Zuma was ‘wolf in skaapklere’ – Mbeki

Oudpres. Thabo Mbeki vandeesweek by Vryheidspark in Pretoria waar hy ʼn toespraak ter viering van 30 jaar van demokrasie gelewer het. (Foto: X / ANC Gauteng)

ʼn Wolf in skaapklere.

Só het oudpres. Thabo Mbeki sy omstrede opvolger oudpres. Jacob Zuma beskryf toe hy vandeesweek by Vryheidspark in Pretoria ʼn toespraak ter viering van 30 jaar van demokrasie gelewer het.

Mbeki het in sy toespraak nie direk na Zuma, wat nou die uMkhonto weSizwe (MKP)-party lei, verwys nie, maar gesê dat sy [Mbeki se] verwydering as president van die ANC by die party se nasionale verkiesingskonferensie in 2007 ʼn dramatiese agteruitgang in die regering tot gevolg gehad het.

Volgens Mbeki het dit boonop die “winste van die eerste 15 jaar van die land se demokrasie ongedaan gemaak”.

Hy meen sy herroeping as staatshoof in 2008 het tot ʼn verdere verswakking van die ANC gelei wat die weg vir ʼn “teenrewolusie” in die ANC gebaan het. Mbeki het in sy toespraak daarop gesinspeel dat Zuma deel was van dié sogenaamde rewolusie en apartheidsagente wat die ANC ná 1994 ingedring het.

Mbeki sê hierdie agente se werk het al in 2002 begin met die besluit om die ANC se leierskapstruktuur te verander, wat in dié stadium deur Mbeki gelei is.

In oënskynlike kritiek op Zuma se nege jaar lange ampstermyn as president het Mbeki gesê een van die teenrewolusie se grootste doelwitte was om te sorg dat die ANC in sy taak misluk om Suid-Afrika behoorlik te regeer.

Hy het spesifiek melding gemaak van Zuma se “pogings om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te vernietig” en onder meer verwys na die Nugent-kommissie van ondersoek na die SAID, gelei deur afgetrede regter Robert Nugent, asook die Zondo-kommissie se verslag oor staatskaping.

“Volgens dié regterlike kommissies het ons hier ʼn staatshoof wat betrokke raak by ʼn proses om die einste inkomste te verminder wat hy nodig het om die regering in staat stel om sy pligte na te kom – tot op die punt van die moontlike ineenstorting van daardie regering.

“Hoe verduidelik jy so iets? Die enigste logiese manier is dat ons hier met ʼn wolf in skaapklere te make het.”

As ʼn mens só daaroor dink, sê Mbeki, is dit eintlik nie verrassend dat so ʼn “wolf” by pogings betrokke sou wees om die SAID te vernietig nie aangesien dit juis die doelwitte van die teenrewolusie onderskryf.

“Tyd sal leer of hierdie logiese afleiding wel korrek is.”

Mbeki het verder gesê dat pres. Cyril Ramaphosa op aanbeveling van die Nugent-kommissie opgetree het toe hy die destydse hoof van die SAID, Tom Moyane, met Edward Kieswetter vervang het. Sake by die SAID het daarna weer aansienlik beter begin verloop.

Oor Eskom en die jare lange kwessie van beurtkrag het Mbeki gesê daar is ʼn “valse narratief” dat die regering van voor 2007 waarskuwings van kundiges verontagsaam het dat indien geen dadelike stappe gedoen word om nuwe opwekkingskapasiteit te genereer nie, die land van 2007 ernstige beurtkrag sou ondervind.

Hy meen die beurtkrag wat die land in 2007 en 2008 ervaar het, en waarvoor hy destyds om verskoning gevra het, was heeltemal onnodig en is van binne Eskom veroorsaak. Hy meen dit het niks met enige regeringsmislukkings te doen gehad nie.

“Eskom-stasiebestuurders het eenvoudig opdragte verontagsaam om hul steenkoolvoorraad aan te vul totdat dit heeltemal opgeraak het. Dit was ʼn doelbewuste poging om die voorsiening van elektrisiteit in gedrang te bring,” het Mbeki gesê.

Die teenrewolusionêre rolspelers het volgens Mbeki probeer om dieselfde verbrokkeling by instellings soos die Nasionale Vervolgingsgesag, die polisie en departement van gesondheid te veroorsaak.

Kritiek ten spyt is Mbeki egter steeds vol vertroue dat die ANC ná die verkiesing op 29 Mei die mees dominante politieke party sal bly.

Hy het ook nie vertroue in die party se vermoë verloor om die land te regeer nie, het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

JohanR ·

Nou eers ou as dit lyk asof die ANC nie nog ‘n verjaarsdag gaan vier nie! Jy kon moes al iets gese het voor 2019. En daar sit ons met Zuma en die Gupta’s vir nege jaar.

etienne ·

Nog n verskoning, darem die keer nie apartheid se skuld nie. maar was Zuma nie die cANCer se presidentskandidaat nie, so by implikasie bly die land se agteruitgang die cANCer se toedoen

Jaco ·

Is dit maar van toepassing op alle politkuste oor alle spektrums nie? Moet nog ‘n politikus ontmoet wat iets doen vir die mense en nie vir hom/haar of die party wat hulle verteenwoordig nie

Papsak ·

Nee Mbeki jy kan ook maar stil bly julle almal kom uit tronke uit en summier kry julle President poste in SA wat n lelker land daarom lyk hy so julle moet almal terug gaan an waar julle kom jullealmalholeot WOLWE IN SKAAPKLERE so shhhhhht liewers hoop anc val uit ??????

Di ·

DIT is wat gebeur wanneer jy n ongeletterde individu ‘n President van ‘n land maak. Iemand wat nie eers behoorlik kan praat of spel nie! Die Gupas het dit geweet daarom was dit SO MAKLIK om ZUMA om die bos te lei. Hulle moes LANKAL van hom ontslae geraak het maar nee, kaders het hom in die stoel gehou. Daarom is ALLE KADERS verantwoordelik dat SA in riool status verval het.

Hendrik ·

Mbeki, noem een enkele rede waarom ons die regering wat hom deur die grotere massa ongeletterdes onbeskaafde in stoel hou.

Vrijburger ·

Jammer, Mbeki kan nie nou kom onskuldig pleit oor Eskom nie. Ook hy het die witskrif van 1998 en aanbeveling mbt die nodigheid om elektrisiteit opwekkings kapasiteit te skep geignoreer.
En Mbeki by uitstek het AA en BEE by Eskom gedryf, die manne by Eskom wat nou so aanjaag volgens hom.

OW ·

Iets maak nie sin vir my met Mbeki se verduidelikings nie.As Zuma deel was van die sogenaamde rewolusie en apartheidsagente wat die ANC na 1994 binne gedring het,hoe het Zuma dan op die nasionale uitvoerende gesag van die ANC beland,want ‘n president kan net verkies word as hy op dié gesag is?Hy was al voor 1994 op die uitvoerende gesag,tensy iemand hom toe beinvloed het,waarvan die ander nie geweet het nie.

Goldy ·

Hierdie mense het gladnie die insig om aan iets beters as die ANC te kan dink nie, hulle het nie begrip om aan verkiesings deel te neem nie. Demokrasie werk nie in sekere plakke nie.

Amelia ·

Di stem saam wat skerm mbeki so rampie is daar alweer n rokie

Henker ·

Ja nee, dood het ook altyd n oorsaak.
Baie stories, gooi nou skielik wal dat dit bars.

Leona ·

Dit us blood n politieke skuuf om die aandag af te trek van van die verkiesing. Kyk .ooi na due tyd “werk” hulle weer saam.

koos ·

Dis nou ‘n ding van die huidige regime en al hulle burgers/ voters – hulle dink hulle is helldrivers maar hulle kan nie eers loshande op ‘n toilet sit nie.

Onnie ·

Moenie nou maak as of dit een of ander slim plan was nie, hulle was net gewoonweg te sleg of te dom om die werk behoorlik te doen.

Papsak ·

Mbehki julle almal wolwe in skaap klere kan julle nie vertrou nie julle kom uit tronke en word sommer presidente daarom lyk SA so vandag julle skuld eindlik ???????

Johannes ·

Mbeki sal nou so sê want hy en Cyril is altwee deel van iluminati wat gehelp het om Zuma uit te skop omdat hy nie wou doen wat hulle gevra het om te doen. So waar is demokrasie

Pieter ·

Nou waarom is hy toegelaat om te lei? Almal weet die obvious, maar daar is nie een “leier” wat werklik vir SA opstaan… Nee kom ons maak hom pressie en dan skep ons almal lekker!!!! Julle is almal skuldig aan wat ek sal se dieselfde is as “terrorisme” teen SA burgers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.