Ystervrou sterf op 108 jaar

Corrie en haar seun, ds. Dirk Wijnbeek. (Foto: Verskaf)

Corrie Wijnbeek het twee wêreldoorloë, die Spaanse griep en die Groot Depressie oorleef voor sy vroeg Dinsdagoggend in die ouderdom van 108 dood is.

Volgens Corrie se seun, ds. Dirk Wijnbeek (75) van die Gereformeerde Kerk Swartruggens in Noordwes, wat saam met sy vrou, Nelriet, haar versorg het, het haar gesondheid die afgelope twee weke agteruitgegaan.

“My vrou het haar nog Maandagaand versorg en aangetrek soos wat sy al vir jare doen, maar selfs dit het haar uitgeput. Sy is vroeg die volgende oggend in haar bed oorlede.”

Corrie is op 18 Februarie 1913 in Den Haag in Nederland gebore en het gedurende die Tweede Wêreldoorlog haar kinders in dié land begin grootmaak. Sy het vyf kinders gehad, waarvan Dirk die jongste is.

“My pa was in ʼn stadium ʼn krygsgevangene in Duitsland. Gedurende daardie tyd is een van my ouer broers ook in ons huis in Nederland oorlede,” het Dirk aan Maroela Media gesê.

“Nietemin het my ma in ʼn tyd van geweldige voedseltekorte en swaarkry op haar fiets geklim en platteland toe gery om kos in haar rugsak terug te bring.”

(Foto: Verskaf)

Corrie, haar man en vier kinders het in die laat 1940’s na Suid-Afrika verhuis op soek na ʼn nuwe tuiste. Ná haar man se dood in 1981, haar dogter se moord in 2008 en ʼn aanval in haar woonstel in Alberton, het sy by Dirk en sy vrou ingetrek.

Die drie het toe in 2013 van Steynsburg in die Oos-Kaap na Swartruggens verhuis waar Corrie haar 100ste verjaarsdag gevier het.

“My ma het elke asem wat sy gehad het, benut. Tot voor die huidige afsonderingsregulasies in werking getree het, het sy elke Sondag kerk toe gegaan. Al was dit soms moeilik, het sy daarop aangedring om kerk toe te gaan.”

Corrie het ook ʼn punt daarvan gemaak om ʼn verhouding met haar talle kleinkinders en agterkleinkinders te koester, selfs dié wat in ander lande woon.

“My ma was ʼn vasberade vrou wat nie sommer tou opgegooi het nie,” het Dirk gesê.

“Sy het net geweier om op te gee en het elke dag, al was haar oë sleg en haar hande krom, naaldwerk gedoen. As sy nie vandag reggekom het nie, het sy môre die breinaalde opgetel en weer probeer.

“Sy was ʼn bron van inspirasie. So baie mense wat nog sterk en gesond is, gooi maklik tou op, veral wanneer dit moeilik gaan, maar nie sy nie. Sy het vasgebyt.”

ʼn Roudiens sal na verwagting einde volgende week in Alberton gehou word by die kerk waar Corrie se man begrawe is.

Corrie saam met van haar familielede op haar 108ste verjaarsdag. (Foto: Verskaf)

Dié berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elizabeth ·

Wat n voorreg om n ouer te koester tot op 108 jaar. Soveel herinneringe en soveel om te vier. Sterkte aan die familie. Julle is geseënd.

Nico ·

Voorwaar ‘n ystervrou, wat al hierdie dinge deur staan het, dit is voorwaar tyd dat sy gaan rus, aan ons Skepper God alle lof en eer vir Sy genade, want sonder Hom sou sy nie hierdie ouderdom bereik het en alles deur gemaak het.

Fronsie ·

My vriendin se ouma is Sondag oorlede, sy was 105… Hulle het ‘n VOL lewe gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.