Die meisie wat ʼn vermeende satanieseritueel-aanval in 2011 oorleef het, was glo histeries agterna en het onder ʼn bed weggekruip, het die hooggeregshof-sitting Woensdag in die Palm Ridge-landdroshof gehoor.
Kirsty Theologo, die meisie wat na die aanval gesterf het, se 17-jarige broer het Woensdag in die hofsaak getuig. Hy sê sy sussie se vriendin het verby hom in Theologo se kamer ingehardloop om onder die bed weg te kruip. Die vriendin was ten tye van die aanval 14 jaar oud. Sy is nou 16. “Sy het onhoorbaar gemompel en roggelgeluide gemaak. Sy het irrasioneel opgetree,” het Theologo se broer gesê.
Hy sê die meisie het kneusplekke aan haar arm gehad en was gedeeltelik gebrand.
Theologo en die vriendin is in 2011 in ʼn vermeende sataniese ritueel op ʼn koppie in die suide van Johannesburg aan die brand gesteek. Drie mans en ʼn tienerjarige meisie, die beskuldigdes in die saak, het onskuldig gepleit op alle aanklagte.
Harvey Isha, Robin Harwood, Lindon Wagner en Courtney Daniels, wat tydens die aanval minderjarig was, staar aanklagte van moord, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig.
Theologo se broer getuig dat sy suster net ná middernag op die aand van die aanval van die koppie af teruggekeer het. Hy het ʼn harde geluid in die kombuis gehoor en ondersoek gaan instel. Die knip aan die kombuisdeur was gebreek. Hy het sy sussie deur die deur sien inkom. Sy het haar vriendin op haar rug gedra. Hy sê Theologo het by die wasbak gestaan en probeer om haarself af te spoel, toe die vriendin verby hom na die slaapkamer gehardloop het.
Theologo se ma het vroeër getuig dat die vriendin soos ʼn dogter vir haar was. Sy het gesê die vriendin het Theologo by die huis kom haal sodat hulle die Vrydag ʼn jeugdiens by ʼn kerk kon bywoon. Toe sy haar dogter vra wat gebeur het, het sy gesê: “Mamma, hulle het petrol oor my uitgegooi. Hulle het my aan die brand gesteek.”
Sy het bygevoeg dat Theologo trots was daarop dat die aanvallers nie haar broek uitgetrek het nie.
Jacques Smith, ʼn staatsgetuie, het aan die hof gesê dat hy saam met Theologo, haar vriendin, die vier beskuldigdes en ander mense was voor die aanval. Hy sê die groep het ingestem om die jeugbyeenkoms die Vrydagaand by die kerk by te woon, maar het later besluit dat hulle eerder by die koppie sal gaan drink. Smith sê hy het die groep verlaat voordat hulle by die koppie aangekom het. Hy sê die vier verdagtes en twee ander mans, wat skuldig bevind is aan dieselfde misdaad, was in swart geklee.
Smith sê hy het in een van die sakke, wat aan een van die beskuldigdes behoort het, geloer en ʼn lang dun tou, kerse en ʼn bottel skoon alkohol, wat hy vir vodka aangesien het, opgemerk. Hy het die groep verlaat omdat hy nie vir sy ouers wou jok oor die jeugdiens nie. Hy het aan die hof gesê hy is omstreeks 22:30 daar weg.
Theologo se ma het vroeër aan die hof gesê sy was bewus daarvan dat haar dogter dagga gerook en alkohol gebruik het. “My dogter het marijuana gerook, maar het nie van die erger dwelmmiddels gehou nie. Ek weet nie wat hulle [die verdagtes] gerook het nie,” het sy gesê.
Sy het gesê sy was kwaad vir die beskuldigdes, aangesien sy gedink het hulle ʼn goeie invloed op haar kind sou wees, omdat hulle “goeie” mense was. Sy het gesê sy is nie bereid om ʼn verskoningsbrief van een van die beskuldigdes te aanvaar nie. “Ek sal nie ʼn verskoning aanvaar nie. Ek wil niks buiten geregtigheid hê nie,” het sy gesê.
Die oorlewende slagoffer se ma het Donderdag getuig dat haar dogter vir nagenoeg vier maande lank, weens haar beserings, nie kon bad nie. “Sy kon vir ongeveer vier maande lank nie eers bad nie. Sy is nie in water toegelaat nie,” het haar ma gesê. Sy moes glo hospitaalbehandeling en verdere rehabilitasie ondergaan om die brandwonde aan haar nek en tot by haar ken, haar rug en arms te behandel.
Die ma sê haar dogter moet nóg plastiese snykunde ondergaan om die brandwonde te behandel. “Haar vel is verhewe, maar hulle kan die vel glo platstryk.”
Haar dogter is selfbewus oor haar voorkoms en probeer die letsels met serpe wegsteek.
Die meisie het Donderdag net na haar ma begin getuig.
Die saak duur voort.
Dis kommerwekkend, die ongelooflike hoe persentasie jeugdiges wat betrokke is in satanisme. Dekades gelede is `n `coven` alreeds `ontdek` in `n stormwaterpyp in Florida. Die hoe-priesteres was 12 jaar oud. Onlangs was daar `n berig vd ontdekking van `n satanistiese`coven` in `n stormwaterpyp in Florida!? Ou nuus het weer nuut geword. Jare gelede het 2 jong seuntjies, 4 jaar en 7jaar oud, sataniese tekensen slagspreek-graffiti op `n skoolmuur gespuitverf in Witpoortjie, Roodepoort.. Mense deesdae draai weg van GOD af maar erken satan en sy bedrywighede? GOD word misken, maar satan word erken? Lourens Groenewald. Die Siel Mechanic.