Zuma eers ná verkiesing voor ANC-tugkomitee

Oudpres. Jacob Zuma gaan nie gou voor ‘n dissiplinêre komitee van die ANC verskyn nie – nie eens aanlyn nie. (Argieffoto: Emmanuel Croset/AFP)

Oudpres. Jacob Zuma sal eers ná die verkiesing aan ʼn dissiplinêre verhoor van die ANC onderwerp word.

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het Sondag by ʼn mediakonferensie gesê die omstandighede rakende Zuma die afgelope tyd was vinnig en vloeibaar: van die aankondiging dat hy voortaan die uMkhonto weSizwe-party (MKP) gaan ondersteun, tot waar hy as gesig en leier van dié party aangewys is.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het vroeër al ʼn besluit bekend gemaak dat hy formeel stappe teen sy oudleier gaan doen en Zuma is daarna as ANC-lid geskors. Die afgelope week het die ANC bekend gemaak dat Zuma volgende week aan ʼn dissiplinêre verhoor by Luthuli-huis onderwerp moet word.

Die MKP het in reaksie hierop aangedui dat Zuma wel die verhoor sal bywoon en dat MKP-lede hom daar sal ondersteun, onder meer in ʼn poging om sy veiligheid te waarborg.

Mbalula sê Zuma was vasbeslote om buite die ANC te wees en dat hy nou “sy eie geskiedenis, op sy eie, buite die ANC geskryf het”.

Die ANC is ook nie bekommerd oor die MKP nie, het Mbalula volgehou. “As ons as ʼn party bekommerd was, sou ons nie ʼn veldtog gevoer het nie,” het hy gesê.

Luidens berigte het die ANC se leierskap die party se nasionale dissiplinêre komitee opdrag gegee om nie voort te gaan met die tugverhoor nie. Mbalula het Vrydag aan die voorsitter geskryf om hom te vra om, op grond van veiligheidsredes, nie voort te gaan met Dinsdag se verhoor nie.

Saterdag het die komitee ʼn kennisgewing uitgestuur dat die verhoor steeds Dinsdag om 10:00 sal plaasvind, maar dat dit nou aanlyn gedoen gaan word.

Sondag het Mbalula by die mediakonferensie bekend gemaak dat die verhoor tot ná die verkiesing op die lange baan geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ore ·

O die kat kom weer………………..Zuma is steeds in beheer! Waarom ‘n tugverhoor? Hy oortree die ANC se grondwet deur ‘n ander partyleier te wees maar is die grootbekke te bang om hom summier uit die party te skors. ANC gee hom gratis publisiteit. MK gaan beslis opruk na hulle hoofkantoor en amok maak.

Michael ·

Die anc is vreeslik onverdraagsaam en blyk soos die geval met die demokrate en pres Trump scenario, bang te wees vir Zuma.

Anel ·

Die a en c is mos gedreig dat as hulle sou voortgaan met die verhoor, ongekende onluste sou uitbreek! Kan jy dit glo? Zuma swaai nog steeds die septer!! In ‘n ander land sou so ‘n dreigement tot geweld nie geduld gewees het nie!!! En ek was onder doe indruk dat hy met een voet in die graf gestaan het!! Sou ook graag van daardie wonder kuur wou kry vir my skete!

Cassie Carstens ·

Die ANC sal hierdie saak mooi moet hanteer, anders kom hier weer ‘n “Shell House” tragedie. Ons land kan nie meer sulke onnodige goed bekostig nie – vrede is alreeds broos!

skurweberg ·

@Cassie C stem met jou saam, maar hy moet dit net nie dit in sy kop kry om saam met ‘n paar MK-lede by Luthuli Huis te gaan kuier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.