-koöperasie saamgesmelt het om Distell te vorm.

“Sy betrokkenheid by Stellenbosch Farmers’ Winery, wat nou bekend staan as Distell, het vir 40 jaar voortgeduur. Selfs ná sy aftrede van Distell se raad van direkteure het ons hom gereeld geraadpleeg. Hy was ʼn dapper man en ʼn visioenêr. Dit was altyd ʼn plesier om in sy geselskap te wees en ons gaan hom geweldig mis,” het Rushton gesê.

Die Instituut vir Kaapse Wynmeesters het in ʼn verklaring gesê dat Bayly se toewyding aan die wynbedryf nooit vergeet sal word nie.

“Hy was ʼn geesdriftige man met ʼn aansteeklike glimlag. Sy innemende eienskappe en talent vir storievertelling sal deur sy familie en vriende gemis word.”

(Foto: Institute of Cape Wine Masters)

Bayly het ʼn deurslaggewende rol gespeel in die stigting van een van die land se belangrikste wynbiblioteke in die Tabernakel by Distell. Dié biblioteek huisves duisende bottels wat as verwysing en ʼn rekord van waardevolle wynproefnemings onderhou word.

Tydens sy merkwaardige loopbaan in wyn wat oor byna 60 jaar strek, het hy in ʼn reeks komitees gedien, waaronder die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Wyn- en Wingerdkunde, die Kaap van Goeie Hoop-landbouvereniging, die Wyn-en-spiritusraad en die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskou.

Hy was een van die eerste mense wat die Kaapse wynmeester-akkreditasie in 1983 verwerf het en was ʼn gesogte beoordelaar in baie wyn- en brandewynkompetisies.

As voorsitter van die Biodiversiteit-en-wyninisiatief was hy aan die voorpunt van ʼn progressiewe vennootskap tussen die bewaringsektor en die wynbedryf wat byna twee dekades gelede gestig is. Sedertdien is aansienlik baie grond vir wingerde gerehabiliteer en het hy selfs daarin geslaag om Suid-Afrika se inheemse pinotage-druiwe onder bewaring te bring.

Bayly was ook ʼn deskundige en het aan die Universiteit Stellenbosch studeer, sy meestersgraad aan die Universiteit van Kalifornië verwerf en ook by Harvard studeer.

Saam met sy professionele loopbaan was Bayly ook ʼn boer.

“Hy was inderdaad ʼn merkwaardige man, wat nooit iets anders as nederig was nie,” het Rushton gesê.

“Die wynbedryf lig sy glase ter herinnering aan dié legende.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Merkwaardige mens, ek sal vanaand ‘n glas lig ter ere aan jou – RIV.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.