Ses skoolkinders en een volwassene is Dinsdagmiddag dood nadat die bakkie waarin hulle gery omgeslaan het op die R617 tussen Bulwer en Underberg in KwaZulu-Natal.
Derrick Banks, woordvoerder van ER24, sê die bakkie het verskeie kere gerol nadat dit omgeslaan het. Banks sê ses skoolkinders en een volwassene het reeds aan hul beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar. Hy sê dertien ander kinders het ernstige beserings opgedoen en is na nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.