‘n Poging om ʼn wêreldrekord te breek deur meer as 20 miljoen mense te kry om die liedjie Happy Birthday aan voormalige president Nelson Mandela te sing, is Dinsdag aangekondig.
“Ons hoop om hierdie jaar die Guinness Book of World Records te haal wanneer meer as 20 miljoen Suid-Afrikaners saamsing,” het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en LeadSA in ʼn verklaring gesê. “Ons wil die volk aanmoedig om deel te neem.” Die departement en die burgerlikedeelname-groep het verlede jaar miljoene skoolkinders oorgehaal om 08:00 die oggend vir Mandela te sing. Yusuf Abramjee, woordvoerder van LeadSA, sê hy is vol vertroue dat die publiek hul liefde en waardering aan Mandela sal toon deur op Woensdag, 18 Julie, saam te sing. Dit is Mandela se 94ste verjaarsdag. “Saam die miljoene skoolkinders wil ons hê mense in kantore, fabrieke en op straat moet saamsing…” Die SHOUT Foundation, ʼn beweging wat hom toespits om misdaad te bekamp, het reeds 94 sangers oorgehaal om die liedjie op te neem sodat dit voor die verjaarsdag versprei kan word. -SAPA